Dit was te vreeslik. Daar was nie een oomblik van stilte en vrede nie. Hulle het almal tegelyk te kere gegaan.
Ek het toe gewonder of seuns en dogters nie ook in twee sulke groepe geklassifiseer kan word nie.
Sommige is stil, waardig, betroubaar, en hulle hou ook van 'n bietjie speel so nou en dan, maar sodra dit verby is, gaan hulle sommer weer dadelik aan met hulle werk. Seuns en dogters met hierdie geaardheid dink baie en praat min. Hulle sal liewer 'n goeie boek lees as om lawwe stories te vertel. Soos daardie groot honde mag hulle af en toe een maal blaf, maar hulle sal nie soos die kleintjies aaneen 'jap-jap' nie.
Die ander - wel, wie ken hulle soort nie? Hulle is in die meerderheid net soos daar ook baie meer klein hondjies as grotes is.
En, o, hoe kan hulle nie raas nie! 'n Mens hoor hulle op die trein, die bus, die tennisbaan, die voetbalveld, orals!
Is dit nie steurend nie?
Oor alles stry hulle. As hulle moet veldwerk doen, wil hulle juis kolf; wanneer hulle uitgevang is, sal hulle sê dat hulle nooit aan die bal geraak het nie. En as hulle meisies is, sal hulle hulle doodmoeg praat oor filmsterre, die jongste modes, of die nuutste haarkapsels.
Ons ken almal daardie soort.
Groot hond of klein hondjie, watter soort wil julle graag wees?
Behoort julle op die boonste verdieping of op die onderste?