www.myvolk.co.za

Vandag in die Geskiedenis: 21 Mei 1919

Eerste uitgawe van Landbouweekblad

Die Landbouweekblad, gewilde weeklikse tydskrif vir die boer, word deur die Nasionale Pers uitgegee met die hoofkantoor in Kaapstad. Die tydskrif het tot stand gekom in ’n tyd toe die Suid-Afrikaanse boer as gevolg van droogte byna op sy knieë was en is ten volle aan die landbou toegewy. 

Dit word so ingeklee dat hy ’n wye spektrum van lesers van albei geslagte en alle ouderdomme sowel op die platteland as in die stedelike gebiede bedien. Van sy eerste uitgawe, onder dr. FB Geldenhuys as grondliggende redakteur, het hy gegroei tot Suid-Afrika se grootste landbou-tydskrif in enige taal, met ’n kwart miljoen lesers hoofsaaklik in die Republiek, SWA en Rhodesië, maar ook elders. 

Toenemend gewild as handboek van die boer en sy hele gesin, word dit vandag deur 71% van alle boere en 82% van alle Afrikaanssprekende boere in Suid-Afrika gelees. Tipografies geniet die tydskrif, wat soms meer as 200 bladsye beslaan, die beste versorging, en met sy landbou-joernalistiek, neem hy ’n toonaangewende plek in, met nog groter moontlikhede vir die toekoms.

Posted 5 days ago

Vandag in die Geskiedenis: 20 Mei 1900

Slag by Scheepersnek

In hul opmars deur Natal, nadat Ladysmith op 1 Maart 1900 ontset is, sou die meeste Boere na Transvaal terugval, maar ’n aantal burgers onder bevel van genl. Chris Botha sou na die ooste uitwyk en Buller se magte in die flank lastig val. Kol. EC Bethune se magte is toe gelas om die Boere in die omgewing van Nqutu, wes van Vryheid, te verdryf. 

Toe hy hulle nie daar aantref nie, is verneem dat hulle hul aan die Bloedrivier, suid van Vryheid, bevind. ’n Eskadron van Bethune se ruitery onder kapt. Goff het taamlik ver vooruitgery, maar is by Scheepersnek, ’n moeilike deurgang, 10 km suidwes van Vryheid, op 20 Mei 1900 in ’n hinderlaag gelei. Goff en sowat 30 is gedood, 30 gewond en ses Tommies gevange geneem. Die geveg was oor voordat die hoofmag opgedaag het, maar dit het Bethune in ieder geval gedwing om na Nqutu vir voorrade terug te val voordat verder opgetree kon word.

Posted 5 days ago

Vandag in die Geskiedenis: 17 Mei 1787

Prof. UG Lauts gebore

Ulrich Gerhard Lauts, gebore in Amsterdam, Nederland, was agtereenvolgens sakeman, staatsamptenaar en akademikus en ’n leiersfiguur met ’n lewende belangstelling in die handel, tale, letterkunde en geskiedenis, en was die vader van die pro-Boerebeweging in Nederland. 

Toe daar in die veertigerjare van die vorige eeu roepstemme om steun van die Hollands-Afrikaanse inwoners van SA in Nederland gehoor is, was Lauts op die voorpunt om simpatiek daarop te reageer. Tot met sy afsterwe op 25 Julie 1865 in Utrecht, Nederland, het hy ’n belangrike deel van sy lewe gewy aan die verlening van morele en geestelike steun aan die Voortrekkers en aan stamverwante in die Kaapkolonie. 

Hy het sy deel ruimskoots bygedra tot die opbou en ontwikkeling van Transvaal en die Oranje-Vrystaat.

Posted 5 days ago

Vandag in die Geskiedenis: 18 Mei 1964

Harm Oost oorlede

Harm Oost was een van die kleurrykste persoonlikhede in die wordingsgeskiedenis van die Afrikanervolk. Hy is in 1877 in Oostwald, Groningen, Nederland gebore. 

In die laat negentigerjare het hy na Suid-Afrika geëmigreer, hom in Transvaal gevestig en hom dadelik met die Boerevolk en sy Republikeinse staatsvorm vereenselwig. In die Anglo-Boereoorlog is hy gevange geneem nadat hy gehelp het om die Modderrivier-brug op te blaas – ’n daad wat hom amper voor die vuurpeloton laat beland het.

Posted 5 days ago

Vandag in die Geskiedenis: 17 Mei 1900

Mafeking ontset

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was daar reeds ’n klein Britse mag onder kol. RS Baden-Powell op Mafeking. Die Transvaalse kommando’s wat aan die wesfront sou opereer, het onder bevel van genl. PA Cronjé gestaan. Hoewel dit vir Cronjé betreklik maklik sou gewees het om die klein Britse mag op Mafeking met ’n stormaanval te verower, het hy besluit om die dorp te beleër. Dit was geen wyse besluit nie, want daardeur het ’n groot aantal burgers op nuttelose wyse rondom Mafeking gelê, terwyl Baden-Powell vasbeslote was om nie te kapituleer nie. 

Teen die einde van November 1899 het Cronjé met ’n groot aantal burgers na Modderrivier vertrek en die beleg van Mafeking aan genl. JP Snyman oorgelaat. Die eerste aanval op die dorp het eers in April 1900 onder aanvoering van vk. Sarel Eloff plaasgevind, maar was onsuksesvol. Op hierdie dag is die beleg opgehef omdat ’n Britse versterkingsmag uit die suide opgedaag het. Vir Brittanje was dit ’n morele oorwinning.

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 16 Mei 1842

Melt Brink gebore

Melt Jacobus Brink is in Kaapstad gebore en sterf daar op 3 September 1925. Hierdie gewilde Afrikaanse Vader Cats, wat ’n kultuurfaktor van groot betekenis in sy eie tyd was en ’n skakel vorm tussen die Hooghollands waaruit hy spruit en die Afrikaans waartoe hy geleidelik oorgaan, se letterkundige werksaamhede bestaan uit ’n groot aantal toneelstukke en digbundels, waaronder sewe bundels Grappige stories en ander Versies (1893 tot 1909), Reis naar Kaapstad van Oom Gijsbert van Graan (1904), Die storie van Klaas Windvoël, Die ou Hotnot (1910) en drie bundels Nationale en Afrikaanse gedigte in Kaaps-Hollands (1916 tot 1920).

Posted 1 week ago

Slaaptyd Stories: Mabel help haar Pappie

Pappie was onder in die tuin besig om ertjies te plant. Hy het die rye sorgvuldig gemaak, sodat die ertjies in mooi, reguit rye kon staan.

Mabel het gestaan en kyk wat haar Pappie doen, en toe het sy besluit om ook ertjies te plan. Sy het haar grafie gevat en ‘n gat in die grond gegrawe. Daarna het sy na haar Pappie gegaan en gesê: “Pappie, gee my asseblief ook ertjies om te plant.”

Haar Pappie het toe van die saad vir haar gegee, en Mabel het hulle in die groot gat gegooi wat sy gegrawe het, en toe het sy hulle met die grond teogegooi. Pappie het omgekyk om te sien wat sy maak, en hy het gesê; “Nee, kindjie, jy het daardie ertjies te diep geplant; hulle sal nooit kan opkom nie.”

“Hulle sal opkom,” het sy gesê, “maar ek sal nog meer plant vir geval hulle miskien nie opkom nie.” Maar haar Pappie het toe reeds al sy saad geplant, en Mabel was baie teleurgestel. En hoe dink julle wat het sy toe gedoen? Julle sal nooit raai nie.

Wel, toe haar Pappie nie gekyk het nie, het sy gegaan na die ry wat hy klaar geplant het, en van die ertjies uitgegrawe. Op daardie oomblik het Pappie omgekyk en gesê; “Jou stoute kind! Wat maak jy daar?”

“Ek haal die ertjies uit,” het Mabel gesê, “want ek het nie genoeg gehad nie.”

“Wil jy nou meer!” het Pappie gesê. “Sal sy nie mooi my ertjies gaan opgrawe nie. Jy is baie stout, Mabel.”

“Maar hulle sal hier net so goed groei as daar,” het Mabel gesê, terwyl sy nog 'n diep gat grawe en die ertjies  wat sy uit haar Pappie se ry gegrawe het, daarin gooi.

“O nee, hulle sal nie,” het Pappie gesê. “Jy moet noit weer goed neem wat nie aan jou behoort nie. As jy die saad laat staan het waar hulle was, sou hulle baie mooi gegroei het, maar nou sal hulle nie groei nie.”

'n Paar weke later was Mabel en haar Pappie weer in die tuin. “Wat 'n mooi ry ertjies,” het Mabel gesê. “Ja”, maar dit is bederf deur daardie gaping, is dit nie?“

"Ja,” het Mabel gesê, “is dit waar ek die saad uitgegrawe het?”

“Dit is”, het Pappie gesê, “en waar is daardie ertjies nou?”

“Ek kan hulle nêrens sien nie,” het Mabel gesê. “Nee,” het Pappie gesê, “en jy sal hulle ook nooit sien nie. 'n Mens win nooit iets as jy stout is nie. Ek dink het het onder toe gegroei.”

En hulle het ook.

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 14 Mei 1965

Kootjie van den Heever oorlede

Abraham Jacobus van den Heever, jonger broer van CM van den Heever, is op 16 November 1906 op Poortjie, Trompsburg, gebore. Hy matrikuleer op Reddersburg, en nadat hy ’n paar jaar onderwys gegee het, studeer hy aan die GUK, waarna hy as joernalis by Die Volksblad en Die Suiderstem werk. 

Hy is ’n tyd lank lektor by die Witwatersrandse Universiteit en voordat ’n sonderlinge siekte hom plattrek, redakteur van die Boerdery-Jaarblad. In 1936 verskyn Vlugtige skaduwees, sy eerste bundel verhale. Sy verdienstelikste werke is die Kleurlingverhaal Wraak en Danie se droom (1940). Laasgenoemde vergestalt die emosionele lewe van ’n plaasseun. Skagte (1942) gee ’n beeld van die mynwerkerslewe in Johannesburg. 

Hy het baie geskryf; enkele van sy ander werke is: Merke van die dae (1940), Vreemde vertes (1941), Gebroke lig (1942), Wie ’n ander jaag (1942), Brakgrond (1943), Geslote lewens (1945) en Die waters wat roep (1948).

Posted 3 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 13 Mei 1947

Prof. NJ Brümmer oorlede

Toe Nicolaas Johannes Brümmer, wat op 27 Julie 1866 op Prospect, Dordrecht, gebore is, in sy 81ste lewensjaar te sterwe kom, was hy ’n bekende hoogleraar, skrywer, kultuurleier en leraar van die NG Kerk. Gedurende sy gemeentebediening (1899 tot 1911) was hy een van die eerstes wat erns met die armblankevraagstuk maak. 

Hy onderskei hom as kultuurleier, wat ook die pen met ’n vaardige hand hanteer. As student redigeer hy in 1893 die eerste uitgawe van die latere studenteblad van Stellenbosch. Sy bekende lesing voor die studente alhier, Die Afrikanernasie, verskyn aanvanklik in die kultuurblad Goede Hoop – waarvan hy redakteur word (1914 tot 1930). Hy het deel aan die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging (1906) en word later voorsitter daarvan; die oprigting van die tydskrif Ons Taal (1907 tot 1909); die opstel van die spelreëls (deur die ATV in 1909) en die totstandkoming van die Zuid-Afrikaanse Akademie van Taal, Letteren en Kunst. 

Een en dertig jaar lank (vanaf 1911) is hy professor in Wysbegeerte, eers aan die Victoria-kollege en toe aan die Universiteit van Stellenbosch – wat hy help om tot stand te bring. Onberekenbaar is sy invloed op die honderde leraars van die NG Kerk wat in hulle voorstudie aan sy voete is.

Posted 3 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 12 Mei 1652

Eerste Nagmaalsviering in die gemeente van Kaapstad

Op hierdie dag is die eerste Nagmaal aan die Kaap gevier. Jan van Riebeeck se dagregister vertel soos volg oor hierdie geleentheid: “… is alhier in’t noch onvolmaeckte fortjen staende, door Domine Backerius, predikant per den Walvis hier gecomen, d’eerst5e predicatie gedaen, ende het avondmael des Heeren gecelebreert.” Hierdie geleentheid wys reeds daarop dat die Nagmaal vir die wordende volk altyd van groot belang sou wees. 

Die Afrikaner het altyd alles in sy vermoë gedoen om geen Nagmaalsviering mis te loop nie. Dit was, benewens ’n kerklike viering, ook ’n belangrike sosiale geleentheid, veral later in die afgesonderde binneland. Jan van Riebeeck versuim ook nie om die eerste geleentheid waar ’n predikant die jong gemeente besoek, te benut vir die bediening van die Nagmaal nie. 

Reeds hiervandaan spruit die strenge godsdienssin van die Afrikaner wat later in die binneland vir hom as rigsnoer sou dien.

Posted 3 weeks ago

Theophilus Ebenhaezer (Eben) Dönges

Posted by Paul Joubert on Thursday, June 4, 2015 Under: Só onthou ek Suid-Afrika

Theophilus Ebenhaezer (Eben) Dönges (Klerksdorp, Transvaal, 8 Maart 1898 – Kaapstad 10 Januarie 1968 was ’n Suid-Afrikaanse politikus, koerantman, advokaat en kultuurleier. Dönges was die seun van eerw. Theophilus Christiaan Dönges en Cornelia Hendrika Appeldoorn Cruywagen. Hy het in Kroonstad en Boshof skoolgegaan en het in 1915 aan die Hoërskool Robertson gematrikuleer. Hy is vir harde werk beloon met die Thomas Louw beurs en is gevolglik na die Victoria-Kollege waar hy ’n aktiewe rol gespeel het in die studentelewe waar hy ondervoorsitter van die studenteraad was. 

In 1918 verwerf hy die B.A.- en in 1919 die M.A.-graad in filosofie, wat hy albei met lof geslaag het. Hierdeur word hy beloon met die Koningin Victoria-toekenning vir oorsese studie maar hy het dit nie benut nie. In 1920 het hy registrateur van die Vrystaatse Regter-president, Etienne de Villiers, in Bloemfontein geword en in die regte begin studeer. Die volgende jaar is hy na Engeland waar hy in 1922 die LL.B.-graad aan die Universiteit van Londen met lof behaal. In 1923 het hy dit opgevolg met ’n soortgelyke graad van die Universiteit van Suid-Afrika, terwyl hy aan die London School of Economics gestudeer het en deur middel van die Middle Temple tot die balie toegelaat is. Hy het aan die einde van 1923 terugkeer na Suid-Afrika en in 1925 verwerf hy die LL.D.-graad aan die Universiteit van Londen. Na sy terugkeer in Suid-Afrika het Dönges in 1924 redakteur van die nuwe weekblad van die NP, The South African Nation, geword en dit gebly tot die einde van die blad se bestaan in 1928.

Tergelykertyd was hy van Julie 1924 tot Julie 1927 assistent-hoofredakteur van Die BurgerBenewens sy dubbele redaksionele betrokkenheid is hy ook in 1924 in Pretoria tot die Transvaalse balie toegelaat en nadat hy sy werk by Die Burger bedank het, is hy in 1927 tot die Kaapse balie toegelaat. Van 1929 tot 1939 het hy as deeltydse regsadviseur vir die Kaapse Provinsiale Administrasie opgetree, hoewel hy reeds in 1937 tot die Vrystaatse Afdeling van die Hooggeregshof toegelaat is. In 1939 het hy senior advokaat geword en tot 1948 gepraktiseer. Hy was een van enkele Suid-Afrikaners wat ’n saak voor die Geheime Raad in Londen behartig het. Tesame met sy regswerk was hy ook deeltydse lektor in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die uitleg van wette gedoseer het en gespesialiseer het in die maatskappyreg.

Tydens die politieke samesmelting in 1934 tussen genls. J.B.M Hertzog en J.C. Smuts het hy die leiding van dr. D.F. Malan gevolg en met die algemene verkiesing in 1938die NP as kandidaat vir Hoopstad verteenwoordig, maar met 402 stemme teen J.H. Viljoen van die VP verloor.

Dönges was betrokke by verskeie aspekte van die politieke woelinge gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Hy was onder meer lid van ’n kommissie wat deur die AB aangewys is en onder voorsitterskap van prof. L.J. du Plessis op 4 November 1939 byeengekom het om ’n konsepgrondwet vir ’n toekomstige republiek op te stel. Die dokument het later groot spanning tussen die AB, die Herenigde Nasionale Party (Volksparty) en die Ossewa-Brandwag (OB) tot gevolg gehad.

In 1941, ná die uittrede van Hertzog en N.C. Havenga uit die politiek, het Dönges as kandidaat van die HNP in Fauresmith (Havenga se setel) gestaan en P.P. Swanepoel van die Afrikanerparty (AP) beslissend met 1 580 stemme verslaan. In 1943 het hy teen twee kandidate gewen met ’n meerderheid van 2 028 stemme. As parlementariër in die opposisiebanke het Dönges vinnig opgang gemaak en hom onderskei as die HNP se hoofwoordvoerder oor finansies. Hy het ook ’n belangrike bydrae in gekose komitees gelewer, soos die een wat ondersoek ingestel het na die "Duitse dokumente" en die Denk-geval en gehandel het oor kontak tussen Nasionaaldenkendes in Suid-Afrika en Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog.

DatumStemmePersentasieOpponent (party)Meerderheid
19 Maart 19413 51663,9%P.P. Swanepoel (AP)1 580
19433 86660,2%A.J. Tromp (VP)
J.S. Els (AP)
2 028
DatumStemmePersentasieOpponent (party)Meerderheid
19485 23353,4%P.J. de Wet (VP)718
19535 96154,8%J.G. Carinus (VP)1 136
19586 28765%G.H. Heatlie (VP)2 947
19616 83268,1%J. Dommisse (VP)3 657
1966Onbestrede--

In die stryd teen die OB het Dönges, wat aanvanklik ook lid was van dié organisasie, tydens ’n konferensie van HNP-leiers op 29 September 1941 maatreëls teengestaan wat Nasionaliste verplig het om uit die OB te bedank omdat hy gemeen het dat lede van die OB nie doelbewus van die HNP vervreem moes word nie. Nogtans het hy in dieselfde jaar uit die organisasie bedank, aangesien hy nie met die ideologie van die OB saamgestem het nie. Hy was wel een van dié wat tydens ’n vergadering van die AB in Mei 1945 geëis het dat die OB hom aan die politieke terrein moet onttrek en sy steun aan die beginsels van die HNP verleen.

Die ooreenkoms tussen die HNP en die AP het met die inisiatief van die AB tot stand gekom en dit was die rede waarom die samekoms van Malan en Havenga op 1 Maart 1947 aan huis van Dönges, wat ondervoorsitter van die AB was, plaasgevind het.

Met die algemene verkiesing van 1948 het Dönges die kiesafdeling Worester vir die HNP verower en dié kiesafdeling tot sy uittrede in 1967 vertegenwoordig. In die referendum van 1960 (om te stem vir of teen ’n republiek in die suide van Afrika) het 6 793 uit 10 215 in Worcester se kiesafdeling ten gunste van ’n republiek gestem.

Met die bewindsaanvaarding van die HNP na die oorwinning op 26 Mei 1948 is Dönges in die kabinet opgeneem as Minister van Binnelandse Sake en van Pos- en Telegraafwese. Laasgenoemde portefeulje is egter die jaar daarop vervang deur dié van Mynwese wat hy tot 1950 behartig het. Daarna het hy slegs Binnelandse Sake gehanteer tot 1958, toe hy as Minister van Finansies aangewys is. Hy het dié portefeulje beklee tot en met sy uittrede in 1967.

Op 18 November 1953 het Dönges Malan as leier van die Nasionale Party (Die HNP het sedert 1951 as die Nasionale Party bekend gestaan) in Kaapland opgevolg. Met die premiersverkiesing in 1954 is sy naam as ’n moontlike kandidaat vir die premierskap genoem, maar hy het nie belanggestel nie. Met die afsterwe van J.G. Strijdom in 1958 het hy hom wel vir die premierskap verkiesbaar gestel, C.R. Swart in die eerste stemming gewen maar teen dr. H.F. Verwoerd verloor in die volgende rondte. Na die sluipmoord op dr. Verwoerd op 6 September 1966, het hy ’n ruk lank as Waarnemende Eerste Minister opgetree.

Ná die uittrede van staatspresident C.R. Swart is Dönges deur die NP-koukus as kandidaat vir dié amp aangewys en op 23 Februarie 1967 het die parlementêre kieskollege hom as die staatshoof gekies. Hy kon egter nie op 31 Mei 1967 ingehuldig word nie omdat hy op 11 Mei 1967 breinbloeding opgedoen het en in ’n koma verval het. Op 10 Junie 1967 is ’n delikate breinoperasie op hom uitgevoer waarna sy toestand beter geword het. Op 3 Oktober 1967 het hy egter ’n beroerte gekry en was so swak daarna dat sy regsverteenwoordiger in Desember namens hom sy bedanking as aangewese staatspresident moes indien. Dönges het hom deurentyd beywer vir die Afrikanersaak en op politieke, kulturele en ekonomiese gebied diep spore getrap deur leiding te gee in die opheffing van sy volk wat in vele opsigte nog tweede viool moes speel teen die Engelse.

Hierna het hy egter ’n tyd lank op die voorpunt van kulturele en ekonomiese gebeure beweeg. Hy het ’n prominente rol in die Afrikaner-Broederbond en die FAK gespeel en in die veertigerjare gevorder tot ondervoorsitter van albei organisasies. Toe die Eerste Ekonomiese Volkskongres van 3 tot 5 Oktober 1939 in Bloemfontein vergader, het hy die referaat Die mobilisering van die kapitaal- en spaarkrag van die Afrikaner gelewer. Met die stigting van die Ekonomiese Instituut op 1 Desember 1939, wat ’n uitvloeisel van die Volkskongres was, is Dönges vanweë sy kennis opgeneem in die dagbestuur wat moes toesig hou oor die fondse van die Reddingsdaadbond, waarvan hy ’n stigterslid sowel as lid van die uitvoerende raad was. Met die ontstaan van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) in 1942 het hy in die uitvoerende raad van dié liggaam gedien, terwyl hy eweneens ’n stigters- en direksielid van Federalde Volksbeleggings was.

Benewens bogenoemde, was Dönges ook voorsitter van die Kaapstadse Skakelkomitee van Afrikaanse Kultuurverenigings en in 1948 ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasseaangeleenthede (Sabra). Hy was verder ook lid van die Sentrale Monumentekommissie (voorloper van die Raad van Nasionale Gedenkwaardighede), lid van die sentrale komitee van die Afrirkaanse Taalmonument en Taalstudiefonds, van 1963 af erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en van 1959 tot 1968 kanselier van die Universiteit van Stellenbosch. Hy het ook in die direksie van die Nasionale Pers, Voortrekkerpers en New Era gedien.

Op sportgebied het Dönges graag rugby, tennis, krieket en gholf gespeel. As student was hy die kaptein van die Universiteit van Stellenbosch se krieketspan en later ook ’n paar jaar lank kaptein van die parlement se krieketspan.

Dönges is op 10 Januarie 1968 ná agt maande in die Groote Schuur-hospitaal oorlede. Hy is met staatseerbetoon vanuit die Groote Kerk in Kaapstad, waar hy vir sessie jaar as diaken en ouderling gedien het, op 15 Januarie 1968 begrawe met die teraardebestelling in Stellenbosch.

In 1959 het die Universiteit van Stellenbosch aan hom ’n ere-LL.D.-graad toegeken. In 1969, ’n jaar na sy dood is sy nagedagtenis geëer deur ’n afbeelding van hom wat op die eenrandmuntstuk van daardie jaar aangebring is. In Kraaifontein is die Hoërskool Eben Dönges na hom genoem en op Bothaville die Primêre Skool Eben Dönges. Op Worcester is die Eben Dönges-hospitaal (nou die Worcester-hospitaal) ook na hom genoem. In Benoni is daar ’n Voortrekkerkommando wat sy naam dra.

Dönges is op 30 September 1926 getroud met Johanna Catharina Louisa (Billie) Schoeman, dogter van J.H. Schoeman, Volksraadslid vir Oudtshoorn, en twee dogters is uit die huwelik gebore.

Boeke uit sy pen:

The liability for safe carriage of goods in Roman Dutch law (1928)

Municipal law (1940) saam met regter L. de V. van Winsen

Die toekomsrol van die Reddingsdaadbond in ons ekonomiese lewe (1943)

The new South African citizenship (1949)

The greater issue behind the dispute over South-West Africa – South Africa’s appeal to UNO (1952)

Die Afrikaanse gedagte en die draers daarvan (1953)

In : Só onthou ek Suid-Afrika 


Tags: eben donges  staatspresident  eerste minister  sa leiers  suid-afrikaanse leiers 
www.myvolk.co.za Logo