www.myvolk.co.za

Vandag in die Geskiedenis: 21 Mei 1919

Eerste uitgawe van Landbouweekblad

Die Landbouweekblad, gewilde weeklikse tydskrif vir die boer, word deur die Nasionale Pers uitgegee met die hoofkantoor in Kaapstad. Die tydskrif het tot stand gekom in ’n tyd toe die Suid-Afrikaanse boer as gevolg van droogte byna op sy knieë was en is ten volle aan die landbou toegewy. 

Dit word so ingeklee dat hy ’n wye spektrum van lesers van albei geslagte en alle ouderdomme sowel op die platteland as in die stedelike gebiede bedien. Van sy eerste uitgawe, onder dr. FB Geldenhuys as grondliggende redakteur, het hy gegroei tot Suid-Afrika se grootste landbou-tydskrif in enige taal, met ’n kwart miljoen lesers hoofsaaklik in die Republiek, SWA en Rhodesië, maar ook elders. 

Toenemend gewild as handboek van die boer en sy hele gesin, word dit vandag deur 71% van alle boere en 82% van alle Afrikaanssprekende boere in Suid-Afrika gelees. Tipografies geniet die tydskrif, wat soms meer as 200 bladsye beslaan, die beste versorging, en met sy landbou-joernalistiek, neem hy ’n toonaangewende plek in, met nog groter moontlikhede vir die toekoms.

Posted 5 days ago

Vandag in die Geskiedenis: 20 Mei 1900

Slag by Scheepersnek

In hul opmars deur Natal, nadat Ladysmith op 1 Maart 1900 ontset is, sou die meeste Boere na Transvaal terugval, maar ’n aantal burgers onder bevel van genl. Chris Botha sou na die ooste uitwyk en Buller se magte in die flank lastig val. Kol. EC Bethune se magte is toe gelas om die Boere in die omgewing van Nqutu, wes van Vryheid, te verdryf. 

Toe hy hulle nie daar aantref nie, is verneem dat hulle hul aan die Bloedrivier, suid van Vryheid, bevind. ’n Eskadron van Bethune se ruitery onder kapt. Goff het taamlik ver vooruitgery, maar is by Scheepersnek, ’n moeilike deurgang, 10 km suidwes van Vryheid, op 20 Mei 1900 in ’n hinderlaag gelei. Goff en sowat 30 is gedood, 30 gewond en ses Tommies gevange geneem. Die geveg was oor voordat die hoofmag opgedaag het, maar dit het Bethune in ieder geval gedwing om na Nqutu vir voorrade terug te val voordat verder opgetree kon word.

Posted 5 days ago

Vandag in die Geskiedenis: 17 Mei 1787

Prof. UG Lauts gebore

Ulrich Gerhard Lauts, gebore in Amsterdam, Nederland, was agtereenvolgens sakeman, staatsamptenaar en akademikus en ’n leiersfiguur met ’n lewende belangstelling in die handel, tale, letterkunde en geskiedenis, en was die vader van die pro-Boerebeweging in Nederland. 

Toe daar in die veertigerjare van die vorige eeu roepstemme om steun van die Hollands-Afrikaanse inwoners van SA in Nederland gehoor is, was Lauts op die voorpunt om simpatiek daarop te reageer. Tot met sy afsterwe op 25 Julie 1865 in Utrecht, Nederland, het hy ’n belangrike deel van sy lewe gewy aan die verlening van morele en geestelike steun aan die Voortrekkers en aan stamverwante in die Kaapkolonie. 

Hy het sy deel ruimskoots bygedra tot die opbou en ontwikkeling van Transvaal en die Oranje-Vrystaat.

Posted 5 days ago

Vandag in die Geskiedenis: 18 Mei 1964

Harm Oost oorlede

Harm Oost was een van die kleurrykste persoonlikhede in die wordingsgeskiedenis van die Afrikanervolk. Hy is in 1877 in Oostwald, Groningen, Nederland gebore. 

In die laat negentigerjare het hy na Suid-Afrika geëmigreer, hom in Transvaal gevestig en hom dadelik met die Boerevolk en sy Republikeinse staatsvorm vereenselwig. In die Anglo-Boereoorlog is hy gevange geneem nadat hy gehelp het om die Modderrivier-brug op te blaas – ’n daad wat hom amper voor die vuurpeloton laat beland het.

Posted 5 days ago

Vandag in die Geskiedenis: 17 Mei 1900

Mafeking ontset

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was daar reeds ’n klein Britse mag onder kol. RS Baden-Powell op Mafeking. Die Transvaalse kommando’s wat aan die wesfront sou opereer, het onder bevel van genl. PA Cronjé gestaan. Hoewel dit vir Cronjé betreklik maklik sou gewees het om die klein Britse mag op Mafeking met ’n stormaanval te verower, het hy besluit om die dorp te beleër. Dit was geen wyse besluit nie, want daardeur het ’n groot aantal burgers op nuttelose wyse rondom Mafeking gelê, terwyl Baden-Powell vasbeslote was om nie te kapituleer nie. 

Teen die einde van November 1899 het Cronjé met ’n groot aantal burgers na Modderrivier vertrek en die beleg van Mafeking aan genl. JP Snyman oorgelaat. Die eerste aanval op die dorp het eers in April 1900 onder aanvoering van vk. Sarel Eloff plaasgevind, maar was onsuksesvol. Op hierdie dag is die beleg opgehef omdat ’n Britse versterkingsmag uit die suide opgedaag het. Vir Brittanje was dit ’n morele oorwinning.

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 16 Mei 1842

Melt Brink gebore

Melt Jacobus Brink is in Kaapstad gebore en sterf daar op 3 September 1925. Hierdie gewilde Afrikaanse Vader Cats, wat ’n kultuurfaktor van groot betekenis in sy eie tyd was en ’n skakel vorm tussen die Hooghollands waaruit hy spruit en die Afrikaans waartoe hy geleidelik oorgaan, se letterkundige werksaamhede bestaan uit ’n groot aantal toneelstukke en digbundels, waaronder sewe bundels Grappige stories en ander Versies (1893 tot 1909), Reis naar Kaapstad van Oom Gijsbert van Graan (1904), Die storie van Klaas Windvoël, Die ou Hotnot (1910) en drie bundels Nationale en Afrikaanse gedigte in Kaaps-Hollands (1916 tot 1920).

Posted 1 week ago

Slaaptyd Stories: Mabel help haar Pappie

Pappie was onder in die tuin besig om ertjies te plant. Hy het die rye sorgvuldig gemaak, sodat die ertjies in mooi, reguit rye kon staan.

Mabel het gestaan en kyk wat haar Pappie doen, en toe het sy besluit om ook ertjies te plan. Sy het haar grafie gevat en ‘n gat in die grond gegrawe. Daarna het sy na haar Pappie gegaan en gesê: “Pappie, gee my asseblief ook ertjies om te plant.”

Haar Pappie het toe van die saad vir haar gegee, en Mabel het hulle in die groot gat gegooi wat sy gegrawe het, en toe het sy hulle met die grond teogegooi. Pappie het omgekyk om te sien wat sy maak, en hy het gesê; “Nee, kindjie, jy het daardie ertjies te diep geplant; hulle sal nooit kan opkom nie.”

“Hulle sal opkom,” het sy gesê, “maar ek sal nog meer plant vir geval hulle miskien nie opkom nie.” Maar haar Pappie het toe reeds al sy saad geplant, en Mabel was baie teleurgestel. En hoe dink julle wat het sy toe gedoen? Julle sal nooit raai nie.

Wel, toe haar Pappie nie gekyk het nie, het sy gegaan na die ry wat hy klaar geplant het, en van die ertjies uitgegrawe. Op daardie oomblik het Pappie omgekyk en gesê; “Jou stoute kind! Wat maak jy daar?”

“Ek haal die ertjies uit,” het Mabel gesê, “want ek het nie genoeg gehad nie.”

“Wil jy nou meer!” het Pappie gesê. “Sal sy nie mooi my ertjies gaan opgrawe nie. Jy is baie stout, Mabel.”

“Maar hulle sal hier net so goed groei as daar,” het Mabel gesê, terwyl sy nog 'n diep gat grawe en die ertjies  wat sy uit haar Pappie se ry gegrawe het, daarin gooi.

“O nee, hulle sal nie,” het Pappie gesê. “Jy moet noit weer goed neem wat nie aan jou behoort nie. As jy die saad laat staan het waar hulle was, sou hulle baie mooi gegroei het, maar nou sal hulle nie groei nie.”

'n Paar weke later was Mabel en haar Pappie weer in die tuin. “Wat 'n mooi ry ertjies,” het Mabel gesê. “Ja”, maar dit is bederf deur daardie gaping, is dit nie?“

"Ja,” het Mabel gesê, “is dit waar ek die saad uitgegrawe het?”

“Dit is”, het Pappie gesê, “en waar is daardie ertjies nou?”

“Ek kan hulle nêrens sien nie,” het Mabel gesê. “Nee,” het Pappie gesê, “en jy sal hulle ook nooit sien nie. 'n Mens win nooit iets as jy stout is nie. Ek dink het het onder toe gegroei.”

En hulle het ook.

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell

Posted 1 week ago

Vandag in die Geskiedenis: 14 Mei 1965

Kootjie van den Heever oorlede

Abraham Jacobus van den Heever, jonger broer van CM van den Heever, is op 16 November 1906 op Poortjie, Trompsburg, gebore. Hy matrikuleer op Reddersburg, en nadat hy ’n paar jaar onderwys gegee het, studeer hy aan die GUK, waarna hy as joernalis by Die Volksblad en Die Suiderstem werk. 

Hy is ’n tyd lank lektor by die Witwatersrandse Universiteit en voordat ’n sonderlinge siekte hom plattrek, redakteur van die Boerdery-Jaarblad. In 1936 verskyn Vlugtige skaduwees, sy eerste bundel verhale. Sy verdienstelikste werke is die Kleurlingverhaal Wraak en Danie se droom (1940). Laasgenoemde vergestalt die emosionele lewe van ’n plaasseun. Skagte (1942) gee ’n beeld van die mynwerkerslewe in Johannesburg. 

Hy het baie geskryf; enkele van sy ander werke is: Merke van die dae (1940), Vreemde vertes (1941), Gebroke lig (1942), Wie ’n ander jaag (1942), Brakgrond (1943), Geslote lewens (1945) en Die waters wat roep (1948).

Posted 3 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 13 Mei 1947

Prof. NJ Brümmer oorlede

Toe Nicolaas Johannes Brümmer, wat op 27 Julie 1866 op Prospect, Dordrecht, gebore is, in sy 81ste lewensjaar te sterwe kom, was hy ’n bekende hoogleraar, skrywer, kultuurleier en leraar van die NG Kerk. Gedurende sy gemeentebediening (1899 tot 1911) was hy een van die eerstes wat erns met die armblankevraagstuk maak. 

Hy onderskei hom as kultuurleier, wat ook die pen met ’n vaardige hand hanteer. As student redigeer hy in 1893 die eerste uitgawe van die latere studenteblad van Stellenbosch. Sy bekende lesing voor die studente alhier, Die Afrikanernasie, verskyn aanvanklik in die kultuurblad Goede Hoop – waarvan hy redakteur word (1914 tot 1930). Hy het deel aan die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging (1906) en word later voorsitter daarvan; die oprigting van die tydskrif Ons Taal (1907 tot 1909); die opstel van die spelreëls (deur die ATV in 1909) en die totstandkoming van die Zuid-Afrikaanse Akademie van Taal, Letteren en Kunst. 

Een en dertig jaar lank (vanaf 1911) is hy professor in Wysbegeerte, eers aan die Victoria-kollege en toe aan die Universiteit van Stellenbosch – wat hy help om tot stand te bring. Onberekenbaar is sy invloed op die honderde leraars van die NG Kerk wat in hulle voorstudie aan sy voete is.

Posted 3 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 12 Mei 1652

Eerste Nagmaalsviering in die gemeente van Kaapstad

Op hierdie dag is die eerste Nagmaal aan die Kaap gevier. Jan van Riebeeck se dagregister vertel soos volg oor hierdie geleentheid: “… is alhier in’t noch onvolmaeckte fortjen staende, door Domine Backerius, predikant per den Walvis hier gecomen, d’eerst5e predicatie gedaen, ende het avondmael des Heeren gecelebreert.” Hierdie geleentheid wys reeds daarop dat die Nagmaal vir die wordende volk altyd van groot belang sou wees. 

Die Afrikaner het altyd alles in sy vermoë gedoen om geen Nagmaalsviering mis te loop nie. Dit was, benewens ’n kerklike viering, ook ’n belangrike sosiale geleentheid, veral later in die afgesonderde binneland. Jan van Riebeeck versuim ook nie om die eerste geleentheid waar ’n predikant die jong gemeente besoek, te benut vir die bediening van die Nagmaal nie. 

Reeds hiervandaan spruit die strenge godsdienssin van die Afrikaner wat later in die binneland vir hom as rigsnoer sou dien.

Posted 3 weeks ago

Swart-Ys

Posted by Paul Joubert on Thursday, February 28, 2013

Ná twee maande van swerf in Europa het Jean-Jacques vermoed dat hy eensaam is, en sy spieël het dit bevestig, want verwaarlosing is 'n neerslag van eensaamheid. Sy oë het gedra na 'n rustelose nag, en daar was 'n geel puisie tussen sy baardstoppels. Jean-Jacques het hom teruggetrek, bang om deur sy eie beeld besoedel te word, maar gou teruggekeer, met die perversiteit van 'n misdadiger, en dié keer so naby aan die glas gekom dat daar 'n waas tussen hom en sy mooi asketiese gesig was. 

Jean-Jacques was nie nét ydel nie: herhaling (soos elke ouer weet) is 'n gerustelling; en veral op 'n alleenreis. Hy het die puisie verwyder, so versigtig en onbetrokke moontlik; maar 'n uur of wat later kon hy nog karbol ruik, want selfs sy potentste náskeermiddel kon dit nie verdryf nie. Ter wille van sy gemoedsrus is hy na 'n kapper, waar hy sy hare laat was, sny en stileer het; en elke ligte, presiese aanraking het hom gevlei en getroos. Hy het Kurt of Vienna 'n ruim fooitjie gegee en sonder glimlag versoek: "'n Taxi asseblief?"

"Waarheen?" het die taxibestuurder gevra; en met verbasing het Jean-Jacques aan homself herhaal: "Waarheen?" Tot dié inval gekom het: Sloan Square. Want dis waar hy eenmaal twintig was. En op pad het hy hom enkele luukses toegelaat: name en gesigte van toe; veral één gesig: foutloos, edel, ontoeganklik. 

Jean-Jacques het ou kroeë gesoek en nuwes gevind; deur klapdeure geloop, en omgedraai. 'n Vertroude boekwinkel was nog daar, maar onder nuwe bestuur. King's Road was 'n antiklimaks, en Jean-Jacques het sy toegewing aan nostalgie betreur; wou net hotel toe gaan toe 'n winkelpop 'n beroep op sy menslikheid doen. Want dié pop lyk net soos Annebelle, veral in haar winterse kaalheid: dieselfde rooi hare, dik en sterk, byna nylonagtig; dieselfde wimpers en oogopslag.

Dan verskyn daar 'n winkelmeisie langs haar; 'n vensterversierder met lappe om haar voete wat haar soos 'n oorlogsvlugteling laat lyk. Wanneer Jean-Jacques opkyk na haar gesig, skrik hy. Sielvolle Victoriaanse oë; van 'n ouderwetse pop ook die preuts mondjie, die hoë, rooibruin wange, die kroesdroë krulle om 'n bleek gesig. En om haar hals, soos 'n bloedstreep, 'n pruimpers bandjie van fluweel. Sy beantwoord Jean-Jacquesse blik, en raak gevange. Nou dwing sy om aandag: haar hand kruip smagtend op teen haar dy, sy glimlag sonder voorbehoud. Elke tand in haar mond is met silwer beslaan; 'n blink lag, 'n metaallag. En Jean-Jacques ril en stap haastig weg. So vinnig vlug hy dat hy by die galery verbyloop waar hy David Hockney ontdek en gekoop het: sy etsreeks A Rake's Progress. Jean-Jacques sak met 'n stel trap af na 'n kelderverdieping, nog altyd ontstem oor die meisie met die tande, en besluit om nie na Annebelle te verlang nie. 

Die uistalling is streng gekeur: vier beelde, enkele potlood- en inktekeninge teen die muur. Drie uit die vier beelde sou óók as voorstudies kon geld: die hele tentoonstelling is gemonteer om één beeld wat sentraal staan, 'n skag lig op hom; en dis nie of die lig uit die lae plafon val nie, maar van baie ver en baie hoog kom, soos op 'n Rembrandt-skildery.

Die beeld - 'n torso - is van Amerikaanse marmer, wat nóg sinneliker is as Carrara: 'n wit gloeiing onder die oppervlak. 'n Danser staan soos 'n vlam op sy voetstuk; 'n vlam wat wil opstring en lug raak en weg. Die bors is twee plate wat mekaar in gevaarlike ewewig hou; laer, middelpunt van dié skaal, 'n jong geslag wat traag ontwaak; agter sluit die hoë blaaie om die nek; die boude is ferm: knooppunt, energiebron; en van die kant gesien, word die lyn van heup en maag 'n finale stelling omtrent...ja, omtrent wat?

Dis 'n pynlike oomblik vir Jean-Jacques: hy wens hy kon skoonheid anders ervaar. Alles wat hy weet of vermoed omtrent God, liefde, seks en dood trek saam in dié oomblik, en lewer hom uit aan sy eie ontoereikendheid. Hy druk sy wang teen die marmer; klamp sy hande om die boude. Die eienaar van die salon kug hoflik: "Is u veronderstel om..."

"Ek weet", sê Jean-Jacques onboetvaardig, "maar dis ál manier om 'n beeld te ervaar. Veral as jy dit wil koop". "Ja" verset die eienaar hom, "maar..." Hy swyg voor Jean se uitdrukking; hervat eers na 'n rukkie: "Iemand anders is ook geïnteresseerd."

"Verkoopsgrepe," glimlag Jean-Jacques, "laat my koud."

Die eienaar van die salon is gekrenk: "U misgis u; ek wil u bloot beskerm..." Jean-Jacques maak 'n gebaar wat vertolk kan word as "vergeet daarvan" of "loop weg"; tree dan 'n paar tree terug; kyk lank, en byna verwoed, na die torso: loop stadig óm die beeld. "Dit kos £1 500," kom 'n stem vanuit die skemer buite die ligbalk, "maar ons kan terme reël." "Ek stel nie belang in terme nie", antwoord Jean-Jacques gesteurd, "maar wel in die beeld. ek sal u môre bel."

Hy stap 'n kroeg binne, dié keer vasberade. Die rooi bekleedsels lyk geskaaf; op een plek peul kapok by 'n skeur uit. Maar as hy deur 'n gemmerwyntjie kyk, lyk die banke beter, selfs beleë. Hy bestel 'n derde gemmerwyn, van die ligte amber soort, en dink" "Moet ek my aan 'n beeld verwarm?" en, terwyl hy 'n bootjie uit 'n servet vou: "Hoe lank nog gaan ek my bekostig?"

'n Blok laer af is daar 'n elegante boetiek, en hierop stuur hy nou af. In die venster hang 'n pelsjas, met leerbande wat die polse en kraag nou kan laat sluit. Dit kos £1 600. Die jong assistent skrik merkbaar wanneer hy hom sien; Jean-Jacques wag tot dié reaksie afgeloop is. Dié keer gebeur dit nie, veral wanneer Jean-Jacques vra of hy die jas in die venster mag aanpas. 

"Ek het dit geweet" sê die jong man. "U bou vra daarom, en u houding. Toe u by die deur inkom..."

Die pelsjas is van geskeerde bewer. "Om ligter te wees, " verduidelik die assistent. "Ons klant het dit só bestel." Die bestuurder staan senuweeagtig nader, bang dat sy assistent 'n belangrike transaksie mag verbrou. "Ja", neem hy die verhaal van die assistent op, "'n tragiese geskiedenis. Ons klant het twee keer van Parys af gekom om aan te pas, en toe is hy in 'n motorongeluk dood, kort voor Kersfees. Ys op die teerpad, weet u; swart-ys, soos dit soms genoem word." Die jas self is skimmel, of 'n ligte sneeutjie daarop neergesif het. Die assistent probeer sensasie as mistiek aandien: "Toe die eerste mense by die wrak kom, toe speel die radio nog. In daardie yslug - Bach."

"Händel," verbeter die besuuurder geniepsig, want die assistent het hom voorgespring met dié nuusbrokkie. "Definitief Händel." Jean-Jacques will alles van sy voorganger weet, maar vra nie uit nie; stryk aanhoudend oor die pels; lees met een vinger die watermerke op die voering. Die bestuurder sluit aan by dié beweging: "Net die beste vir ons klant - hy't self die voering gekies. 'n Edel grys, nie waar nie? Hy was 'n individualis, ons klant, maar nie eksentriek nie. Want hy had smaak." "Môre," sê hy gejaag, "môre sal ek u laat weet."

Die jong man skryf iets op 'n kaartjie. "Vra vir Peter as u bel," sê hy, en kyk pleitend na Jean-Jacques. Dis baie laat voor Jean-Jacques daardie aand aan die slaap raak, en dit eers na hy pille gedrink het. Wanneer die foon om drie-uur lui, kan hy nie tot verhaal kom nie; hy tas in die donker tot hy die rooi liggie op die skakelskyf sien pols. 'n Oomblik vrees hy: die man wat op die ys gegly het? Dis Annebelle, dringend bewus van alles wat hulle skei: 'n kontinent, 'n oseaan, 'n lewenswyse. "Jean," huil sy, "kom huis toe: ek het jou lief..."

"Weet jy hoe laat dit is?" Jean-Jacques se stem is dik van die slaap; wil na verwyt klink maar kan nie. "Jean-Jacques, ons kan nie wegkruipertjie speel tot aan die einde van ons fleur nie". "Wanneer," spot Jean-Jacques, "is fleur verby? Volgens my pas na ontmaagding."

"Hou op!" skree Annebelle. Jean-Jacques kan hom voorstel hoe sy lyk: ontsier, verwring, verwelk. "Luister," sê hy gebiedend, "ons gaan nie dieselfde ou gesprek voer nie. Wat jy as liefde beskou, Annebelle, is niks anders as onbereikbaarheid nie. Koop 'n beeld, en jy het nie meer behoefte aan hom nie. En nou gaan ek afsluit; ek het slaappille gedrink en kán net nie langer nie..."

Hy plaas die gehoorbuis versigtig op sy mik; lê vyf, tien minute grensloos verlig teen die kussings. en sypel dan terug na sy ondergrond. Die volgende dag het Jean-Jacques die jas gaan koop, en geborge in bewerpsels, sy winterreis hervat. 


Hennie Aucamp                                                                                                                                       1978



Tags: hennie aucamp  swart-ys  annebelle  a rake's progress  1978 
www.myvolk.co.za Logo