Ma

Posted by Paul Joubert on Saturday, March 19, 2016 Under: Afrikaans: Gedigte

Ma, ek skryf vir jou 'n gedig
sonder fênsie leesekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
'n kaalvoet gedig -

want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God.
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater teen die lewe

ek is so jammer ma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie.

© Antjie Krog

In : Afrikaans: Gedigte 


Tags: afrikaanse gedig  afrikaanse gedigte  afrikaanse gedig antjie krog  afrikaanse gedig ma 
www.myvolk.co.za Logo