
Om dié storie reg te verstaan, moet jy nie net vir ou Mieta geken het nie, mar ook vir Doemenie Terhage. Al klink sy naam so Hollans, was Doemenie Terhage 'n gewone boere-Doemenie, mar jy moet ook nie met hom saam gesukkel het nie. Hy was 'n reguit m an wat maar pertykeers ook effe onkantig kan geraak het.
Doemenie Terhage het 'n kleintjie dood gehad aan mensverheerliking. Hy't nou sommer vas geglo innie woord lat tot jou beste dade soos 'n wegwerplike kleed voor 'ie Here is. En daaroor kan hy dit bevoorbeeld nie geveel het lat mense by begraffenisse lang toesprake kom staan maak het oor hoe wonnerlik die oorle' man nou gewees het en so aan nie. Hy sil daar niks van gedink het ommie lofswaaier net daar stil te maak en tereg te wys nie. Daaroor kan hy't ook nie geverduur het lat mense van hom 'n ophef gemaak het nie. Nie wanner hy in 'n gemeente aangekom het nie en ook nie as hy van 'n gemeente af weggegan 't nie. Nie eens oppie hoeksteen vannie kerk wat hy vir ons gebou het, het sy naam gestaan nie. Oppie hoeksteen was net geskrywe gewees: Tot eer vannie Here, en klaar.
En oor 'n preek van hom wat nou goed gewees het, moet jy nie vir hom geloop en staan en prys het nie. En hy kan goed gepraak het. Hy kan nou 'n stuk Bybel vir jou uitgelê het en vir jou 'n verklaring gebring het wat jy nog nooit eens aan gedink het nie. Pertykeers het jy nou sommer regtig gevoel jy moet nou eintlik vir hom kan gesê het hoevil die preek vir jou gebetekent het. Mar as jy nou wys wil gewees het, het jy jou mond uit sy preek uit gehou, want annerster het jy oorgekom soos wat ou Floors een Pinkerstaand oorgekom het.
Dié Pinksteraand het Doemenie weer 'n preek gehou wat jou soort van agter jou nek gevat het en vorentoe getrek het uit die bank uit en jou dan weer in jou bank sitgemaak het. Ou Floors was besôner geroer deur 'ie boodskap en hy wil graag daarvoor dankie gesê het. Mar hy't mos nou geweet lat hy dit nie vir Doemenie kan loop sê nie. Mar oorlat dit nou vir hom 'n behoefte vannie hart gewees het, het hy gemeen om sommer sy dankie innie gebed in te werk, want hy't gereken as hy dit nou virrie Hére sê, sil Doemenie mos nie dáárteen beswaar kan hê nie. Mar wat, hy was nog so besig om virrie Here dankie te sê virrie uitnemende voorreg wat ons gegun gewees 't om weer eens na sy mondstuk te kan geluister het en virrie feit lat die Here hóm na ons gemeente gegjee het en lat die Here hom so mildelik geseën het m't die gawes vannie woord en menier van sê, toet Doemenie Terhage keel skoonmaak en vir ou Floors innie rede val m't: "Amin, broer, dankie. Jy bid nie nou nie. Jy skinner."
En dan ou Mieta. Aan 'ie een kant 'n mens m't wie jy nie moet gesukkel het nie. Aan 'ie anner kant 'n kerkmens wat haar aandeel gedoen het waar 't ook mar nodig gewees het. Mar nou het ou Mieta weer 'ie gewoonte gehad ommie bidure oor te vat. Kyk, ou Mieta het nou nie, soos Doemenie altoos mar weer gevra het, bondig en oppie punt af haar gebed gedoen nie. Nee, sy't eers vir allie senningvelle, en dis nou elke oppie aarde waar 'n kerk staan, gebid en dan vir elke plek waar 'ie Woord ook al verkondig word. En dan't sy die regjeringsmense gevat, vannie Gewerneer-Generaal af verby die Eerste Minister tot by die klerke vannie dorpsbestuur, elke ene wat die Here goed gedink 't om oor ons an te stel. En as sy nou m't dié klaar is. het sy haar kinners gevat, en hulle se kinners en húlle se kinners ok. Elkene op sy naam. En pertykeers het sy dan die mense se name so gevergjeet. Dan sil sy sommer so innie gebed by die man lansaan verneem wat tog nou weer die Eerste Minister se naam is, of so. En as die man nie gou genoeg gehelp het nie, dan't ou Mieta sommer gemaak soos sy gemaak het toet sy wil gebid 't virrie skole wat aanstons sil gesluit 't en toe die datum nie kan geonthou het nie, en toe mar gesê het: "Ek kan nou nie mooi onthou of't Dingsdag o f Woensdag issie, maar U sil beter weet. Enniewy, Here, wees tog dan ook nou so m't onse skoolkjenners wat nou weer vekansie het..." En so't ou Mieta elke soort biduur, vannie weeklikse kerkbidure tot die maanlikse huisbidure propperlies doodgebid. As sy na so 'n halfuur of meer Amin gesê het, kan Doemenie maar net sowel ook Amin gesê het lat die mense kan huis toe gan, want dan't g'n mens meer vêder lus gehad vir bid nie.
Doemenie Terhage het haar eenkeer prebeer aanpraat oor dié lang gebittery, mar ou Mieta het haar bloediglik geverêre virrie perkant en sommer reguit vir hom gesê: "Kyk hier, Doemenie. As jy Sondae en Woensdae, of by die troues ennie begraffenisse daar hoog op jou gestoelte staan en jou sê lank sê, seg ek niks teen jou nie. Dis jóú plek om jou sê te sê so lank soos jy wil. Mar innie biduur is 't my plek. Daar sê ék my sê soos ék wil en g'n mens sil vir my kom beduie hoelat ek 't moet doen nie." En Doemenie het niks daarop gesê gekry nie. Hy was skoon stilgeskrik gewees.
Mane lank het Doemenie mar 'ie saak so gelos en geloop wonner oor 'n plan om ou Mieta op 'n menier aste ware van agter af te bekruip. En toe kry hy een.
Op 'n woensdagmôre is hy na ou Mieta toe, kwansuis vir huisbesoek. En hy't die huisbesoek mar sy gewone loop lat loop. En toet alles nou mooi klaar is, het hy sy keel skoongemaak en vir ou Mieta gesê: "Suster Mieta," het hy gesê, "ek wil in hierie môre-uur oor 'n gewigtige saak m't jou praat, 'n saak wat ons hele gemeente raak. En net jy kan my help.
Ou Mieta was so 'n bietjie van haar hoede af gewees, want sy't gedink dit gan nou oor 'ie een of anner plig wat sy innie gemeente moet vervul. En sy nooi nog vir Doemenie om mar te sê wat hy wil sê en nie te huiwer om te vra nie.
"Suster Mieta," het Doemenie sy storie begint, "ek merk nou al allie jare lat jy stok-allenag hierie gemeente se gebedslas op jou skouers dra. Kyk nou mar innie bidure. Is daar nog een enkele anner mens wat aan 'ie gebed deelneem?"
Nou't ou Mieta begint agterkom waffer kant toe die perkant m't haar sam beur. Mar noulat hy van diékant af kom, het sy ok nie mooi raat geweet nie. En sy sê toe mar: "Haai, Doemenier, noulat jy so praat, ommie waarheid te sê, ek het dit nou noggie so reg opgelet nie. Of miskien het ek nou nooit so daaraan gedink nie.
"Mar stem jy saam, suster Mieta, noulat ek vir jou daarop attent maak?" het Doemenie vorentoe gebeur m't sy plan.
Ou Mieta was nou so bietjie van in 'n hoek. En sy't dit gebesef ook. Mar sy't nie veel plek gehad om uit die hoek uit te kom nie. En toe sê sy mar: "Nou wat wil Doemenie dan nou vir my sê?"
En dit was nou soort van die gat wat Doemenie Terhage voor gesoek 't. En toe laat loop hy die laaste stuk van sy plan: "Wel, suster Mieta, nou wil ek jou vra of jy nie dink dis 'n goeie plan lat hierdie gebedsluie gemeente 'n slag hulle eie werk self doen nie? Wat gan gebeur die dag wat jy nie meer daar is om vir hulle in te tree nie? Dis hoekom ek jou tog vriennelik versoek lat jy venaand nie aan 'ie gebed moet deelneem nie, solat hierdie gemeente se mense uit hulle eie sieleslaap uit kan wakker gemaak word."
Of ou Mieta nou die perkant se argement end-uit gehoor 't, sil ek nou nie kin sê nie, want sy't kliphard moet gesit en dink het hoelat sy hom kan trugkry vir hierie streep wat hy haar getrek het lat sy nou sil moet stilbly innie bidure, want sy kan tog nou nie virrie doemenie sê na die dinges toe m't die gemeente se sieleslaap nie. En nalat Doemenie Terhage nou, jy kan mar sê, die Staat se saak gesluit het, ou Mieta nog so 'n bietjie nagedink, en toe sê sy vir hom: "Ai, Doemenie Terhage, jy is darem rêrig 'n slimme perkant, en jy kan altyd 'n ding uitlê op 'n menier wat g'n anner kristenmens aan sil kan gedink het nie en jy dra die gemeente so naby an jou hart. G'n gemeente hier innie omtrent het so 'n herder en leraar nie en dié ene verdien jou nie. Wie sil nou kan gedink 't lat 'n mens onwetend so 'n sware las op jou skouers gedra het allie jarre? En dit vir 'n spul laks mense wat kristene moet gewees het. En hier kom jy dit in jou wysheid vir my in één môre sit uitlê. Wat sil tog vannie gemeente word die dag as jy nie meer daar is om die wonnerlike boodskappe te bring waarvoor jy nooit 'n dankie wil vattie oorlat hulle jaar-in en jaar-uit soos wegwerplike klede bly?"
En ommie biduur te red, het Doemenie die prysing ennie teregwysing mar net moet gesluk het sôner om 'n spiertjie te trek.
Ferdinand Deist