Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Arme Sientjie
"O goeiste!" het Barbarb uitgeroep in die grootste nood. "Wat sou arme Sientjie makeer?" Ek moet dadelik die dokter laat kom."
Sy het Sientjie toe op 'n mooi wit bedjie neergelê, aan die skakelaar van die elektriese lig gewerskaf en gespeel dat dit die telefoon was.
"Hallo! Is dit u, dr Pille?"
"Ja mevrou," het 'n stem van die anderkant af gekom. "Dit is dr Pille hier. Wat kan ek vir mevrou doen?"
"Ag dokter, dis die arme Sientjie wat siek is. Sal u asseblief dadelik kom?"
"Ek sal dadelik kom," het die stem daar in die gang gesê. "My motor staan gelukkig reg by die hekkie, dus sal ek binne 'n paar minute daar wees."
Barbara is toe weer terug na Sientjie en sy het hard probeer om 'n paar trane te stort. Skielik is daar aan die deur geklop."O is dit u, dr Pille? Ek is so bly dat u gekom het."
Dr Pille het Pappie se pluishoed opgehad en met sy handsak in sy hand het hy die bed genader. Hy het baie ernstig gelyk.
"Laat ek haar pols voel," het hy gesê en Sientjie se hand geneem.
"Dis baie vinnig, baie vinnig," het hy gemompel.
"Arme Sientjie," het Barbara gesê.
"Laat ek nou haar tong sien," het dr Pille gesê.
"Ek is bevrees sy is te siek om haar mond oop te maak," het Barbara gesê. "Ag dokter, wat makeer sy?"
"Sy is baie ernstig siek," het dr Pille gesê, "baie ernstig."
"O wat sal ek tog doen, wat sal ek doen?" het Barbara uitgeroep.
"Doen?" het dr Pille gesê. "Daar is net een ding om te doen. Jy moet die kind beter behandel. Jy het haar heeltemal verkeerd gevoed. Sy ly aan slegte spysvertering en sy sal moontlik sterf."
"Sterf, o liewe land! Hoe vreeslik!" het Barbara gekerm. "Wat moet ek haar voer om haar weer gesond en sterk te maak?"
"Wel, laat ek sien. Hierdie kind het te veel lekkers geëet. Sy het heeldag lekkers geëeet en dit het haar maag heeltemal bederf. Jy moet haar glad nie meer lekkers gee nie - miskien 'n paar met etenstye."
"Maar sy sal baie huil!" het Barbara gesê.