Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Alles kom van Bo
In 'n nederige huisie in Frankryk het 'n arm, maar godvresende man op sterwe gelê. Hy het sy enigste seun na hom toe geroep en gesê "My liewe klein Pierre, jy sal netnou alleen op die aarde wees en baie moeilikhede sal jou oorval, maar onthou altyd dat alles van bo kom, dan sal jy dit makliker vind om alles geduldig te verdra."
Kort na hierdie woorde het die man gesterf en arme Pierre was alleen in die wêreld. Al wat hy kon doen om aan die lewe te bly, was om te bedel.
Terwyl hy van deur tot deur in die dorpies gegaan het, het hy vir die mense gesing en gewoontlik net genoeg ontvang om nie van honger om te kom nie. Elke keer wanneer iemand vir hom geld of kos gegee het, het hy - gedagtig aan sy vader se laaste woorde - gesê "dit kom van bo".
Dit het 'n gewoonte by hom geword om hierdie woorde gesê, wat ook al met hom gebeur het en hy het gevind dat hulle hom regtig gehelp het om alles met geduld te dra.
Eendag, terwyl hy deur 'n dorpie geloop het, het 'n skielike windvlaag 'n dakpan van 'n huis afgeruk. Dit het Pierre mooi teen die skouer getref en hom teen die grond geslaan.
"Dit kom van bo," was sy eerste woorde toe hy weer opstaan. Soos 'n mens kan verwag, het die mense hartlik uitgebars van die lag.
'n Minuute later het nog 'n rukwind egter die hele dak van 'n huis afgewaai 'n entjie verder af. As Pierre aangeloop het, was hy miskien dood. Dus het hy by homself gedink dat die dakpan wat hom getref het, in meer as een sin "van bo" gekom het.