Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Al weer die dam
In Johnnie se tuin was daar 'n mooi dam met waterlelies en goudvissies daarin. Daar was 'n brug oor die dam, en daar was 'n kunsmatige waterval waaroor die water gevloei het wanneer Pappie die water aangedraai het - dit het hy gewoonlik gedoen wanneer daar besoekers was.
Die omgewing was beplant met struike, en dit het daardie deel van die tuin baie mooi gemaak. Die dammetjie het so onskuldig gelyk dat 'n mens nie sou verwag het dat seuns en dogters daar in die moeilikheid sou kom nie.
Natuurlik was die dam nie so diep dat iemand daarin kon verdrink nie, maar daar is ander dinge wat met kinders kan gebeur wat naby 'n dam speel.
Om die waarheid te sê, het daar alreeds so baie dinge by daardie dam gebeur dat Moeder 'n reël gemaak het dat kinders nie daar mag speel sonder haar spesiale toestemming nie.
Nog daardie oggend het sy gesê, "nee" toe Johnnie om toestemming gevra het om daar te speel. "Al jou mooipraatjies sal niks help nie, jy mag nie vandag daar speel nie," het sy beslis gesê. "Jou klere is nog skaars droog van nou die dag se inval. En wat meer is, jy weet mos dat mevrou Norman en Mary ons vandag kom besoek."
"Kom Mary vandag?"
"Ja," het Moeder gesê.
"Wel, ek is baie bly, want ons sal lekker kan speel."
"Maar julle gaan nie naby die dam speel nie," het Moeder gesê, "want jy het jou beste klere aan."
"Goed, Moeder," het Johnnie en Joan albei gesê. Maar ten spyte van die kinders se beloftes, het alles nie goed afgeloop nie, want Mary was 'n baie woelige mensie. Toe sy die dam sien, het sy opgewonde uitgeroep, "Wat 'n mooi dammetjie, kom ons gaan daar speel!"
Johnnie se bootjie het daar vasgemeer gelê, en Mary het sommer reguit daarheen gehardloop. Johnnie het haar gevolg, met Joan agterna - hulle het albei hul beste klere aangehad.
Toe hulle by die dam kom, was Mary al op haar knieë en sy het geprobeer om die bootjie by te kom. Sy wou dit 'n goeie stoot gee sodat dit oor die dammetjie kon seil.
"Dis 'n baie mooi bootjie," het sy gesê, "ons moet daarmee speel."