Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Agie se appel
"Jy moet nou soet wees terwyl ek weg is, Agie," het Moeder gesê. "Ek moet gou vir 'n rukkie winkel toe gaan."
"Ja, Mammie," het Agie gesê, "mag ek my popwaentjie meer in die tuin stoot?"
"Ja seker," het Mammie gesê. "Totsiens! Mammie sal nie lank wegbly nie."
Mammie is toe daar weg en Agie het haar poppe in haar popwaentjie begin regsit, gereed vir hulle uitstappie in die tuin.
In die tuin was daar vier baie ou appelbome. Hulle staan vir jare en jare al daar. Niemand weet wie hulle daar geplant het nie. Die bome was baie groot - byna so hoog soos die huis en elke jaar was hulle vol appels.
Daardie jaar was die appels almal gepluk en wat nie verkoop is nie, is op die solder gebêre vir die winter. Aan een van die bome was daar 'n paar appels wat nog nie mooi ryp was nie. Hulle was groot, rooi appels, baie sappig en lekker.
Toe Agie onder hierdie boom gekom het met haar popwaentjie, het sy die appels gesien.
"Ek het dan gedink dat Mammie al die appels gepluk het," het sy vir haarself gesê, "sy het hulle seker nie gesien nie."
Toe het sy met die poppe begin praat. "Kyk na daardie heerlike appels," het sy gesê, "is hulle nie mooi nie? Sal baba een wil hê om te eet?"
Deur "baba" het Agie natuurlik haarself bedoel, want hoe meer sy na daardie groot, rooi appels gekyk het, hoe meer het sy een begeer om te eet.
Daar by die bome was 'n baie lang leer en Agie het begin wonder of dit veilig sou wees om op te klim.
"Dit sal seker veilig wees," het sy vir haarself gesê. "Mammie sal niks daarvan weet nie, want ek kan appels mos baie vinnig eet."
Sy het haar een voet op die leer geplaas en toe die ander een. Stadig het sy begin opklim terwyl sy met albei hande styf vasgehou het. Dit was nie lank nie of sy was by die appels. Toe het sy begin soek na die grootste een wat sy van die grond af gesien het. Ja, daar is hy - en was hy nie mooi nie! Daardie een moet sy hê.
Die appel was 'n bietjie te ver vir haar kort armpie en daarom het Agie die leer met haar een hand gelos en die tak gegryp om die appel nader te trek...toe het sy met haar ander hand ook gelos en probeer om die appel te pluk.