
Die Beeld, 5 Oktober 1969
Op Wapadsvlei, Hopefield, bring Dawie Schroeder, wat by hulle op die dorp geloseer het, Dinsdagmiddag die verwese twee oumense van Tulbagh by hul rasend-bekommerde dogter Bettie aan.
Oom Floors en ta' Johanna Brand se huis is onherroepelik verwoes. Dat hulle daar lewend uitgekom het, is 'n bestiering.
In haar kale jurkie - "vrou, sonder broek aan" tersy gefluister - het die bejaarde ou tante die nag in gevlug en twee ure op straat gestaan, te beangs vir die vallende rommel om dit huis in te waag om iets warms te gaan haal.
Net 'n paar draad klere het hulle later met dagword bymekaargeskraap toe Dawie hulle kom haal. Maar die skaapboud en die bietjie yskas-groentetjies hou die tante by haar aankoms op die plaas na haar dogter toe uit.
"Kind," sê sy verontskuldigend, "dit was nou al wat ek vir jou kon saambring."
Ek kan huil as ek vir u moet beskrywe hoe lyk Tulbagh. Sy pragtige Drostdy 'n rommelhoop, die De Wethuis kennelik beskadig, die toestand van die ou pastorie, wat vandeesweek sy tweehonderjarige bestaan sou gevier het, bedenklik. Die ou kerk, die museum, lyk op 'n paar barste en 'n omgevalle urn of twee na nie te sleg nie. Maar of die mooi en eweneens ou "nuwe" kerk ooit weer gebruik sal word, is 'n vraagteken. Die eerste keer in hul lewe sien ds. Hennie Lambrechts se kinders trane oor hul pa se wange loop.
Die dorpie wat rustige eeue verdroom het, is nie te herken nie. Nie net in die dorp is die verwoesting nie. In die distrik lyk dit naar. Ek het nie gaan kyk nie, maar Montpellier lê in puin, sê die dominee. La Rhone, Middelpos, Twee Jonge Gezellen, Montrouge is onherstelbaar ... soos 'n litanie vir vergange skoonheid klink sy stem.
Steinthal se skilderagtige maar bouvallige huisie is hope rou-baksteen. 'n Mens word koud as jy dink aan klein kinders wat, doodgeval deur die puin, daaruit gehaal is.
Net waar jy kyk, ry bakkies, vragmotors, motors, stawels meubels weg ... mense se al lê voor hul huise uitgepak.
Dit was sononder toe ek op Ceres aankom. Verslae kyk 'n mens na die wit bane van verwoesting wat tuimelende rotsgevaartes reg rondom in die berge veroorsaak het.
Na die suidoostekant smeul daar nog bergbrande.
Agter in die enorme dorpstuin van P.F. de Kock van die winkel lê die modderspoor van die vloeistof wat uit diep barste opgekook het: die kruitreuk hang nog daar in sy aartappelland.
Die kerk se koper-weerhaan lê tussen die rommel van die toringtop en die treetjies.
Die ouer dorpshuise is een ná die ander ingestorte gewels, ingevalle mure, verandas van ou, groot stoepe wat soos gordyne oor die voorkante gedrapeer is.
Van wat ek donkeraand in Wolseley se strate kon sien, het ook dié dorp 'n aaklige knou weg. Op die onverligte dorpsmeent lyk dit soos 'n konsentrasiekamp of outydse nagmaal van die tente. Straat na straat daaromheen vertel sy verhaal van verwoesting. To op sy fondamente is die hart van my arme, arme boland geskud.
Tog ry jy uit die rampgebied weg, nie met trane nie. Ek het daar weggekom met bewondering en met trots - om die mense. Om mense soos ou tant Hanna Brand, wie se eerste gedagte was: Wat kan ek saamvat, om TE GEE.
Daar was, waar ek gekom het, geen paniek nie, daar was nie wanhoop nie, en daar was nie goedkoop bravade nie. Dis ook nie 'n passiewe gelatenheid wat oor die mense is nie. Dis 'n mengeling van berusting en geloof en moed, en 'n gevoel dat die mens in sy nood weer sy medemens ontdek het.
Wat moet platgestoot word, sal hulle platstoot. Wat kan opgebou word, sal hulle, so lank leef, weer opbou. Die lewe sal weer aan die gang kom. Maar dis of dit voortaan in 'n ander toonaard sal wees.
En dit vir hoe lank, snuifvra, baie nugter, tant Hanna, wat ek aantref juis toe hulle hul meubels uit hul verwoeste huis in Kerkstraat kom weghaal.
Nee, dit weet ek nie, tant Hanna. Maar vandeesweek het dit gevoel of hier 'n rotsverskuiwing ook van die hart was.
Wie nie daar was nie, sal hom seker nooit in die verskrikking van die skudnag kan indink nie. die aaklige dreuning en, vertel die een ná die ander, die verskiklike donker.
Soek die metjies. Maak brand die kers, skree anna Goliath vir haar ouman, ou Booi, in hul huisie op Steinthal.
In die arbeidershuisie oop Uitkyk skuiwe en dans Lena Willemse-goed se katel so dat haar ou man skoon aan't opgooi raak.
Tant Hannie Bester voel die vallende goeters op haar instort. Sy trek die komberse oor haar kkop. "Here Jesus," bid sy hardop, "as dit nou moet wees, laat dit tog gou wees."
Op Montrouge, na die Winterhoek se kant toe uit, skrik die doofstomme ou Jane, wat al 31 jaar by die Therons werk, so groot dat sy dwarsdeur die sifdraad voor haar bediendekamervenster uitbars ... weg, wêreld in, sodat die plaasmense in vergeefse angs na haar soek.
Later blyk dit dat sy die hele res van die bang nag tussen die kapokkies in die hoenderhok geskuil het.
Op Wolsely gryp kafeebaas Johanny Basson met die wakker word te midde van die vallende puin en pleistering na die ligknippie bo sy kop. Sy huis se ligte is van die weinige wat nie dood is nie. Maar die stof in die kamer is so dik, dat dit hom niks baat nie. Jy kan skaars die gloeilamp daardeur sien.
Reddingswerkers wat deur Tulbagh se strate hardloop, steek 'n oomblik versteld vas toe hulle oom Boy Kriegler, al jare bedliggend, onvas van been maar penorent in die middel van die straat met sy kierietjie sien staan.
Oral in die berge slaan vure, brandgesteek deur vallende rotse, kolle-kolle uit. In die plaastronk net buite Tulbagh hamer en skreeu paniekbevange gevangenes in hul selle en die onaarde kabaal dra verder by tot die angs van die lam geskikte omgewing.
Oor die Witsenberge kom die maan, deur die stofdamp, bloedrooi en onheilspellend op.
Wat het die mense, in daardie eerste oomblikke, gedink tref hulle?
"Ek het gedink dis 'n vloot van helikopters wat oor die huis vlieg."
"Ek het gedink dis dinamietskote by Voëlvlei-dam."
"Ek het gedink dis die kragsentrale wat ontplof."
"Ek het gedink dis oorlog wat uitbreek."
"Die grootste nonsens," sê (afgetrede onderwyseres) mej. Vos by die ouetehuis op Ceres. "Ek het daad'lik geweet dis 'n aardbewing.
'n Belewenis is dit om skemeraand op die stoep van Huis Maudie Kriel te sit. Buite voor die plek-plek bedenklik gebarste tehuis staan enorme kakie markeetente opgeslaan. En asof hulle lughartige kampeerders by 'n spa is, kom die ouetjies een vir een in pantoffels en kamerjas uit om vir die nag in die tente te kom slaap.
Hier loop een met 'n kombers oor die arm, met 'n paar kussings. Daar hobbel flink soos 'n kwikstertjie, 'n ou vir die wis en die onwis met haar blou plastiek-uiltjie.
Rykie van Reenen