# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Wolraad Woltemade

Stormwind en reën die hele nag lank, stormwind en die gedonder van die golwe. In hul huise onderkant Tafelberg, waar Van Riebeeck se verversingspos van honderd jaar tevore al 'n dorpie geword het, op hul plasies, en in die Kasteel luister die mense, en hulle wonder. Vyf skepe het daardie middag in die baai gereed gelê om uit te vaar, vyf seilskepe vol gelaai met vars proviand, hul handelsvrag - en mense.

Eintlik het die skeepskapteins teen die opdragte van hul meesters - die Here Sewentien, bewindhebbers van die magtige Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie, wat die handel om die Kaap met die Verre Ooste beheer - gehandel. Want in die maande Mei tot Augustus moet hulle Tafelbaai vermy, omdat die winterstorms te gevaarlik is. Maar die see was so bedrieglik kalm, die voortuitsig om na maande op die oop waters weer ander mense te sien, te aanloklik. En nou, vanmiddag, net toe alles gereed was, het die noordwestewind skielik opgespring: eers net 'n fris briesie, maar tog genoeg om hulle terug te hou en teen die land vas te keer, want dis reg in dié rigting dat hulle moet uitvaar. En spoedig begin dit deur die takelwerk sing, en oral rondom knik die golwe hul skumtoppe wit in die wind. Vuilgrys gryp wolkvingers oor die kim, en dan dans die eerste stuifvlae blink oor die waters. 

Toe breek die storm in al sy geweld. Golwe steier heuwelhoog teen die skepe se flanke aan en skud hulle soos stukke dryfhout rond. Die seile is lankaal ingehaal, en met die smekende vingers van hul kaal maste omhoog, gaan hulle die nag in. As die ankertoue net sal hou...die ankertoue...Of anders is hulle verlore. 

Want daar, net hier anderkant die laaste kromming van die branderrue, wag die gulsige banke sand wat vasgryp en hou sodat die see sy verwoesting kan volbring.

Hier vroegdag, teen sesuur die oggend - maar in die storm is dit nog nagdonker - hoor die ou man op sy plasie aan die voet van Tafelberg, waar hy die afgelope paar jaar met melkbeeste boer, nes die ander inwoners van die nedersetting die kanonskote deur die rukkende windvlae. Wanhopig en nietig klink hierdie noodteken van mens tot mens: een van die skepe het in die moeilikheid geraak en loop gevaar om te vergaan.

Die ou man bly luisterend in die deur van sy koeiskuur staan waar hy pas sy diere klaar versorg het. Kom storm, kom wind en reën, maar die boer moet beskerm wat syne is. Die ou man luister, en hy dink. Hy is al diep in die sestig en het veel van die lewe gesien. Pas vyf jaar tevore het hy as soldaat hier na die Kaap die Goeie Hoop gekom, en hy het dit gelukkig getref, want eindelik, na die swerftyd, na al die swaarkry en ellende, het hy 'n rusplek gevind: 'n eie plasie, genoeg vir hom en sy vrou, naby hul seun, wat soos sy vader soldaat geword het en nou as korporaal in die garnisoen by die Kasteel dien. Baie storms het oor die ou man gegaan, baie bange dae en nagte toe die Dood se hand al koud op syne was. Daarom kan hy die nood van daardie mense op die skip so goed verstaan. En sy hart gaan uit na hulle, en hy kan nie weer rus kry nie. 

Wolraad Woltemade loop na sy huisie, en die houtklompe aan sy voete suig swaar in die modder. Hy stoot die deur oop en stap binne. Dis maar 'n eenvoudige woning: net 'n hoë rietdak op vier lae sooimure, net een vertrek vir eet en slaap en kook en woon, met hul karige besittings daarin ten toon gesprei - 'n planktafel, 'n paar riempiestoele, 'n katel, 'n seemanskis, 'n lang kas. Maar dis syne, en dit is genoeg. 

Sy vrou is by die haard besig om 'n bietjie melk vir hom warm te maak, en hy hoor die dik sop prut in die pot wat oor die oop vuur hang. Hy sien in die gloed die sagte rimpels op haar wange, die rosige skynsel van die vlamme oor haar witgrys hare. En hy weet dat hy haar liefhet sonder om dit in woorde  te dink. 

Toe ruk 'n sterker windvlaag aan die huisie dat die hanebalke kreun en die agterdeur uit sy knip spring. "Ons kind sal seker op die strand wees," sê Wolraad terwyl hy die deur haastig toedruk, maar dis eintlik aan die mense op die skip wat hy dink. "Ek kan gerus vir hom iets warm afvat." Maar dis eintlik die skip wat hy wil sien.

"Ek het 'n bietjie warm sop," sê sy vrou. "Ek sal dit in 'n emmertjie gooi. Maar moet jou nou nie onnodig gaan staan en ontstel nie. Hierdie dinge is nie in ons hande nie." Sy bedoel die stranding van die skip, want sy ken haar man se hart. Sag streel haar oë oor die gebeitelde wange en die silwer van sy hare. "Hier!", Sy gee vir hom die emmertjie, en hy soen haar vlugtig op die voorhoof, soos sy gebruiklike groet is. Maar as hy by die deur kom, swaai hy weer om na haar toe en soen haar nog 'n maal, op die mond. Toe stap hy die storm in. 

Die reënwolke dryf nog altyd uit die noordweste in, en die wind loei om die hoeke. Toe hy sy perd uit die stal lei, trap die dier vieserig in die modderplasse, maar sonder huiwering gehoorsaam hy sy meester se hand. Op 'n gelykmatige gang stuur Wolraad die perd teen die skuinste af terwyl hy die emmertjie sop versigtig in een hand vashou. 

Dis nie moeilik om die koers na die gestrande skip te kry nie. Uit die dorpie tou 'n streep nuuskieriges in die rigting van die Soutrivier, met soldate, werksvolk, perde en waens tussein; want hulle moet gaan sorg dat al die goed wat van die skip uitspoel, veilig geberg en na die Kompanjie se magasyne gebring word. Skeepsbemannings is nie moeilik om te vervang nie, maar handelsware kos geld.

So dryf Wolraad saam met die stroom, maar altyd half aan die een kant, af na die kus toe. Dan kan hy die skip in die bleek môrelig sien: die trotse watervoël wat met wyd gespande vlerke die baai ingeloop het, en nou soos 'n hulpelose geraamte daar lê, vasgespoel op 'n sandbank reg voor die monding van die rivier toe die ankertoue meegegee het. Hy hoor die mense 'n naam noem. Dis De Jonge Thomas wat besig is om te vergaan. 

As hy nader aan die strand kom, kan Wolraad die skerp bevele van die Kasteel se bevele hoor:

"Staan terug daar!"

"Niemand mag aan iets raak wat hier uitspoel nie!"

"Plundering sal swaar gestraf word!"

Hy kan die stem van korporaal Woltemade, sy seun, duidelik tussen die ander uitken. Die jong korporaal wil eers die ou man wat so doodluiters, teen alle vermanings in, oor die strand aangery kom, met 'n verwensing terugstuur, maar dan sien hy dat dit sy vader is. 

"'n Bietjie sop vir jou, my kind."

"Dankie, Vader." Die korporaal vat die emmertjie aan. "Maar staan tog liewers terug daar tussen die ander mense in, anders moet ek netnou weer hoor van voortrekkery en allerhande sulke stories."

Die ou man luister skaars wat sy seun sê. Duidelik, bo die gedonder van die golwe uit, bo die gehuil van die wind en die swiepende reënvlae, hoor hy die stemme van die gedoemdes op die skip om hulp roep. 

"Gaan niemand dan iets doen om hulle te probeer help nie? vra die ou man meer tot homself. Hy weet daar moet minstens twee honderd man op die skip wees. 

Korporaal Woltemade slurp 'n sluk sop en vee sy mond met die agterkant van sy hand af. "Ons het net opdrag om hier wag te hou en te sorg dat niks gesteel word nie," sê hy. 

Die skip wankel, en die geroep word dringender. Een matroos duik in die golwe af en verdwyn. Blindelings volg 'n tweede, spartel vertwyfeld, word ondergedompel, duik weer snakkend na bo om deur 'n laaste golf op die strand uitgespu te word. Hy is gered!

Maar die ander op die skip deins nog terug vir hierdie waagstuk, asof hulle op 'n wonderwerk wag. 

En dit gebeur.

Terwyl die toeskouers om die gereddene saamdrom, terwyl die soldate op 'n paar vaatjies toesnel wat oor die strand spoel, stoot Wolraad Woltemade sy perd die golwe in. 

Hy doen dit nie onbeheers nie; hy onderskat nie die gevaar nie. Hy weet net: hier is hy, hoog in jare, maar nog sterk en gesond, en hier is sy perd, 'n stewige dier. En daar anderkant roep mense in doodsangs. Hart spreek tot hart oor die golwe, en hy kan nie weier nie. As hy moet lewe met die las van soveel dooies op sy skouers sonder dat hy 'n vinger verroer het om hulle te probeer red, is dit beter om saam met hulle onder te gaan.

"Kom, my perd!"

Hy is al deur die eerste skuimgolwe voor die mense op die strand hom gewaar en verbaas uitroep:
"Wie gaan daar?"

"Dis die ou boer."

"Dis Wolraad Woltemade!"

"Vader!"

Maar niks kan hom meer keer nie. 

Hy stuur sy moedige perd tot langs die skip en roep: "Kom twee van julle! terwyl hy met sy voor-en wysvinger hoog in die lug beduie.

Sonder aarseling spring 'n matroos en 'n soldaat af en gryp aan die stiebeuels vas. 

Dit gaan moeisaam, tree vir tree, want so maklik laat die see nie sy prooi los nie. Nou verdwyn perd en ruiter met hul kosbare vrag diep onder die golwe, om dan weer hoog uit te duik. Maar hulle vorder, nader aan die strand, altyd nader. En dan kry hulle vastigheid vir hulle voete. Daar is genoeg gewillige hande om die twee van die skip verder teen die strand uit te help. 

"Hoera!" skree die omstanders. 

"Dis ongelooflik!" sê een.

"Dit sou ek nie geglo het as ek dit nie met my eie oë gesien het nie," sê 'n ander. 

Maar Wolraad het reeds weer sy perd se kop geswaai, terug die see in. Soos iemand wat met oorgawe werk, is al sy sinne toegespits op wat hy doen. "Hou hoog die perd se kop...Klou styf vir daardie brander...Stuur 'n bietjie links, want dit lyk asof die stroom ons wil wegvat..."

Op die skip en op die stand het dit stil geword. Gespanne hou hulle ruiter en perd dop. Net die elemente wil nie gaan lê nie. 

Wolraad bring nog twee uit. 

Nou sal hy seker tevrede wees. Mens en dier kan hierdie inspanning nie hou nie. Maar Wolraad het nog nooit 'n werk half gedoen nie. 

Hy gaan in vir 'n derde maal. 

Vir die vierde maal. 

Tot sewe maal toe, en veertien gereddenes staan op die strand. Maar hy sal aanhou tot sewentig maal sewe toe as hy kan en dit moet. 

Die storm laai met nuwe geweld op toe Wolraad Woltemade vir die agste maal sy perd na die skip toe stuur. Die skip se agterstewe bewe onder die woeste aanslag van die golwe. Elke oomblik nou gaan De Jonge Thomas in twee breek en onder die water verdwyn. 

Langs die skip hou Wolraad weer twee vingers op soos die vorige kere. Maar die soldate en matrose voel reeds die die Dood aan hulle suig, af en af onder die koue golwe in. Roekeloos tuimel hulle op die redder en sy perd af: agt, tien twaalf man en meer, pak dier en ruiter beet net waar hulle vatplek kan kry. 

Wolraad Woltemade weet dat dit verby is toe die grypende hande hom en sy perd die eerste maal onder die golwe intrek. 

Die twee maal dink hy aan sy seun.

"My vrou..." prewel sy lippe die woorde toe die see vir die derde maal oor sy kop toevou. 

Lewend het hulle hom nie weer gesien nie. 

Vir dae en weke lank praat die mense van die Kaapse nedersetting nog oor Wolraad Woltemade se heldedood. Maar die lewe gaan voort, en daar kom ander nuus en beroerings. 

Net bo in 'n huisie teen die voet van Tafelberg bly 'n vrou nou alleen. Soms kom haar korporaal-seun vir haar kuier, maar hy is nie dikwels vry nie, en dan verkies hy buitendien ook liewers die geselskap van sy eie maters. 

"Wolraad, jy moes dit nie gedoen het nie," praat sy soms sommer so alleen by haarself as die hartseer te groot word. Maar telkens kom die stilte weer, en die begrip, en dan sug sy net en sê: "Wolraad, ek weet; jy kon nie anders nie."

Die Groot Afrikaanse Heldeboek

Pieter W. Grobbelaar

Human & Rousseau

ISBN 0-7981-0281-0

Japie Greyling