# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Wit Pluime in die Wind

Vir 'n sestienjarige dogter was dit 'n vreemde verjaardagversoek, maar Frans Lottering het vir sy dogter Nellie die splinternuwe Mauser gekoop wat sy so graag wou hê. Die geweer is 'n pragstuk met 'n ligte kolf en waar Nellie en haar vader in die skadu van die groot ou bloekomboom sit, glinster haar oë van geluk en trots. Dit is nou haar eie geweer en die vars geur van geweerolie is vir haar aangenaam: die reukwater van die veld. Min het Frans egter besef toe hy die geweer gekoop het watter belangrike rol dit nog in hul lewens sou speel, maar so het elke ding 'n doel.

Nellie se moeder kyk oor die onderdeur na vader en dogter waar hulle geselsend sit. Sy is 'n saggeaarde en begrypende mens. Frans wou so graag 'n seun gehad het, maar dit kon nou eenmaal nie. Nellie is vir haar vader beide seun en dogter en sy glimlag toe sy terugdraai na die stoof.

In hierdie tyd en dag waarin hulle leef, is dit belangrik vir 'n vrou om 'n geweer te kan hanteer en sy het geen besware nie. Frans sal immers die beste weet, maar heimlik besef sy dat hierdie pragtige dogter van haar voortbestem is om vrou en moeder te word. Tevrede gaan sy voort met haar werk. Sy het ook haar besondere geskenkie vir haar dogter gekoop en sy weet dat Nellie net so bly daaroor sal wees as oor haar nuwe Mauser. 

Frans Lottering hou die geweer liefkosend in sy growwe hande vas. Op die kraalmuur, ongeveer 'n honderd tree van hulle af, staan twee klein blikkies wat skerp opblink in die môrelig. 

'Nellie,' sê haar vader, 'jou geweer moet jy liefhê en vertroetel. Elke keer wat jy hom gebruik, al vuur jy net een skoot, moet jy hom skoonmaak. Nie baie olie nie, hoor, jy trek net 'n klam olielappie deur die loop voordat jy hom bêre. 'n Geweer se loop moet van binne altyd spieëlblink wees. Kyk nou mooi. Ek hou die geweer stewig vas. Die kolf druk ek teen my skouer aan anders skop hy. Jy lig die loop stadig op totdat jy die teiken mooi in jou visier het en dan druk jy die sneller saggies. Die fout wat die meeste mense maak, is om die sneller te trek. Moenie jou linkeroog te styf toeknyp nie, dit is onnodig en wanneer jy die sneller afdruk, hou jy jou asem 'n kort rukkie in. Moenie dalk opkyk nie, maar kyk of jy kan sien waar die koeël tref en moet nooit oorhaastig wees wanneer jy skiet nie. Wag liewer net daardie klein rukkie langer, maar maak seker van jou skoot.'

Frans lig die geweer se loop stadig op, neem versigtig korrel en druk die sneller. Toe die skoot klap, gons die blikkie van die kraalmuur af. Dit wip toe dit grondvat en toe die tweede skoot knal, spat die blikkie weg die bosse in. 'Hy is goed ingestel, Nellie, kom nou is dit jou beurt.'

Dit is nie die eerste keer dat Nellie 'n geweer hanteer nie. Dit voel asof die geweer vir haar gemaak is, want hy lê styf teen haar skouer. Nellie hou die geweer stewig vas soos haar vader haar gewys het. Sy lig die loop langsaam totdat die blikkie mooi in die visier verskyn en toe druk sy die sneller saggies soos haar vader haar geleer het. Die blikkie wip in die lug op en verdwyn after die kraalmuur.

'Nogal nie sleg nie,' is Frans se enigste kommentaar, maar sy vaderlike trots lê diep in sy oë.

Die twee stap stadigaan huis toe, want moeder wag. In die verte sien hulle 'n yl stofwolkie opslaan. Dit is 'n perderuiter wat op 'n stywe galop nader. 

'Ons kry besoek,' sê Frans.

'Volgens sy sit in die saal moet dit oom Piet wees,' antwoord Nellie, 'maar ek wonder waarom hy 'n handperd by hom het?'

Oom Piet waarvan hulle praat, is Piet Gert Wessels Grobler, 'n neef van oom Paul en lid van die Volksraad. Hy is in die President se huis gebore en is een van oom Paul se volgelinge. Toe die President later sy land as banneling moes verlaat, was dit Piet Grobler wat hom as sekretaris vergesel het. Hy is 'n besige man en hierdie besoek van hom is nie om dowe neute nie, en daarom wag Frans Lottering hom met 'n mate van bedugtheid in. 

Nellie het haar tweede aangename verrassing van die dag gekry. Die handperd, 'n pragtige vosperd met ligte stert en maanhare, het Piet Grobler vir haar as 'n verjaardaggeskenk gebring, want Piet Grobler, 'n mensekenner soos min, hou van hierdie dogter van Frans Lottering. Sy is hard soos die staal waaruit haar vader getemper is, maar ook met die sagtheid en aanminlikheid van haar moeder.

'Waarom het julle eintlik kom kuier, Piet?' vra Frans Lottering op die man af. 

Piet Grobler wag eers 'n rukkie voordat hy antwoord. Hy stop sy pyp langsaam en sorgvuldig. Hy moet hierdie saak reg aanpak, want hy het Frans se hulp nodig.  'Frans,' begin hy, 'Silkaats was 'n moeilike klant, maar ons het hom en sy Matabele in ses en dertig gedug by Vegkop en Mosega verslaan. Lobengula, Silkaats se seun en opvolger, is van 'n ander stoffasie. Silkaats wou hom mos 'n slag doodmaak - hy was toe maar 'n kind - en as hulle hom nie stilletjies weggesmokkel het nie, was hy dood. Lobengula sien die Boere as vriende. Hy is ons goedgesind en oom Paul Kruger wil hê dat ons 'n welwillendheidsbesoek in Gubalawayo moet gaan aflê. Die Engelse vry net lelik na Lobengula en na Moffat se besoek in ses en tagtig het hy heelwat konsessies aan die Britte toegestaan. Oom Paul wil hê dat ons vriendskapsbande met Lobengula moet gaan verstewig. Wat die Bamangwato aanbetref, is die koeël deur die kerk. Hulle staan sterk onder Engelse invloed, word selfs deur die Engelse van wapens voorsien en as ons vir Lobengula en sy Matabele tot vriende kan kry, het ons 'n sterk bondgenoot in die Noorde. '

'En van wanneer af versoek oom Paul so beleefd wat dringende staatsake aanbetref?' vra Frans glimlaggend. 'Wat jy eintlik bedoel, is dat oom Paul wil hê dat ons moet gaan.'

Piet Grobler glimlag effens verleë. "So is dit eintlik," sê hy.

'Dan moet ons seker maar 'n plan maak,' sê Frans Lottering en daarmee is die saak afgehandel. Al wat oorbly is die voorbereidings. Hy sal Nellie en sy vrou saamneem, want so kan hy 'n ogie oor hulle hou, want 'n vrou alleen is nooit veilig nie. Daarbenewens is dit 'n gulde geleentheid om 'n languitgestelde vakansie te geniet. Piet Grobler se vrou, 'n aangename en gesellige persoon, gaan ook saam en die hele tog beloof om buitengewoon aangenaam te wees.

Hulle kan nie uitgepraat raak oor die Noord-Transvaal se natuurskoon nie. Hoë berge klim die lug op en die nimmereindigende plate doringbome sprei uit tot in die wasige verte. 

Een aand - 'n paar skofte verder - sit hulle om die kampvuur en gesels. Sterre flonker in die naghemel en 'n koel windjie bring verfrissing vanuit die verte. Skielik sê Nellie: "Pa, weet, ek sien al die afgelope paar dae dat ons agtervolg word. Ek is seker dat hulle Bamangwato-krygsmanne is, maar hulle bly op 'n afstand en ek sien net so af en toe een van hulle raak."

"So, Nellie, jy het hulle dus ook gewaar. Ek en oom Piet hou hulle dop, maar ek glo nie hulle het enige bybedoelings nie, want dan sou jy hulle nie gesien het nie. Onthou net dat hulle hierdie wêreld beter ken as wat ons hom ken. Jy moet hulle nooit onderskat nie - hulle is dapper vegters. Hulle het 'n vreemde aanvalsmetode: eers storm hulle en dan val hulle plat. Jy verwag dat hulle weer gaan opspring en storm, maar hulle seil nader in die lang gras en as jy jou kom kry, spring hulle vlak voor jou op!"

"Hou die voëls en die diere dop, want hulle is jou getrouste verklikkers. Nellie, hier is raad wat jy gerus kan onthou: 'n bewegende voorwerp sien 'n mens maklik raak, maar indien jy doodstil bly staan, kyk hulle by jou verby sonder om jou op te merk. Hou die skadukolle dop, want dit is gewoonlik waar hulle doodstil bly staan."

Die nag het dieper en stiller geword. Lank het Pieter Grobler nog lê en nadink. Dit is gerusstellend om 'n man soos Frans Lottering by jou te hê, want hy is 'n staatmaker en boesem vertroue in.  Buite is alles skynbaar vredig en rustig en wanneer hulle tussen die Matabele is, sal hulle veilig wees, maar hy is nog steeds bewus van die Bamangwatokrygers wat buite in die nagdonkerte op die loer lê.  Veronderstel dat hulle in die holste van die nag besluit om die kamp aan te val?

Piet Grobler se vrees was egter ongegrond, want 'n paar dae later het hulle Gubulawayo veilig bereik en met ope arms deur Lobengula ontvang. Soos 'n kind het hy die een geskenk na die ander glunderend betrag en hanteer. Die pluiskeil wat oom Paul vir hom gestuur het, het hy opgesit en die hele tyd terwyl hulle daar vertoef het, het hy hom nie een maal afgehaal nie. 

"Slaap seker met hom op," het Frans laggend gesê. Die feestelikheid was groot en die verblyf in Lobengula se kraal was vir Nellie te kort. Die Matabele en hulle gewoontes is vir haar interessant. Lobengula se uitsoekimpi's het vir hulle 'n skyngeveg uitgevoer. Vir die eerste keer het Nellie begryp waarom hierdie mense die Amandebele (hulle het weggeraak) genoem word, want hulle hurk agter hulle reuse-skildvelle om hul niksvermoedende vyande van onder af te steek. Die Amandebele raak werklik agter hulle skildvelle weg, maar wanneer hulle opspring met hul vlymskerp assegaaie is dit vreesaanjaend om te aanskou. Nellie is maar bly dat die Boere sulke gedugte bongenote het. 

Een middag het hulle almal by Lobengula gesit toe die impi's met 'n aantal krygsgevangenes daar aankom. Langs Lobengula het 'n groot pot pap en vleis gestaan. Tussen die krygsgevangenes was 'n aantal kinders. Lobengula het die vleis en pap vir hulle gegooi en hongerig het hulle dit uit die sand opgeraap en gulsig opgeëet. Mevrou Grobler het Lobengula gevra om twee van die kinders vir haar as 'n geskenk te gee. Lobengula het die versoek geredelik toegestaan. "Die aasvoëls sal hulle tog nie vreet nie," het hy met galgehumor gesê.

Tydens 'n vergadering van die ringkoppe is die bondgenootskap tussen die Amandebele en die Transvaalse Republiek bespreek. Lobengula was greit om die bondgenootskap te sluit. Gedagtig aan Moffat se besoek aan Lobengula het Piet Grobler gevra: "Is jy dan nie ook 'n bondgenoot van die Engelse nie?"

Lobengula het lank nagedink voordat hy geantwoord het: "Hulle is die vriende van die Bamangwato, en die Bamangwato is nie die vriende van die Amandebele nie."

Frans Lottering het 'n ruk lank aan sy pyp gesuig en toe gevra: "Is dit nie waar dat die Bamangwato gewere by hulle vriende gekry het nie en hoe voel die Amandebele daaromtrent?"

Lobengula se voorkop het geplooi. Hy het 'n ruk stilswyend gesit alvorens hy geantwoord het: "Umghane wahmé loloegielêjo, my baie goeie vriende, ek kyk dikwels  na die wolke. Voor die storm kom hulle swart oor die berge en daar is baie donder en weerlig, maar hoeveel mense word deur die weerlig doodgeslaan? Dit is waar dat die Bamangwato stokke het wat donder en jy sien weerlig, maar hulle is so onskadelik soos 'n storm agter die berge. Die Amandebele is nie bang vir geraas nie, en ons assegaaie is blink en skerp en hulle vreet diep."

Dit is die laaste aand voor hul vertrek van Gubulawayo af. Die nag is soel. Buite skyn die maan helder oor die velde. Piet Grobler voel tevrede, want dit is duidelik dat Lobengula die Boere goedgesind is. Vir oom Paul het hy groete laat weet en die geskenke wat hy aan die Groot Kaptein gestuur het, het die wa se wiele dipe spore laat trap. 

Toe hulle die volgende dag vertrek, het Lobengula van sy beste krygers saamgestuur om sy vriende begeleide te doen. Die laaste wat hulle van hom gesien het, was die swart pluiskeil wat bo die omringende bosse uitgesteek het. Piet Grobler se verslag aan oom Paul was besonder gunstig. 

Twee jaar later, 1888, is die geselskap weer op die versoek van oom Paul naGubulawayo toe. Tydens die eerste besoek het alles so vlot verloop dat hulle geen onraad vermoed het nie en dit sou hulle byna hulle lewens kos. Hulle is reeds diep in Betsjoeanaland. Die son skroei neer en die osse stap so lusteloos aan dat die trense slap hang. Die broeiende hitte lê swaar op die bosbegroeide gebied waardeur hulle trek. Nellie sit voor op die wa by haar pa en oom Piet. Oudergewoonte kyk sy stip om haar heen. Dikwels het haar pa haar geleer om altyd terug te kyk wanneer jy op reis is, veral as die omgewing onbekend is, want met die terugkom, lyk alles anders en dit is waarom so baie mense verdwaal. 

"Pa," sê sy skielik: "kyk agter daardie mopanieboom. Ek is seker ek het wit pluime daar gesien." Frans kyk in die rigting waar sy dogter beduie en op daardie oomblik maak 'n groot aantal Bamangwato's in krysmondering hulle verskyning. Hulle kom dreigend nader en Frans weet onwillekeurig dat die groot oomblik aangebreek het. Hy gryp sy geweer en spring van die wa af en Piet Grobler volg kort op sy hakke. Sommige van die Bamangwato's is met gewere gewapen en ander dra assegaaie. Hulle is duidelik vyandig en Frans weet dadelik dat 'n botsing onvermydelik is. 

Die krygsmanne se liggame glim soos koper in die son en die geringste windjie laat die pluime van hulle hooftooisels beweeg. Die spiere bult op hulle borste en selfs op hierdie oomblik van doodsgevaar kan Frans nie anders om hul liggaamsbou te bewonder nie. Die twee mans is ongeveer 'n twintig tree van die waens af en Frans besef onmiddelik dat hulle 'n tragiese fout begaan het. "Terug wa toe, Piet," skreeu hy, maar dit was reeds te laat. 

"Batsjwareng lo ba bolaeng," gil die leier van die Bamangwato die oorlogskreet uit en die koeëls fluit by die twee manne verby. Toe Piet Grobler val, draai Frans om. Hy moet die aanstormende Bamangwato's wegskiet van sy vriend af. 'n Koeël tref hom  en Frans steier agteruit en toe val hy langs sy vriend neer. Hy probeer orent beur, maar tevergeefs. Hy voel oneindig moeg en toe word alles swart om hom. Toe Frans weer bykom, sien hy Nellie wat langs hom kniel. 

Toe sy haar vader sien val, het sy haar geweer gegryp en na hom toe gehardloop. Haar kappie het sy verloor en die wind het dit teen 'n bos vasgewaai. Doringtakke het haar rok geskeur. Voor haar het die Bamangwato's triomfantlik gejuig en soos besetenes te kere gegaan oor die magteloosheid van hul vyande, maar Nellie het haar nie laat stuit nie. Sy moes by haar vader kom om hom te help. Die koeëls het om haar gegons toe sy langs haar vader neerkniel. Haar vader is nie dood nie, want sy het hom hoor kreun. 

"God help my," en op daardie oomblik kom daar 'n kalmte oor haar. Sy onthou elke woord wat haar vader haar geleer het. Stadig lig sy die geweer se loop en druk die sneller. Op die voorste kryger se bors blom die bloed en hy stort neer. Nellie sien die wreedheid en moordlus in hulle oë. 'n Tweede skoot klap en 'n derde en nog twee wreedaards ruk orent en val enkele tree van haar af. Die leier, manmoediger as die res, storm reg op haar af. Nellie sien die enorme liggaam  voor haar en toe die skoot knal, is die trefkrag van die koeël so geweldig dat dit die leier behoorlik oplig en terugslinger. 

Indien hulle gestorm het, kon die Bamangwato's die Boeredogter oorweldig het, maar 'n bygelowige vrees het hulle beetgepak en die dood van hulle leier het hulle verder ontsenu. Hulle het geaarsel. Nellie het aanhou skiet. Elke koeël het die kol getref en toe het die Bamangwato's yslings gevlug - gevlug voor 'n Boeredogter wat met dodelike doeltreffendheid elke skoot laat tel het. Nellie het haar vader se geweer geneem en sy magasyn ook leeg geskiet. Die spierwit pluime van die gesneuwelde krygsmanne het gesidder in die wind. 

Frans en oom Piet het gou herstel, want die wonde was oppervlakkig. Lobengula wou die rede vir die verbande weet en sy woede het geen perke geken toe hulle hom van die skermutseling vertel nie. Hy het Nellie lank en ondersoekend aangekyk en hom toe tot Frans gewend: "Jou volk gaan 'n groot volk word, want waar die aarde so vrugbaar is, groei die bome hoog."

Jare later het die wawiele weer oor Bamangwato-gebied gerol. Frans Lottering sit ingedagte voor op die wa. Hy is nog net so onverskrokke soos altyd en sy wakker oë soek tussen die bome en die bosse, maar hy weet dat die Bamangwato nie sal aanval nie. Nellie is getroud en dit is net sy vrou wat langs hom sit. Haar oë soek tussen die bome en die bosse. Frans bespeur dit en terwyl hy sy arm om haar slaan, sê hy: "Hulle sal nie aanval nie, Moeder, nie vandag nie en ook nie môre nie, want hulle het nog nie van die Boeredogter vergeet nie, en ook nie van die witgepluimde lyke wat hulle moes begrawe nie."

"Ja," sug sy: "Nellie is haar vader se dogter."

"Nee, Moeder, sy behoort aan ons albei en aan haar volk."

Hulle oë dwaal na die blou van die gesigseinder en hulle weet dat daar agter daardie wasige kom 'n nuwe en helder toekoms lok. 

Jeughelde

P.J. van der Watt

Shuter & Shooter

ISBN 0-86985-360-0

Japie Greyling