# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Winkel toe saam met Moeder

Ek wil lekkers hê uit daardie winkel," het Richard ongepoets gesê. "Waarom kan ek nie lekkers kry nie? Ons kry nooit lekkers nie."

"Ek dink jy eet te veel lekkers," het Moeder gesê, "en wat meer is, ons het nie nou tyd nie; ek moet baie goed koop."

"Dis altyd so; daar is nie tyd vir dit nie en nie tyd vir dat nie," het Richard nog ewe onbeskof voortgegaan. "Hier moet ek in die warm son loop met hierdie swaar mandjie, en ek kan nie lekkers kry nie."

Soos julle kan raai, was Richard in 'n baie slegte stemming, maar dit was 'n kwaal by hom; kort-kort was hy in een van daardie buie.

"Maar wanneer gaan ons dan huis toe?" het hy ongeduldig gevra.

"Wanneer ons klaar is," het Moeder gesê. "Ek maak so gou as ek kan, en jy moet onthou dat baie van die goed wat ek koop vir jou is. 'n Nuwe broek, nuwe skoene, en nog ander goed. Jy moet leer om geduldig te wees."

"Ek wil nie nuwe klere hê nie," het Richard gesê. "Ek hou meer van my ou klere."

"Jy sal vreeslik lyk as jy met 'n stukkende broek skool toe gaan," het Moeder nog geduldig geantwoord; maar om die waarheid te sê, het sy begin moeg word vir Richard se bog. "Ek loop liewer met 'n stukkende broek rond as om die hele môre van winkel tot winkel te stap. Ek kon nou lekker gespeel het met die ander kêrels."

Moeder het niks gesê nie, en Richard het al brommende langs haar gestap. 'n Mens moes net sy gesig gesien het!"

"Ek haat die winkel-toe-ganery!" het hy vir homself gemompel. Ek haat sommer alle mense en alles. Ek wens dat ek liewer dood was."

Skielik het hy 'n getap-tap-tap-tap agter hulle gehoor. Toe hy omkyk het hy 'n jong man gesien met 'n wit wandelstok in sy hand, en hy het voel-voel met die stok teen die sypaadjie geloop. "Daar is n arme blinde man," het Moeder gesê. "En hy is nog so jonk om blind te wees!"

Richard het weer gekyk na die man, en skielik het hy baie jammer gevoel vir hom. "Kyk daar," het Moeder gesê; "hy wil oor die straat gaan, en daar is so baie verkeer. Gaan help hom gou, Richard."

Richard het sy mandjie neergesit en die man gaan help. "Mag ek u help oor die straat?" het Richard baie hoflik gesê, en sommer ook die man se arm gevat. Die blinde man was baie bly, en Richard het hom veilig oor die straat gehelp. Daar was heeltemal 'n ander uitdrukking op richard se gesig toe hy weer sy mandjie neem. Toe hy daardie blinde man gehelp het, het hy homself vir 'n paar oomblikke vergeet, en hy het baie gelukkig gelyk. "Dit moet vreeslik wees om blind te wees," het hy na 'n rukkie gesê.

"O, ja, dit is" het Moeder gesê. "Om net na dinge te kan kyk behoort ons baie gelukkig te maak, al kan 'n mens nie alles koop wat jy sien nie. Het jy gehoor van die man wat nou die dag weer sy gesig herwin het?"

"Nee, ek het nie," het Richard geantwoord; "hoe het dit gebeur?"

"'n Beroemde dokter het 'n operasie aan sy oë gemaak, en nou kan hy weer sien. Toe hy twee jaar oud was, het hy masels gekry en dit het hom blind gemaak. En nou, in sy nege-en-twintigste jaar, het daardie dokter 'n suksesvolle operasie gemaak."

"Blind vir sewe-en-twintig jaar!" het Richard uitgeroep. "Maar dit moes vreeslik gewees het. Hy was seker baie bly toe hy weer kon sien."

"Bly is nie die woord nie. Toe hy die bome en blomme en geboue, sy huis en sy vriende sien, het hy hard geskreeu - 'Ek kan dit nie glo nie.'

"En ek het gehoor," het Moeder voortgegaan, "dat hy hardop gehuil het toe hy sy moeder en suster sien."

'Om te dink, Moeder dat dit nou die eerste keer is dat ek u gesig sien.'

Richard het na sy Moeder gekyk, en hy het gesien dat daar trane in haar oë was. "Ek is baie jammer dat ek so naar was," het hy gesê. "Dit is aangenaam om saam met Moeder winkel toe te gaan, regtig dit is."

Moeder het sy hand so effense drukkie gegee. Sy het verstaan.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell