# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Wie het so gemors?

Dit was vir Moeder 'n raaisel. Skaars 'n uur gelede het sy die slaapkamertapyt met die stofsuier skoongemaak - so skoon dat dit weer nuut gelyk het; ek kyk nou daarna, dit was vol wit kolletjies!

Wat sou dit kan wees? Sy het ondersoek ingesstel en ontdek dat iemand 'n papiersakdoek in baie klein stukkies geskeur en oor die tapyt gestrooi het. Wie sou hierdie kattekwaad aangevang het, het Moeder gedink?

Haar dogtertjie het daar op haar bedjie gelê, vas aan die slaap. Sy het so onskuldig gelyk dat Moeder nie kon glo dat sy dit gedoen het nie. Sy het ook nog nooit so iets gedoen nie. Terwyl Moeder nog in die kamer was, het Helen wakker geskrik. 

"O, jy's eindelik wakker; ek is bly, want ek wil jou vra hoe al daardie stukkies papier op die vloer gekom het."

"Ek weet nie," het Helen gesê. "Ek wonder wie sou hulle daar gegooi het?" Helen het vreeslik rooi geword, en toe het Moeder alles geweet wat sy wou geweet het.

"Wel, dis vir my snaaks dat jy niks daarvan weet nie," het Moeder gesê; "maar ek sal dit opvee, en miskien kan ons later daaroor gesels." Moeder het weer die tapyt skoongemaak, en toe is sy daar uit.

Moeder het niks verder oor die voorval gesê nie. Sy het besluit om te wag en te sien wat gebeur. Die volgende middag, voordat Helen gaan slaap het, het Moeder gesorg dat daar 'n doos papiersakdoekies binne maklike bereik staan. Helen het gaan lê.  Toe Moeder meen dat Helen aan die slaap was, het sy stilletjies na die kamer gegaan, en wat sou sy sien? Die hele tapyt was met stukkies klein papier bestrooi, net soos die vorige dag. Wat moes sy nou doen? Moes sy Helen wakker maak? Moeder het besluit om te wag. eindelik het Helen haar ogies oopgemaak, en sy haar Moeder langs haar sien sit.

"Ek is bly dat jy wakker is," het Moeder gesê, want ek wil jou 'n vraag vra."

"Wat is dit?" het Helen gesê.

"Vertel my van daardie stukkies papier."

Helen het nie gepraat nie. "Waarom het jy dit gedoen?"

"Ek weet nie."

"Weet jy dat jy baie stout is en 'n pak slae verdien?"

"Ja."

"Wat moet ek met jou doen?"

"Ek weet nie," het Helen gesê, en sy het begin huil.

"Wel, ek sal jou laat kies," het Moeder gesê. "Jy kan 'n pak slae kies, of jy kan kies om elke stukkie papier weer op te tel; wat kies jy?"

"Ek sal al die stukkies optel," het Helen dadelik gesê.

En toe het sy begin papiertjies optel, stukkie vir stukkie. Hoe lank sy geneem het, weet ek nie, maar sy was taamlik lank besig. Sy het die stukkies papier opgetel asof sy self 'n stofsuiertjie was; toe sy die laaste stukkie opgetel het, was die tapyt ook heeltemal skoon. Terwyl Helen daar besig was, het sy nagedink, en sy het besluit om nooit weer papiersakdoekies stukkend te skeur nie. Maar dit was nie al nie: sy het ook besluit om nooit weer vir Moeder 'n leuen te vertel nie, want Moeder vind maar altyd alles uit.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell