Werp dit weg

P.G. DU PLESSIS

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

VERTELLERS
DEEL TWEE


DEUR MERWE SCHOLTZ

Werp dit weg

Nuwejaar kom op die dorp nie verby nie, of een van die dorpsmense sal jou die ding van Genis en Lettie Veldsman vertel.

'n Mens wil nie sondig nie, maar voor ek my kom kry, sal ek o pad na die middernagdiens dink aan Genis en aan Lettie. En mnet 'n middernagdiens moet 'n mens nie aan sulke dinge dink nie, veral nie as die lys van die afgestorwenes met die slaan van die twaalf gelees word nie. Dan moet 'n mens eintlik weeklaag oor die kortstondigheid en die soos gras is sy dae, en 'n mens moet jou oor jou sondes bedink en hoe jy die goede gaan wil in die jaar wat kom. Maar hier by ons kan g'n niemand anders as om aan Genis se stryd te dink nie.

Nou is Genis maar so dat hy kort-kort beswaard raak. Dié is ons al half gewoond. Jy kom by sy winkel en jy sien sy gesig hang halfstok, maar jy steur jou nie te veel aan die ding nie, want jy ken hom so. Dan sal hy nou bekonkeld wees oor hierdie een se sondes en dan weer oor daardie een se sondes. so ken ons hom. Maar ons ken hom nie só dat  hy sy eie sondes vir hom te veel aantrek nie.

Ons het die ding begin agterkom net voor die laaste Nagmaal van Sewentig.

As ek goed onthou, dan was ons vier wat die oggend voor die koöperasie staan en praat het. Dit was ek en Genis, en dan was daar Veldsman van die plotte, en ek dink amper Ou-Koos het ook die oggend daar staan en laster.

Dit was die tyd toe Dominee net op die dorp gekom het en ons het staan en praat oor hoe duidelik hy vir jou 'n ding kon voorskilder. As Dominee oor die grootvuur vir jou verduidelik het, dan was dit al of jy hom aan jou voel vat-vat, en as hy by die geween en gekners van tande kom, dan was dit vir jou of jy wil saamkners.

So staan ons toe en praat en ek onthou nog goed die vorige week het Dominee gepraat oor die teks waar dit sê dat as jy na 'n vrou kyk om haar te begeer, dan het jy al klaar alles gedoen wat in jou gedagtes is - met permissie.

Veldsman, dis of ek hom vandag nog hoor, het nog gesê: "Dis die k waaiste opgaaf in die hele Woord."

Toe ons nou loop, toe raak Genis skoon aardig, want hy groet Veldsman met die hand, en terwyl dié nog staan en wonder wat nóú aan die gang is, toe sê Genis: "My broer, sewentig maal sewe..."

Met dié loop hy ook sommer. Ons staan toe nog daar.

"Hy's sweerlik weer beswaard," sê Veldsman.

En ons staan toe daar en wonder hoe sy beswaardheid nou hierdie keer gaan lyk, want ons wis oor 'n week of wat, as hy nou genoeg gebroei en geworstel het o p sy bed, dan kom die ding tog naderhand uit. Maar as hy beginom almal te "broer", dan kan jy maar weet. Omdat Genis altyd net met anderman se sondes deurmekaar is, dag Veldsman toe dis hy wat nou weet iets gedoen of gesê het. Hy wou toe gaan vrede maak, maar ons raai hom aan om die spulletjie net so te los, want uitkom sal die ding uitkom.

So 'n dag of drie later staan ons voor die koöperasie en dit was ek en Veldsman en die Pieterse-seun met die oop bek. Ons praat toe juis oor Genis se ding en wat dit sou wees, toe Lettie van Veldsman daar aankom.

Om die ding te verstaan, moet jy Lettie ook verstaan.

Waar Veldsman aan Lettie gekom het, kan ons ook maar nie mooi uitmaak nie. Veldsman was toe seker al naby die vyftig en ek reken Lettie het so gevat aan die dertig. Genis het altyd gesê Veldsman het vir Letter gekry oor hy so diep kon praat, want met sy gesig en sy plot kan hy so 'n meisie op g'n ander manier gekry het nie. Maar dit was nou voor die beswaardheid dat hy dit gesê het,

Want Lettie was 'n mooie mens. Ek wil, gedagtig aan Dominee se uitleg van daardie kwaai opgaaf vir 'n gesonde man, nou nie te veel praat nie; maar Lettie het groot blou oë gehad en swart hare, en 'n mond wat jou skoon op hol kon sit, en 'n lyf aan die vollerige kant, maar dit lyk of hy geswel het soos die vel oor hom sit, en haar vel was so glad soos 'n plakkieblaar - as jy plakkies ken. Maar ek wil liewer nie verder praat nie - dan besondig ek my.

Sy kom toe daar aangewaai, en ek wil net sê sy't half geroer as sy loop. Sy't so 'n waaierigheid in haar stappie gehad, en dan't sy net so éffentjies 'n stywevleis-dril gehad. Maar kom ons los dit, ek hou my nie met sulke dinge op nie, en Veldsman is 'n vriend van my.

Maar sy kom sê toe wat gaan aan met oom Genis, want sy't hom niks gemaak nie. Sy't so 'n  heserige stem, en sy praat sag of sy net met jou alleen praat, en sy sit daardie paar lippe van haar om 'n woord soos ... Maar kom ons los dit.

N,ee, sê Veldsman toe, hy sou nie kan weet nie, maar wat het hy gemaak?

Toe sy die winkel inkom om 'n stuk blouseep te koop, sê Lettie, toe vra sy h om die blouseep, en toe begin hy tru staan en hy hou sy hand voor hom uit, en hy's al dieper agter die toonbank in, en hy sê vir haar "wyk" of sy die duiwel is, en hy val half oor 'n boks en hy's daar  uit, agtertoe. Sy wil toe weet wat aan die gang is, en sy's agterna en sy kry hom agter die winkel waar hy die hoenders hou. Daar staan hy aan die draad en vashou, en  hy sê vir haar "wyk" en "Delila", net so.

Ons sê toe vir Veldsman hy moet die ding maar los, want hy sal wel later uitkom, en Lettie moet maar haar seep by Isaacs loop koop.

Toe's Genis ook nie by die Nagmaal nie. En daarna gaan verneem Dominee hoekom hy nie kerk toe kom nie, maar Genis sê hy voel hom beswaard en hy wil nie praat nie. So het hy verseg tot Nuwejaar toe.

Eendag, net voor Nuwejaar, staan ek en Veldsman voor die koöperasie, en ons wonder of Genis middernagdiens te kom, want sy vrou is Januarie van Sewentig dood en sy's op die lys van gestorwenes en hy sal seker kom.

Middagnagdiens toe is Genis daar, maar hy gaan sit agter, langs die paadjie, waar hy altyd derde bank van voor gesit het, want dit was voor hulle hom op sy ouderdom diaken gemaak het. Iets wat ook nie reg was nie.

Dominee wou ons seker maar 'n bietjie aanpraat vir die nuwe jaar, want die teks wat hy die aand vat, is toe nie die begrafnisteks wat ou-Dominee altyd vir die middernagdiens gebruik het nie. Nee, Dominee vat toe die een van as jou oog jou laat struikel, en jou hand en wat ook al, dan moet jy dit afsny en uitpluk en wegwerp.

Soos ek gesê het, kon Dominee 'n ding met kleur en geur voorskilder.

En toe hy nou lekker aan die gang is oor die afsny en die wegwerp, toe staan Genis op en hy keer Dominee net daar. Hy staan toe in die agterste bank, en dis of ek hom vandag nog hoor.

"Dominee," sê hy, "lees net vir my my oorle vrou se naam. Ek is sondig en beswaard, en ek kan nie meer luister nie."

Reken, Dominee sê net daar: "Goed broer," en hy lees gou die name van die gestorwenes. En Genis loop toe.

Dié nag is Dominee en Veldsman na Genis toe waar hy in sak en as sit, en Veldsman sê dis toe alles oor hy vir Lettie begeer het. Hy't toe daar sit en vertel hoe hy nie die gawe van onthouding het nie, en nog 'n klomp goed waaroor 'n mens nie praat nie.

Maar Veldsman sê hy kan mos sien hoe kyk ons almal vir Lettie, almal is seker maar skuldig; en as hy nie in die heilige eg met haar verkeer het nie, sou hy seker ook maar...

Maar die doodskoot vir Genis, sê Veldsman, sê Genis, was oor die afsny en die wegwerp. Dáár, sê Genis toe, wis hy nie herwaarts of derwaarts nie.

P.G du Plessis

Vertellers 2

Die tweede groot verhaalboek

deur Merwe Scholtz 

Radio Kuber Kontrei is 'n gratis Afrikaanse Agtergrond musiek kanaal. Kliek op ► links en luister via TuneIn. Maak asb. die ♥ rooi! deur ons as 'n FAVOURITE te merk. Vind ons APP op Google Play