# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Werkstaking by die kleigat

Was jy al op die Hoëveld na die eerste reëns geval het, as die brande groen uitslaan en die skape wind op uitstryk agter die botterblomme aan? Het jy dan al gelê teen 'n heuwel naby die kuile terwyl die skape, so teen middag, as dit warm begin te word, rustig om jou wei en gehoor hoe die geluid van 'n uitgetrekte grashalmpies verenig en saamsmelt tot die gerommel van 'n verre onweer? En as die skape dan gaan lê, het jy al plat op jou rug in die gras probeer om die rooivlerk te sien wat hoog in die blou lug klapwiek en sing, en as hulle lied uit is, luidrugtig afstort na die aarde?

Net so 'n dag was dit waarvan ek vertel. Pens was die beeswagtertjie en ek het die skape opgepas. Toe ek met die skape aangewei kom, was die beeste al daar maar van Pens geen spoor nie. Naderhand hoor ek 'n gemompel tussen die uitjies en die biesies langs die vlei en bekruip toe die plek waar die geluide vandaan kom. Plat op sy rug lê Pens in die ruigte, sy hoed oor sy gesig, besig om vir homself 'n dramatiese alleenspraak voor te dra:
(Op gebiedende toon met 'n growwe stem om my vader voor te stel): "Pens!"

"Ja, Oubaas!"

"So en so en dit en dit!"

(Brutaal): "Nee mastaag, Oubaas, glad nie so en so en dit en dit nie; so en so en dit en dit!"

"Boggom!" skree ek en gooi my baadjie oor hom. Verskrik vlieg Pens orent en kyk diékant toe in die verte. So maak hy altyd as hy skaamkry - hy kan mos nie bloos nie. 

In die walle van die kuil was pragtige blou potklei en dit was nie lank nie of Pens en ek was druk besig om die klei te brei en reg te maak. Nie weer lank daarna nie of Pens het 'n wa geskep én 'n span Afrikaners daarvoor met wye weglê-horings en hy dryf hulle met 'n lang biesie so luidrugtig dat die osse wat teen die hang lê en herkou, eintlik omkyk en pynvolle herinneringe kry. 

"Swartla-a-a-nd, jou dessitse ditsem! Vasvat! Donkerber-r-r-rg! Vaalty-y-yn, jou moern...ker-r-r-r-Vaalpens! Rooiland! Styfstaan, julle maaivoer-r-ries!" Toe Pens van sy karweiery moeg was, kom hy oor na my toe waar ek werkskaf. "Wat maak jy nou?" vra hy verwonderd. 

"'n Klei-os."

"Maar wat maak jy daar met die knipmes?"

"Ek sny die splyte van die hoewe."
Die volgende oomblik val Pens reg agteroor in die gras en skop sy hakskene in die lug soos hy lag. 

"Hoewe!" lag hy, wie het al 'n klei-os met hoewe gesien!"

Toe kry ek sommer skaam vir my werk en praat oor ander dingetjies.

"Weet jy wat, Pens, ek word nou moeg van skaap oppas."

"Wat wil jy dan maak, skool toe gaan?"

"Nee!" (Veragtelik) "Ek wil wegloop."

"Wegloop! Waarheen?"
"Sommer wegloop, verdwyn. Dan gaan ek ver weg: Bosveld toe of Johannesburg toe of na 'n ander land toe. Dan dink al die mense dat ek dood is. Naderhand sal hulle hoor van 'n kommandant of 'n generaal wat so kwaai is; hulle hoor hoe hy die Kakies uitmekaar gejaag het, toe hy die tjaanies laat spaander het. Dan trou die generaal met die dogter van 'n koning of 'n 'knight'..."

"Naait? Wat is 'n naait?"

"Dis 'n kêrel wat 'n sawel dra en ysterklere."

"Ysterklere? Hoe loop hy dan?"

'Wa-a-g man! Laat ek jou eers vertel. Dan hoor al die mense eendag dat die beroemde generaal op die stasie gaan wees. Dan span ou Van Eeden sy verewa in en bind linte in die perde se maanhare. Van Tonder en Brits en Van Vuuren en Pa en die hele spul trek hulle kisklere aan en gaan stasie toe om die generaal te sien. En as die trein stilhou, sit hulle 'n plank teen die goetswen en daar kom die generaal uitgery op 'n groot swart hings met 'n bles en 'n witvoet, wat so kopspeel en trippel dat mens sy hoewe  skaars kan sien. Regop sit die generaal te perd met 'n blink uniform aan en 'n lang blink sawel in sy hand. Die polisiemanne en die gart sal almal salueer. Die mense sal hoera skree en hulle hoede opgooi. Ewe deftig haal die generaal sy hoed af en verbeel jou hoe verwonderd Pa sal wees om te sien dis ek!"

"Ek wil ook wegloop," begin Pens met geesdrif, "en dan dink almal ek's dood. Dan sê hulle: 'Dis goed, die blikskottel is tog niks werd nie?' Dan hoor hulle naderhand van 'n groot kommandant of 'n generaal wat die rooinekke..."

"Maar jy's dan 'n kaffer! val ek Pens in die rede. 

"Ja, wragtaag!" sê Pens, langsaam en teneergeslae. "Wat kan ek dan word?"

"Ek sal jou sê, kry ek 'n blye inval, "jy kan my agterryer word."

"Jou agterryer? Jou verstand!"

"Wat kamsketel? Jy sal my agterryer word!"

En daar is die middag 'n hewige slag gelewer langs die kuil bo in die vlei. Die biesies en die uitjies was naderhand platgetrap en deurmekaar en Pens en ek altwee uit-asem. Daardie slag sou miskien beslissend gewees het, een van die keerpunte in die geskiedenis van ons land. Maar helaas, skape is vir sulke aangeleenthede net so blind soos die Voorsienigheid. Daar het 'n koel windjie oor die brand gekom en het met hom die geur van oopgaande botterblomme gebring. Maar vir 'n paar dae was daar 'n werkstaking by die kuil, waar mens teen die wal sulke gawe blou potklei uithaal. 

Toon van den Heever

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7