# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Die prys van Vergeetagtigheid

Feitelik alles was al klaar vir Kersfees. Die hele gesin was baie besig, om al die werkies klaar te maak sodat kersdag vir hulle die gelukkigste dag van die jaar sal wees.

Elke kind het sy werk gekry, en elkeen het 'n aantal dinge gehad om te doen, en as hulle almal mooi saamwerk, sal hulle alles betyds klaarkry.

Geoffrey se werk was om al die pakkette af te lewer wat Moeder vir die bure opgemaak het.

"Jy moet nie een vergeet nie, Geoffrey," het sy gesê. "Hierdie pakkies mag 'n groot verskil maak vir sommige van hierdie mense of hulle 'n aangename Kersfees gaan hê of nie, daarom moet jy nie een vergeet nie!"

"Ek sal nie vergeet nie," het Geoffrey gesê, "Ek sal sommer dadelik aan die werk spring."

En hy is daar met sy fiets weg, swaargelaai van die pakkies. Na 'n rukkie was hy weer terug om nog 'n vrag te kom haal.

Alles het voorspoedig gegaan totdat Geoffrey van sy skoolmaats ontmoet het. Hulle het lekker gespeel, en Geoffrey het by hulle aangesluit.

Aangesien daar nog slegs twee pakkies by die huis was wat hy moes aflewer, het hy gemeen dat dit nie sou saak maak as hy vir 'n rukkie speel nie; hy kon mos die pakkies later in die aand aflewer, het hy gedink. En dis Kersfees, waarom kan hy nie maar 'n bietjie speel nie. "'n Mens kan nie al die tyd werk nie," het hy vir homself gesê.

Met die spelery het hy die twee pakkies skoon vergeet, en ook die tyd.

Hy het baie laat by die huis gekom, en ongemerk binnegegaan sonder om aan die pakkies te dink. Sy gewete het hom 'n bietjie gepla, want hy moes eerder huistoe gekom het om die ander met hulle werk te help.

Dit was al elfuur daardie aand toe Moeder toevallig die twee pakkies onder die kombuistafel sien.

"O, die ondeunde seun!" het sy uitgeroep. "Hier het hy mooi twee pakkies vergeet. Ek sal hom nou wakker maak en stuur om hulle te gaan aflewer."

"Moet hom liewer nie nou stuur nie," het Pappie gesê. "Dit het begin vries, en die pad is baie glad."

"Maar die pakkies moet vanaand afgelewer word," het Moeder gesê, en sy was vasberade.

"Nou goed," het Pappie gesê, "dan moet ons hulle maar self gaan aflewer as hulle vanaand moet gaan."

"Ja, laat ons dit doen."

Alhoewel Pappie en Mammie baie moeg was van die dag se harde werk, het hulle die pakkies geneem.

"Ons sal gouer klaarkry," het Pappie gesê, "as jy na die een huis gaan terwyl ek na die ander een gaan - maar wees versigtig, want die pad is baie glibberig van die ys."

Toe Pappie by die huis kom, was Moeder nog nie daar nie.

Hy het gewonder waar sy kon wees, want dit was baie laat. Miskien het sy 'n bietjie te lank gesels met die mense.

'n Halfuur het verby gegaan, en toe het Pappie begin onrustig word. Dit was al byna middernag.

Hy wou net uitgaan om na haar te gaan soek, toe daar aan die deur geklop is. Dit was moeder. Sy was bleek en uitgeput, en sy het haar arm vasgehou.

"Ek het gegly en geval," het sy gesê. "Ek dink ek het my gewrig gebreek. Ontbied die dokter!"

Dit was nou vir julle 'n ramp, en boonop nog op die vooraand van kersfees!

Daar het 'n somber gees die volgende oggend in daardie huis geheers. Daar was geen kersfeesvreugde nie, want arme Moeder was in die bed en in pyn, en wie kon in sulke omstandighede bly wees?

Geoffrey het min gesê, maar baie gedink. Hy was baie hartseer.

Waarom het hy tog daardie pakkies vergeet!

As hy maar liewer sy werk eers gedoen en later gaan speel het! Waarom het hy nie die werk gedoen wat Moeder hom gegee het nie! Hoe anders sou alles dan gewees het. Om Moeder so in pyn te sien, was seker die swaarste straf wat hy nog ooit verduur het.

Hy het natuurlik vir Moeder gesê hoe spyt hy is, en dat hy nooit weer so vergeetagtig sal wees nie, maar dit kon nie vergoeding doen vir wat gebeur het nie.

Kersdag was vir daardie huis heeltemal bederf. Al die voorbereidings het waardeloos gelyk. Almal was miserabel, en selfs die Kersboom met al die versiersels daaraan het uitspattig gelyk.

En dit alles omdat 'n seun vergeet het wat hy moes doen!

Maar een ding staan egter vas: Geoffrey sou daardie kersdag, en die prys wat betaal moes word vir sy vergeeetagtigheid, nooit vergeet nie.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell