# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Wat 'n halwe Appel gedoen het

Het julle die storie gehoor van die perd wat die helfte - wel, byna die helfte - van die verkeer van die groot stad Londen tot stilstand gebring het? Nie? Dan moet ek eers van die perd vertel. 

Ek weet nie wat sy naam was nie, maar ons noem hom Fred.

Wel, Fred het een môre taamlik nukkerig sy werk begin. Miskien het hy met die verkeerde poot uit die stal gestap. In elk geval, hy was glad nie ingenome met die gedagte om die môre langs sy maat 'n swaar trollie van die stad na die dokke te trek nie. Dus besluit hy toe om steeks te wees.

Toe die trollie die middel van 'n groot brug bereik - juis die plek waar niemand ooit toegelaat word om stil te hou nie - besluit ou Fred hy gaan nie verder nie. Hy het botstil gaan staan en wou nie roer nie.

Die baas het van die trollie afgespring en met Fred begin mooipraat en toe dreig hy hom, maar dit was alles verniet. Fred het doodstil gestaan. Sy maat het hom probeer trek, maar Fred en die trollie saam was te swaar.

Intussen het 'n bus agter die trollie stilgehou en agter die bus twee of drie motors en nog 'n bus. Maar Fred het hom nie daaraan gesteur nie. 'n Konstabel het nadergestaan en die drywer beveel om weg te trek, maar al wat die arme drywer kon sê, was dat sy perd steeks is.

Toe praat die polisieman met Fred en probeer hom vorentoe trek, maar dit het niks gehelp nie. Fred het besluit om te staan waar hy staan!

Die verkeer het nou begin ophoop agter hulle, en het reeds tot ver in die stad gestrek - busse, motors, waens, motorfietse, trollies - terwyl almal ongeduldig geword en hulle nekke gerek het om te sien wat dan die moelikheid is daar voor. 'n Boot op die rivier het geblaas om te laat weet dat hy wou verbygaan, maar ou Fred het om aan die wêreld nie gesteur nie. Juis op hierdie tydstip het 'n seun met 'n appel in sy hand daar verbygekom. Toe hy die lang ry motors en busse sien, het hy dadelik gedink dat daar 'n ongeluk was en hy het na plek begin hardloop waar ou Fred nou tussen 'n hele klomp mense, nog steeds geweier het om 'n poot te versit, ten spyte van al hulle geraas en dreigemente.

Dick het tussen die mense deurgedruk om beter te kan sien, nog steeds kouende aan sy lekker appel. Toe die drywer Dick sien, het hy sommer 'n blink gedagte gekry.

"Leen my asseblief daardie stuk appel!" skreeu hy vir Dick.

Dick het geskrik. Hy wou nie sy appel weggee nie- want dit was te lekker. Maar toe hy sien hoe bekommerd die arme man lyk, het hy hom die helfte wat oorgebly het, gegee.

Die uitwerking op ou Fred was wonderlik. Toe sy baas die stuk appel voor hom hou, rek hy sy nek om dit by te kom. Toe sit hy een poot vorentoe, toe die ander een, en voor hy weet waar hy was, was hy oor die brug en op pad dokke toe.

Toe begin die busse, motors, waens, trollies, motorfietse, en die stoomboot almal weer beweeg - en dit net omdat 'n jong seun sy halwe appel opgeoffer het.

Hoeveel goed het die seun nie daardie môre gedoen nie! Dit is nou wel waar, hy het nie baie gehad om te gee nie, maar hy het dit gegee en juis net toe dit die nodigste was. Dit wys net wat seuns kan doen as hulle hul oë oop hou vir kanse om te help. Hulle doen dit miskien nie altyd so voor al die mense soos Dick nie, maar hulle kan soms van groot nut wees, selfs tuis. 'n Halwe appel, 'n vriendelike woord, 'n bossie blomme, 'n glas koue water, of net 'n bietjie liefde laat baie wiele begin draai. Probeeer net en kyk!

Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell