# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Wat ek optel is myne

Jessie was so opgewonde toe sy vir die middagete tuiskom dat sy byna nie kon praat nie. "Moeder, kyk wat het ek opgetel!" het sy uitasem gesê.

"Wat is dit?" het Moeder uitgeroep. "Dit lyk vir my na 'n beursie."

"Ja, dit is," het Jessie gesê. "Dit is die pragtigste beursie, en daar is baie geld ook in. Dink net wat ek alles daarmee sal kan koop."

"Gee dit hier," het Moeder gesê, terwyl sy die beursie neem, dit oopmaak en binne kyk. "Jy is reg, Jessie, daar is baie geld in - sowat vyftien sjielings."

"Is daar?" het Jessie opgewonde gesê.

"Maar jy kan dit nie hou nie," het Moeder gesê.

"En waarom nie?" het Jessie verbaas gevra. "Wat ek optel is mos myne, is dit nie?"

"Ja, soms speel kinders so," het Moeder gesê, maar as dit iemand anders se beursie is, is dit 'n ander saak. Miskien het 'n arm vrou dit verloor onderweg na die winkel, en miskien is dit al geld wat sy gehad het om vir haar gesin kos vir die week te koop. "

"Maar Moeder, ek het dit dan opgetel?"

"Ek weet dat jy dit opgetel het, maar dit is nog hare solank jy nie alles moontlik gedoen het om die eienaar op te spoor nie. Dink 'n bietjie hoe jy sal voel as jy jou beursie verloor het en die persoon wat dit optel wil dit nie teruggee nie. Jy sal glad nie daarvan hou nie, sal jy?"

"Ek het nie daaraan gedink nie," het Jessie gesê. "Ek glo nie ek sal daarvan hou  nie."

"Jy sal ook nie," het Moeder gesê, "en as ons aan ander wil doen wat ons van hulle verwag om vir ons te doen -"

"Ek dink ek sal dit maar liewer terugneem," het Jessie haar in die rede geval. Maar wat sal ek daarmee doen?"

"Die regte ding is om dit na die polisiestasie te neem," het Moeder gesê, "en hulle sal dit daar hou todat iemand dit kom opeis. As niemand dit kom nie, sal hulle dit weer aan jou teruggee."

"Nou goed dan," het Jessie met 'n glimlag gesê. "Ek sal dit sommer dadelik neem. Daardie arme vrou bekommer haar seker vreeslik daaroor."

Sy het so vinnig gehardloop as wat sy kon. Op pad na die polisiestasie het sy 'n ou skool vriendin ontmoet.

"Waar gaan jy so haastig heen?" het Marjorie gevra.

"O, ek het 'n beursie in die straat opgetel, en ek neem dit gou na die polisiestasie."

"Is daar geld in?"

"Ja, vyftien sjielings."

"Moenie so dom wees nie, hou dit," het Marjorie gesê.

"Ek kan dit nie doen nie," het Jessie gesê. "Dit behoort miskien aan 'n arme vrou, en sy voel seker baie sleg daaroor. Sy moet dit so gou moontlik terugkry."

"Moenie so dom wees nie," het Marjorie weer gesê. "Moenie jou oor ander mense bekommer nie."

"Miskien is ek dom," het Jessie gesê, "maar ek gaan dit tog by die polisie afgee."

By die polisiestasie gekom, het Jessie kortliks vertel wat gebeur het. Die polisieman het haar welwillend aangekyk, en gesê dat sy seker die eerlikste dogtertjie in die hele dorp is. Hy het haar naam en adres opgeskryf, en ook die berag in die beursie. Jessie is daar weg, so bly asof iemand haar 'n groot som geld nagelaat het.

Maar dit is nie die end van die storie nie. Daardie aand is daar aan die deur geklop; Jessie het die deur gaan oopmaak, en daar het die predikant se vrou gestaan - een van haar beste vriendinne.

"Jessie," het die besoekster gesê, "ek het nou net my beursie by die polisiestasie gekry; daar het hulle my vertel dat jy dit kom inhandig het. Ek wil jou baie hartlik bedank, en ek wil jou ook iets gee om te toon hoe dankbaar ek is."

"O, nee, nee, nee!" het Jessie uitgeroep. "Ek wil niks hê nie. Ek is so bly dat ek u kon help om dit weer terug te kry. Ek het nooit gedroom dat dit aan u behoort nie, anders sou ek dit dadelik na u toe gebring het. "

"Ek weet jy sou," het die predikant se vrou gesê. "En ek wil net weer sê, Jessie, hoe baie ek waardeer wat jy gedoen het. Ek sal dit nie vergeet nie."

Toe die besoekster weg is, het Jessie haar Moeder se oog gevang,  en albei het tevrede geglimlag.

"Dit was 'n bestiering dat ek dit teruggeneem het," het Jessie gesê. "Sê nou maar ek het kerk toe gegaan met daardie beursie in my hand! Ek kry sommer koue rillings as ek daaraan dink. En as ek daardie geld spandeer het, sou ek myself nooit vergewe nie."

"Wel," het Moeder gesê, "dit is net weer 'n bewys dat dit altyd betaal om reg te doen."
 
Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell