# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Waarom Marie weer moed geskep het

"Dit help tog nie," het Marie gesê, terwyl sy haar boeksak op die kombuistafel neergooi, "ek sal nooit weer probeer nie."

"Wat makeer dan nou, Marie?" het Moeder gevra. "Jy was so opgeruimd to jy vanmore skool toe is."

"Miskien was ek," het Marie troosteloos gesê, "maar nou is ek nie."

"Maar hoekom dan?"

"Die eksamen-uitslae is vandag bekendgemaak, en ek staan weer twaalfde; en ek wou so graag hierdie keer eerste gewees het."

Marie het nou droewig begin huil.

"Ag, moenie so neerslagtig wees nie," het Moeder gesê, "dit kon baie erger gewees het; jy kon miskien heeltemal laaste gestaan het, en dit sou vreeslik gewees het, nie waar nie?"

"Ja, dit sou seker," het Marie gesê, "maar ek kom nooit verder as twaalfde nie, en ek probeer so hard. Ek het nog nooit 'n prys gekry nie, en sal seker ook nooit nie. Ek is 'n domkop, dit is wat ek is, en ek sal nooit iets in die wêreld word nie."

"Nee wat, Marie, jy sal nog presteer. Daar is onderwerpe waarin jy byna vol merke het. Nou die dag het jy dan vyf-en-negentig persent vir somme gekry. Jy behoort baie bly te wees daaroor."

"Ek is bly oor niks," het Marie gesê.

"Nou sal ek jou 'n storie vertel," het Moeder gesê. "Jy het seker al gehoor van Mnr. Baldwin, gewese Eerste Minister van Engeland?"

"Ek weet nie," het Marie gesê.

"Wel, toe hy as seun die toelatingseksamen by die beroemde seunskool, Harrow, geskryf het, het hy gedruip."

"Het hy?" het Marie gevra.

"Ja, hy het," het Moeder gesê. "En nog 'n seun wat saam met hom gedruip het, was Freddie Smith. Toe hy groot was, het hy Lord Birkenhead geword, seker een van die slimste advokate van sy dae."

"Miskien is daar nog hoop vir my," het Marie gesê met so 'n flou glimlaggie.

"En dis nie al nie," het Moeder voortgegaan.  "Jy  het tog seker van Clive van Indië gehoor, hy kom in julle geskiedenis voor."

"Wel, sy onderwysers het nie geweet wat om met hom te doen nie. En wat die groot admiraal Nelson betref, op skool was hy 'n baie dom kind. Sy onderwyser het seker nooit gedroom dat hy eendag die slag van Trafalgar, en die slag van die Nyl sou wen nie."

"Hy het seker nie," het Marie gesê.

"En dan is daar nog Sir Ernest Shackleton, daardie dapper Suidpool-reisiger; jy sal dit nie glo nie, Marie maar as seun het hy altyd baie laag in sy klas gestaan;  hy kon nou eenmaal nie leer nie."

"Om te dink dat al daardie groot manne net soos ek is," het Marie gesê, met 'n breë glimlag en ogies wat begin fonkel het.

"O, daar is baie mense soos jy. Selfs Abraham Lincoln moes lelik worstel toe hy jonk was. Niemand kon in daardie dae ooit droom dat hy eendag President van die Verenigde State sou word nie.

"Wel," het Marie uitgeroep, "ek het altyd gedink dat die groot manne van die wêreld eerste in hulle klas gestaan het."

"Dit is vreemd,' het Moeder gesê, "maar baie min van hulle het eerste gestaan. Baie van die vernaamste manne van die wêreld het dit baie swaar op skool gehad. As 'n mens eerste in jou klas staan, beteken dit nog lank nie dat jy jou hele lewe lank in alles altyd eerste sal wees nie."

"Maar die seuns en dogters wat eerste staan, lyk altyd so slim," het Marie gesê, "maar onthou jy die storie van die skilpad en die hasie? Dis nie altyd die een wat die vinnigste is wat eerste by die wenpaal aankom nie."

"Ek is net so stadig as 'n skilpad," het Marie gesê. "Nou ja, moet dan nie meer so neerslagtig wees nie; hou aan," het Moeder gesê. "Eendag sal jy tog wen as jy aanhou."

"Wel," het Marie gesê terwyl sy vinnig opstaan met nuwe hoop in haar hart, "ek sal volgende keer nog harder probeer." En sy het.

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell