# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Waarom die hele wêreld hartseer was

Die hele wêreld was hartseer toe Koning Eduard VIII sy troon verlaat het. Vir dae voor hy dit werklik gedoen het, het die mense van niks anders gepraat nie. Die gerugte het in feitelik al die koerante van die wêreld verskyn.

In die groot stede, in afgeleë dorpe, en in die woestyn is daar oor niks anders gepraat nie. By 'n afgeleë grage in die eensame Arizona-woestyn, was die eerste vraag wat aan my gestel is nie "hoeveel petrol wil u hê nie?" maar "Wat van die koning?"

Orals het dit so gegaan. In die kerke, in die skole, in die eetplekke, en in die winkels, het die mense net die een vraag gehad, "Wat van die koning?"

En toe hy eindelik sy abdikasie aangekondig het, het die mensdom verslae gestaan. In sommige plekke het sake daardie dag gesluit. Waarom het die mense hom so liefgehad? Die vernaamste rede, meen ek, was sy bedagsaamheid teenoor ander, gepaard met 'n begrip van hulle behoeftes. Daar was iets omtrent sy opregte vriendelikheid, en veral sy belangstelling in gewone mens, wat die liefde van almal gewin het - Engelse, Australiërs, Kanadese, Suid-Afrikaners, Amerikaners, en die mense van alle lande.

Onthou julle nog die mooi ding wat hy gedoen het met die tewaterlating van die "Queen Mary" in die Clyderivier? Daar word beweer dat hy daardie dag altesame sewe myl op die skip gestap het op sy inspeksietoer. En toe hy klaar was en almal gereken het dat hy nou sou huis toe gaan, het hy, tot verbasing van die speurders wat hom bewaak het, deur die groot skare gedring en die huise van die mense daar by die dokke besoek. Die meerderheid van hulle het in die agterbuurte gewoon - plekke wat konings nie gewoonlik
nie besoek nie - maar dit het Koning Eduard nie afgeskrik nie. Hy het by daardie huisies in- en uitgegaan, en met die verbaasde moeders en kinders gesels asof hulle aan Sandringham-paleis behoort het.

"As dit reg was om die Queen Mary te besoek, dan kan dit tog seker nie verkeerd wees om die mense te besoek wat daardie skip gebou het nie." Dit was sy houding, en toe die verhaal die volgende dag in die koerante verskyn, het dit die hele land in beroering gebring.

Dit laat my dink aan 'n ander vriendelike daad wat hy 'n aantal jare tevore gedoen het toe hy nog Prins van Wallis was.

Hy was op besoek aan 'n privaat hospitaal vir verminkte soldate. Hy het van die een bed na die ander gegaan, en woorde van aanmoediging gespreek. Toe hy op die punt gestaan het om weer te vertrek, het hy gevra of hy al die pasiënte gesien het.

"Nee," was die antwoord, "daar is nog sewe ander, maar hulle is so vermink dat u hulle seker nie graag sou wil sien nie."

"Ek moet hulle sien," het die prins gesê.

Toe is hy na die vertrek van buitengewone lyding geneem. Stil het hy van bed tot bed gegaan en elkeen bedank vir wat hy vir Engeland gedoen het.

By die deur het hy aan die gids gesê, "U het gesê dat daar sewe man is, maar ek het net ses gesien.  Waar is die ander een?"

"Meneer," was die antwoord, "niemand kan die man sien nie, hy lyk te vreeslik - hy is so vermink dat hy nie na 'n mens lyk nie."

"Ek moet daardie man sien," het die prins gesê. "Ek sou dit nie aanraai nie, U Koninglike Hoogheid; hy lyk te vreeslik.

"Ek wil daardie man sien."

Saam is hulle die vertrek in, en die prins, hoewel bleek, het met ferme tred na die bed gestap en gebuig oor daardie menslike wrak wat hom nie eens kon sien of hoor nie. Toe het die prins stadig laer gebuig en die man gekus - dit was seker die grootste huldedaad wat 'n koning van Engeland nog ooit gedoen het.

Hierdie storie wat al so baie vertel is, sal seker nooit sterf nie, want dit het ewige hoedanighede wat die liefde van 'n koning verkondig vir 'n lydende onderdaan - liefde net soos die van God vir ons almal.

As koning mag hy vergeet word, maar as 'n vriend van die volk sal hy altyd onthou word. Liefde baar liefde, en dit is liefde soos hierdie - nederige, bedagsame, grootmoedige dade - wat die harte van mense win.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell