# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Waar die Engele ween

Van Tommy gepraat laat my dink aan 'n ander storie wat ek al lankal aan julle wil vertel. Dit is omtrent Tommy se huis; of liewer van die wonings van honderde arm seuntjies en dogtertjies wat in die agterbuurtes van die groot stede van die wêreld woon.

Ek het baie van daardie wonings besoek, en ek wil hê dat julle my in die gees moet vergesel op een van my besoeke, as julle wil, want as iemand julle nie neem nie, is ek seker dat julle noooit self sal gaan nie.

As julle byvoorbeeld eendag na Londen sou gaan, sal julle plekke soos die Toring, Westminster Abdy, en die St. Pauluskerk besoek. In Parys sal julle natuurlik na die Eiffel-toring, die Louvre, en Napoleon se graf gaan kyk. In New York sal julle die Empire State-gebou, Radio City, en ander plekke besigtig. Maar julle sal seker nooit dink om, weg van die verligte hoofstrate, die agterbuurtes te besoek om te sien hoe mense daar lewe nie.

Dit sal ons goed doen om soms sulke plekke ook te besoek, sodat ons iets mag verstaan van hulle behoeftes, en ook iets mag doen om hulle lot te versag uit dankbaarheid vir die seëninge wat die Here ons skenk.

Wel, hier is ons nou in die straatjie waar Tommy woon. Dit is 'n liederlike plek, want daar is nie mooi grasperke en tuine voor die huise nie. Die huise staan sommer in lang rye, teen mekaar, aan albei kante van die straat. Die deure gaan sommer op die sypaadjies uit. Dit wemel van die kinders, in vuil, stukkende klere.

Daar is 'n huis waarvan die blindings afgetrek is. Daar moet iets verkeerd wees. Laat ons gaan kyk. Verskeie gesinne woon in daardie huis - 'n gesin woon almal in een kamer. Hoe sou julle daarvan hou om so te leef?

Ons klop aan die deur. Dit word oopgemaak deur 'n man wat baie bedroef lyk. Daar is trane in sy oë, en 'n mens kan sommer sien dat hy gehuil het. Hy neem ons na 'n klein kamertjie in die agterste gedeelte - dis maar nege by nege voet, en daarin het hy en sy vrou en drie kinders gewoon; maar hulle is nie nou daar nie. Sy vrou en een van die kinders het so pas heengegaan. Hulle was ondervoed, en toe hulle siek word, het hulle geen krag gehad om weerstand te bied nie.

Daar is geen meubels in die kamer nie, behalwe die doodkis waarin die kinders se mammie nou lê. Ons vind twee van hulle aan die slaap op die bed van een van die bure in die ander kamer langsaan. Die arme wesies!

Maar kyk bietjie kan die kat daar! Kyk hoe wakker lyk hy! Hoekom? Hy is besig om rotte voor te sit wat uit die rioolpype kom.

Hoe grieselig! hoor ek julle sê. Rioolrotte in die slaapkamer! Ja, maar wag, daar is nog meer om te sien. Kyk na die huis in die volgende straat. Dit is 'n bietjie groter as die een waar ons nou net was, maar vyf-en-twintig mense woon daarin.

Die gesin wat ons wil besoek, woon in die kelder kamers - net twee kamers - 'n slaapkamer en 'n kombuis. Daar woon 'n Vader en Moeder en vyf kinders. Laat ons 'n bietjie na die slaapkamer kyk.

Daar is orals gate in die vloer, en sommige is met stukkies plaat toegemaak. Dit is rotgate, en so fris as die gate toegemaak word, vreet die rotte nuwes. Kyk na daardie barste by die kaggel; dit is waar die kakkerlakke wegkruip; saans kom hulle by die honderde uit sodat die kamer van hulle wemel. Vieslik! Ja, dit is. Kyk daardie onderwetse ou ysterkatel, met sy mat wat in die middel amper aan die vloer raak. Niemand kan seker op so 'n ongemaklike bed slaap nie!

O ja, dis waar die kinders slaap; almal slaap op daardie een bed - of ten minste vier van hulle - tussen die rotte en muise en goggas. Hulle is regtig te bejammer! Kom laat ons noumaar loop-

Julle wil niks verder sien nie, ek weet. Nou ja, goed, kom dan saam met my na Tommy se sendingsaal - julle weet die een waar die oesfees gehou is. Ek wil julle laat sien hoe daardie liewe mense sorg vir die ongelukkige kinders van die arm gesinne.

Elke agtermiddag word sowat sewehonderd kinders daar gevoed. In die saal is daar plek vir slegs vyfhonderd; die ander moet hulle beurt buite afwag - soms in die reën!

Laat ons hulle vir 'n rukkie gadeslaan.

Dit is tien minute voor vyf, en 'n skare opgwonde kinders stroom in, dosyne en dosyne en dosyne van hulle, almal vuil en verflenterd, maar almal so bly en gelukkig dat hulle binne 'n paar minute iets gaan kry om te eet.

Julle het seker nog nooit so 'n skouspel in julle hele lewe gesien nie. Kyk daar in die voorste ry is nie een met heel skoene aan nie. Almal se tone loer uit, en hulle dra geen kouse nie. Die meeste se klere pas glad nie vir hulle nie, want dis ander se ou klere. Hulle hare is nie gekam nie, en hulle gesiggies is vuil. En van hulle neuse wil ons nie eens praat nie! Die arme kinders!

Ons kan al die kos ruik; dit sal seker gou gereed wees. Die heerlike geur laat almal se gesigte straatl van verwagting. Hulle kan byna nie meer wag nie. Daar word 'n fluitjie geblaas, en 'n vriendelike man praat.

"Wat doen 'n mens voor jy eet?" vra hy.

"Hy dank!" skreeu 'n hele paar gelyk.

"Ja, dis reg," sê hy. "En wat nog?"

"Sing!" het 'n hele paar weer uitgeroep.

"Goed dan, laat ons sing sodat Jesus kan weet hoe lief ons Hom het."

En kan hulle sing!

Ek sou sê dat hulle kan. Ek wens dat julle hulle kon gehoor het. Alhoewel dit lank gelede is dat ek hulle laas gehoor het, klink hulle mooi stemme nog in my ore. Ek wens dat ek hulle weer kon hoor. Wat het hulle gesing?

"Gods volk sal gen gebrek ly;
Hy kan ons nie vergeet;
Die Skepper van die lelies
Sal ook sy kinders kleed.
Die Here voed Sy skepsels
En let op hulle nood;
Hy sorg selfs vir die rawe
En gee sy kinders brood."

Is dit nie mooi nie! Dink aan die troostelose huise waaruit hulle kom, so vuil en onaangenaam, en tog sing hulle van die liefde van Jesus wat daar tot hulle kom! Maar luister weer; hulle sing nou 'n ander lied, mooier as die eerste:

"Want vreugde en verdriet
Moet saam my heil bewerk;
U liefde maak my beker soet,
En in U is ek sterk."

Weer en nog weer het hulle daardie woorde gsing, "U liefde maak my beker soet!" Kyk na die glimlaggies op hulle bleek gesigte waar  hulle so staan en sing van die liefde van God. En hoe dankbaar lyk hulle!

Ek weet nie hoe hulle dit kan doen nie. Is julle ook so dankbaar tot God vir sy liefde en sorg? En nou kom die kos. Eindelik kan hulle eet. Hoe bly lyk hulle? Hulle kry geen messe of vurke of lepels nie, want daardie gereedskap sal net 'n beslommernis wees. Die eerste klomp is sommer gou klaar geëet, en stadig stap hulle uit sodat die ander wat so geduldig buite gewag het, hulle beurt kan kry. Wanneer julle vanaand bid, sal julle nie ook dink aan daardie arme kinders van die agterbuurtes nie?

My Bede

"Ek vra nie, liewe Heer, dat U
My las moet ligter maak,
Maar dat ek op die smalle weg
U seën steeds mag smaak;
U seën steeds mag smaak.

"Skenk my, wat ook al mag gebeur,
Berusting in my lot:
Help my om kinderlik te sê:
U wil geskied, O God;
U wil geskied, O God."

"As U my lei, sal ek nie vrees
Ten spyte van gevaar;
U wat my lig en lewe is,
Sal ook my siel bewaar;
Sal ook my siel bewaar."

"U is my hoop en toevlugsoord.
O God wat my vertroos;
U is die vreugde van my siel
Vir ewig en altoos;
Vir ewig en altoos."

"O maak my naarstig in U diens;
Leer my die tyd uitkoop,
En laat die oordeelsure my
Tot liefdedade noop;
Tot liefdedade noop."

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell