Waaghalse

"Weet Moeder wat ek nou kan doen?" het Maurice uitgeroep terwyl hy die huis opgewonde binnekom. 

"Nee, ek weet nie," het Moeder gesê, "maar jy is altyd met iets besig."

"Wel, ek kan loshande op my fiets ry."

"Dit mag wonderlik wees," het Moeder gesê, "maar ek is bevrees dat dit nie verstandig is nie."

"Waarom nie?" het Maurice gevra, "al die seuns probeer om dit te doen, en ek kan dit nou beter as hulle almal doen."

"Miskien kan jy", het Moeder gesê, "maar wat is tog die doel daarmee?" 

"Wel, ek weet nie," het Maurice gesê, "maar dis baie lekker."

"Maar dink jy nie dat dit gevaarlik is nie?" het Moeder gesê

"Gevaarlik?" Ag Moeder se altyd dat dinge gevaarlik is," het Maurice vererg gesê.

"Ons waag almal soms," het Moeder gesê, "maar waarom moet 'n mens jouself onnodig in gevaar stel?"

"Daar is geen gevaar in nie," het Maurice gesê. "Dis so maklik."

"Wel, ek wens dat jy dit liewer nie wil doen nie," het Moeder gesê, "veral met al die verkeer op die pad. En, waarvoor het 'n fiets dan handvastels as hulle nie is om 'n mens veilig in die pad te hou nie?"

"Moeder," het Maurice gesê; "daar is niks om voor bang te wees nie."

Daarmee is hy weer op sy fiets. Hy is die afdraand voor die huis af met sy arms gevou, en met 'n uitdrukking van volslae minagting van sy Moeder se waarskuwing op sy gelaat. 

Die fiets het al vinniger en vinniger geloop, en Maurice het van kant na kant gekyk om te sien of iemand miskien na hom kyk. 

Byna onder het hy twee dogtertjies langs die pad sien staan. Om te spog, het hy 'n bietjie meer regop  gesit met sy gevoude arms, asof dit maar sy doodgewone manier van ry was. Dit was glad nie "spog' daardie nie, hoegenaamd nie! Hy wou maar net die twee dogtertjies wys hoe 'n seun  loshande so 'n afdraand afry, dis al.

Wat Maurice nie geweet het nie, was dat daar 'n baksteen voor in die pad gelê het. As hy sy kin nie so hoog gehou en nie so penreggop gesit het nie, sou hy die baksteen vroegtydig gesien het; maar hy het dit nie gesien nie, en toe hy hom weer kom kry, was daar 'n geweldige stamp. Die voorwiel het geswenk, en voordat Muarice kon besef wat gebeur het, het hy in die sloot langs die pad gelê

Manne wat daar naby gewerk en die slag gehoor het, het daarheen gehardloop om te sien wat gebeur het. Hulle het Maurice onder in die sloot in die modder gekry, met sy fiets, lelik gebuig, bo-op hom. 

Hy het vreeslik gelyk! Hy was vol pap modder  toe hulle hom daaruit haal; en sy gesig, hande, en knieë was rooi van die bloed soos hy hom stukkend geval het. 

Die manne was baie vriendelik; die een het Maurice huis toe gehelp, terwyl die ander een sy beskadigde fiets gedra het. 

Moeder het haar lam geskrik toe sy die deur oopmaak en die aaklige skouspel sien. "Op die aarde! wat het gebeur?"

Maar dit was nie nodig vir haar om te vra nie. Sy het dadelik geraai. Dit was presies wat sy vir 'n hele tyd gevrees het. 

"My arme kind!" het sy gesê, terwyl sy Maurice na binnegelei en hom begin skoonmaak het. "Dis 'n bestiering dat jy nie dood is nie."

Sy het Maurice gewas, skoon klere gegee, en sy wonde verbind: toe dit klaar was, het hy gelyk soos iemand wat van die oorlog tuisgekom het. 

Eindelik het sy Maurice by die vuur laat sit so gemaklik as wat sy hom kon maak, want hy het sommer op baie plekke seer gehad, en toe het sy hom herinner aan die waarskuwing wat sy hom gegee het sowat 'n uur tevore.

"Dit is reg om dinge te waag vir 'n goeie saak of om ander mense te help; maar om waghalsig te wees net om jou eiewaan te streel, wel , dit is sommer pure dwaasheid," het sy gesê. "Daar is altyd mense - mits hulle weet dat ander hulle sien - wat na die randjie van die afgrond sal gaan om na benede te kyk; of wat op die ent van die hawehoof sal gaan staan terwyl daar 'n stormwind waai; of wat al kyk hoe vinnig hulle kan jaag, maar hulle is nooit die dapper mense nie. Hulle doen sulke dinge net om van ander gesien te word, en nie omdat hulle dapper is nie; hulle doen dit om aandag te trek, en dis 'n baie goedkoop soort van self-advertensie."

"Maar wat het dit te doen met my ongeluk?" wou Maurice weet. 

"Dit het alles daarmee te doen, " het Moeder gesê. "Jy was vanmore net soos daardie mense waarvan ek nou net gepraat het - mense wat kastig so waaghalsig is, maar wat gewoonlik altyd in die sloot beland."

"Wel, dis darem lekker om loshande te ry," het Maurice gesê.

"Dit mag wees," het Moeder gesê, "maar die kool is darem nie die sous werd nie, is dit?"

Maurice het sy verbande vir so 'n rukkie betrag, en toe het hy gesê: "Nee, ek glo nie."
 
Slaaptyd stories
Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell