# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

W.E.G. Louw

William Ewart Gladstone Louw is op 31 Mei 1913 as die jongste van vier broers in Sutherland gebore. Hy was die jonger broer van die digter N.P. van Wyk Louw. Albei het hul skoolloopbaan aan SACS voltooi, toe nog in die Kaapse middestad. In 1935 wen hy die Hertzogprys vir Die ryke dwaas (saam met C. Louis Leipoldt en Totius). Die versameling poësie kan moontlik as die begin van die Dertigers-beweging in die Afrikaanse literatuur beskou word.

Hy is op 31 Mei 1913 op Sutherland gebore. Hy is die seun van die prokureur Bismarck von Moltke Louw en Martha Hendrina Johanna Frederika (Poppie) van Wyk, dogter van ’n bekende boer van die distrik. Sy broers is Koos, die bekende digter N.P. van Wyk en Bismarck von Moltke. Die huis in Jubileestraat waar die gesin bly, word later as gevolg van sy en sy broer N.P. van Wyk Louw se belang in die letterkunde as museum verklaar. Hy begin sy laerskoolopleiding op Sutherland. In Desember 1920 vestig die gesin hulle in ’n huis in Oranjezicht in Kaapstad. Die verhuising is egter nie ’n volslae breuk met sy plattelandse verlede nie, aangesien hulle huis in Sutherland eers in 1925 verkoop word, sy pa steeds vennoot in die prokureurspraktyk op die dorp is en die kinders vir etlike jare steeds vir die somer en wintervakansies sou terugkeer na familie in die distrik of die naburige Calvinia distrik.

In Kaapstad ontvang hy sy laer- en hoërskoolopleiding hoofsaaklik aan die Engelstalige South African College School, waar hy in 1930 matrikuleer. Sy matriek resultate sluit twee onderskeidings in en hy verower hiermee ’n studiebeurs. Op hoërskool dien hy vir ’n tyd op die redaksie van die skooltydskrif The South African College Magazine, waarin daar van sy eerste gedigte verskyn, terwyl hy ook dien op die komitee van die Literary and Debating Society. In hierdie tyd ontvang hy musieklesse van ’n Duitse dame, wat sy belangstelling in verskeie ander aspekte van die Wes-Europese kultuur prikkel. Skoolvakansies bring hy meestal deur op sy oupa Van Wyk se plaas Gunsfontein naby Sutherland.

 
Van 1931 af studeer hy aan die Universitiet van Kaapstad, waar hy die B.A.-graad in 1933 en die M.A.-graad in 1934 met ’n studie oor die poësie van die Nederlandse digter J.H. Leopold verwerf. Van die begin van 1931 neem hy elke Vrydagaand private lesse in Duits by N.P. van Wyk Louw en hierdie kontak verstewig die verhouding tussen die twee broers, wat weens die groot ouderdomsverskil tot in daardie stadium oppervlakkig was. Hy wys die gedigte wat hy skryf in hierdie tyd aan sy broer en ’n paar intieme vriende en hulle moedig hom aan om dit te laat publiseer. Vergesel van ’n paar vriende lees hy dan die verse aan professor F.E.J. Malherbe voor, maar dit is ’n ongelukkige ontmoeting. In ’n latere brief aan Malherbe stip W.E.G. Louw redes hiervoor aan, naamlik hulle vreemdheid vir mekaar, die teenwoordigheid van ander, sy eie smaaklose lees van die verse en Malherbe se moegheid en prikkelbaarheid.

Malherbe maak tydens die ontmoeting ’n aantal opmerkings wat Louw as onvanpas en sonder werklike insig beskou en hy besluit daarna om eerder self die gedigte te publiseer as om deur ’n uitgewer te werk. So verskyn “Die ryke dwaas” dan, wat ook met die Hertzogprys bekroon word en amptelik die Dertiger-beweging in die poësie inlui. Malherbe kry ’n afskrif van die bundel en skryf uit die bloute ’n waarderingsbrief aan Louw, waarin hy die genot wat hy aan die bundel het, duidelik stel. Hy lewer dan ook ’n waarderende resensie daaroor in Die Huisgenoot, maar in latere jare is daar ’n breuk tussen Louw en Malherbe, wanneer dit uit getuienis soos vervat in “Dokumente van Dertig” van J.C. Kannemeyer duidelik begin word dat Malherbe se optredes nie altyd vry te spreek is van onegtheid, ’n gebrek aan insig en ’n jag na eie voordeel nie. Gerrit Dekker, vername meningvormer in die letterkunde van daardie tyd, skryf ook ’n positiewe resensie, waarna die sukses van die bundel feitlik verseker is.

Tydens sy studentejare is Louw aktief betrokke by die Afrikaanse Nasionale Studentebond. Hy het in sy vroeë studentejare ’n verhouding met Hettie Smit (wat weerklank vind in haar boek “Sy kom met die sekelmaan”) en leer ook vir F.J. le Roux goed ken. Hy het ook ’n belangrike aandeel aan die stigting van die Vereniging vir die Vrye Boek in 1936 wat hom ten doel stel om die aandag op die nuwe poësie te vestig en om N.P. van Wyk Louw se “Alleenspraak” gepubliseer te kry. As student blink hy uit deur die J.H. Hidding-beurs aan Kaapstad Universiteit en die Queen Victoria Memorial Scholarship vir oorsese studie in die Verenigde Koningkryk te ontvang. Gedurende 1935 is hy vir ’n tyd waarnemende lektor in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad.Teen die einde van 1935 vertrek hy na Nederland, waar hy aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam studeer en in 1939 die doktorale eksamen (Drs.Litt.) voltooi onder leiding van N.A. Donkersloot en A.A. Verdenius. Hy neem Kunsgeskiedenis hier as ’n byvak.

Deur kritiese beskouinge en toesprake stel hy die jonger Afrikaanse poësie aan die Nederlanders bekend en publiseer onder meer in 1939 ’n bestekopname van die jongste Afrikaanse digkuns in “De nieuwere Afrikaanse poëzie”, terwyl hy ook die bydrae “Vernuwing in die Afrikaanse poësie” lewer tot J. Haantjes se “Kroniek van Zuid-Afrika”, wat in 1938 verskyn. Tydens sy tyd in Nederland maak hy van die geleentheid gebruik om gereeld konserte, toneelopvoerings en museums te besoek en tydens vakansies reis hy na ander dele van Wes-Europa. In München in Duitsland maak hy ’n intensiewe studie van Rembrandt se skilderye in opdrag van Frederik Hendrik oor die lyding en dood van Christus, wat later sou lei tot sy reeks sonnette “Die passie van ons Heer” wat in “Adam en ander gedigte” opgeneem word. Net na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog keer hy in November 1939 terug na Kaapstad, waar hy in 1942 aan die plaaslike universiteit promoveer (Ph.D.-graad) met ’n proefskrif oor “Die invloed van Gorter op Leopold: ’n Bydrae tot die studie van die sensitivisme”, wat later gepubliseer word.

Saam met D.B. Bosman, N.P. van Wyk Louw en Jan Greshoff stel hy die bloemlesing “Tussen die engtes” (1940) saam met die doel om Nederlandse skrywers tydens die Duitse besetting te steun. Geld so ingesamel stel hulle in staat om later vir A. Roland Holst en J.C. Bloem op besoeke na Suid-Afrika te bring. Daarna werk hy vanaf September 1941 ’n tyd lank by die Reddingsdaadbond in Johannesburg, ’n organisasie wat gestig is om op ekonomiese en kulturele gebied hulp te verleen aan Afrikaners wat weens die droogte en depressiejare verarm is. Hier vertolk hy veral ’n groot rol as toneelorganiseerder. Hy probeer ’n betrekking by Die Burger kry, maar die bevinding is dat hy met ’n doktorsgraad te goed gekwalifiseer is vir die joernalistiek. In 1942 doen hy aansoek om die pos as hoogleraar in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, ’n posisie wat vakant word met die aftrede van D.F. Malherbe. Hoewel hy die enigste kandidaat is wat deur die Senaat aanbeveel word, stel die Raad ’n ander kandidaat aan. Hulle neem klaarblyklik eksepsie teen “politieke” verse in sy bundel “Terugtog” (veral die “Renegaat-sonnette”, wat as ’n toespeling op generaal J.B.M. Hertzog beskou is).

Vanaf die begin van 1944 word hy aangestel as hoogleraar in Afrikaans-Nederlands aan die Rhodes Universiteitskollege in Grahamstad. In dieselfde jaar tree hy in Melville in Johannesburg in die huwelik met die komponis Rosa Sophia Cornelia Nepgen van Barkly-Oos, ’n huwelik waaruit twee seuns gebore word, Johannes en Paul. Saam met N.P. van Wyk Louw en H.A. Mulder rig hy in 1945 die onafhanklike blad Standpunte op en hy tree ook geruime tyd op as redaksie-sekretaris van hierdie blad. Aan die einde van 1948 vertrek hy op ’n ses maande lange oorsese reis. Op Grahamstad speel hy ’n belangrike rol in die klein Afrikaanse gemeenskap en is die dryfkrag agter die stigting in 1956 van ’n plaaslike Afrikaanse skool, Hoërskool P.J. Olivier. Wanneer die koshuis van hierdie skool later gebou word, kry dit die naam van Huis W.E.G. Louw. Deur sy bemiddeling kom die Vlaamse letterkundige Rob Antonissen in 1951 na Suid-Afrika en word hy aangestel as dosent aan Rhodes Universiteit en volg Louw as hoogleraar op wanneer hy besluit om die professoraat in 1957 te laat vaar.

Hy verhuis in 1957 na Oranjezicht in Kaapstad, waar hy kunsredakteur word van Die Burger, ’n betrekking wat hy tot einde Desember 1966 beklee. In hierdie kapasiteit skryf hy gereeld self artikels oor musiek en die skilderkuns en lewer toneel, rolprent en letterkundige kritiek, terwyl hy elke week ’n kort essay skryf wat Saterdae as die hoofartikel in die blad verskyn. Hy redigeer en skryf verskeie artikels en reekse waarin hy die belangstelling van die lesers in die letterkunde prikkel, soos byvoorbeeld “Omgang met poësie” van 19 Mei 1959 en die “Euwel van die voorgeskrewe boek”. Hy redigeer ook bylaes van kulturele aard, soos die “Wonder van Afrikaans” bylae wat op 16 April 1959 in Die Burger, Die Volksblad en Die Oosterlig verskyn het, met bydraes van onder andere M.E.R., N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman en Boerneef.

Vanaf Januarie 1967 tot einde 1978 is hy professor in die Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy vir W.J. du P. Erlank (Eitemal) in hierdie kapasiteit opvolg en in 1979 is hy besoekende professor in Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad. Steeds gaan hy voort om gereelde toneelresensies vir Die Burger te skryf. Hy vestig hom in hierdie tyd eers in ’n huis op Stellenbosch en later op ’n plasie tussen wingerde en olyfbome langs die Strand-pad naby Stellenbosch, wat hy Sondraai noem.

Tussen 1948 en 1973 lê hy ses oorsese besoeke af en besoek feitlik elke Wes-Europese land vir studie, of as afgevaardigde van genootskappe, of om lesings ingevolge kultuurverdrae te gee. In 1954 bring hy onder andere besoek aan sy broer N.P. van Wyk Louw in Amsterdam, waar hy vier maande vertoef in sy navorsing oor Martinus Nijhoff se literatuuropvattings en enkele lesings aan die Universiteit van Amsterdam gee oor “Prosodie: die wetenskap van die ritmiek”. Hy leef hom ook uit op kultuurgebied en is sedert 1944 lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, van 1960 lid van die Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde, sedert 1954 erelid van die Friese Akademie en lid van die Afrikaanse Skrywerskring. Hy dien vanaf 1955 tot 1968 op die uitvoerende komitee van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings en dien ook op die beheerrade van die S.A. Kultuurhistoriese Museum en van die Nasionale Kunsmuseum. Hy is tussen 1958 en 1966 raadslid van die Universiteit van Kaapstad. Tot met sy dood is hy letterkundige adviseur van die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling, toneelkritikus van Die Burger en direkteur van Historiese Huise van Suid-Afrika Beperk. Hy is ’n oortuigde Calvinis en dien by herhaling as ouderling in sy kerk. Hy is op 24 April 1980 op sy kleinhoewe Sondraai naby Stellenbosch aan ’n hartaanval oorlede. Sy as word later herbegrawe by die Louw-huis museum in Sutherland, waar hy groot geword het.

 W.E.G. Louw
 

Rosa Nepgen en W.E.G. Louw

Bynaam WEG Louw Geboortenaam William Ewart Gladstone Louw Gebore 31 Mei 1913
Sutherland Oorlede 24 April 1980
Stellenbosch Titel Digter, akademikus en skrywer Religie NG Kerk Huweliksmaat Rosa Nepgen


Inhoud

Lewe en werk

W.E.G. Louw en sy vrou, die komponis Rosa Nepgen.

William Ewart Gladstone Louw is op 31 Mei 1913 as die jongste van vier broers in Sutherland gebore. Hy was die jonger broer van die digter N.P. van Wyk Louw. Albei het hul skoolloopbaan aan SACS voltooi, toe nog in die Kaapse middestad. In 1935 wen hy die Hertzogprys vir Die ryke dwaas (saam met C. Louis Leipoldt en Totius). Die versameling poësie kan moontlik as die begin van die Dertigers-beweging in die Afrikaanse literatuur beskou word.[1] Hy is op 31 Mei 1913 op Sutherland gebore. Hy is die seun van die prokureur Bismarck von Moltke Louw en Martha Hendrina Johanna Frederika (Poppie) van Wyk, dogter van ’n bekende boer van die distrik. Sy broers is Koos, die bekende digter N.P. van Wyk en Bismarck von Moltke. Die huis in Jubileestraat waar die gesin bly, word later as gevolg van sy en sy broer N.P. van Wyk Louw se belang in die letterkunde as museum verklaar. Hy begin sy laerskoolopleiding op Sutherland. In Desember 1920 vestig die gesin hulle in ’n huis in Oranjezicht in Kaapstad. Die verhuising is egter nie ’n volslae breuk met sy plattelandse verlede nie, aangesien hulle huis in Sutherland eers in 1925 verkoop word, sy pa steeds vennoot in die prokureurspraktyk op die dorp is en die kinders vir etlike jare steeds vir die somer en wintervakansies sou terugkeer na familie in die distrik of die naburige Calvinia distrik. In Kaapstad ontvang hy sy laer- en hoërskoolopleiding hoofsaaklik aan die Engelstalige South African College School, waar hy in 1930 matrikuleer. Sy matriek resultate sluit twee onderskeidings in en hy verower hiermee ’n studiebeurs. Op hoërskool dien hy vir ’n tyd op die redaksie van die skooltydskrif The South African College Magazine, waarin daar van sy eerste gedigte verskyn, terwyl hy ook dien op die komitee van die Literary and Debating Society. In hierdie tyd ontvang hy musieklesse van ’n Duitse dame, wat sy belangstelling in verskeie ander aspekte van die Wes-Europese kultuur prikkel. Skoolvakansies bring hy meestal deur op sy oupa Van Wyk se plaas Gunsfontein naby Sutherland.

Dié herinnering aan sy aanneming as lidmaat van die NG gemeente Jeppestown is op 11 April 1943 aan W.E.G. Louw uitgereik.

Van 1931 af studeer hy aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy die B.A.-graad in 1933 en die M.A.-graad in 1934 met ’n studie oor die poësie van die Nederlandse digter J.H. Leopold verwerf. Van die begin van 1931 neem hy elke Vrydagaand private lesse in Duits by N.P. van Wyk Louw en hierdie kontak verstewig die verhouding tussen die twee broers, wat weens die groot ouderdomsverskil tot in daardie stadium oppervlakkig was. Hy wys die gedigte wat hy skryf in hierdie tyd aan sy broer en ’n paar intieme vriende en hulle moedig hom aan om dit te laat publiseer. Vergesel van ’n paar vriende lees hy dan die verse aan professor F.E.J. Malherbe voor, maar dit is ’n ongelukkige ontmoeting. In ’n latere brief aan Malherbe stip W.E.G. Louw redes hiervoor aan, naamlik hulle vreemdheid vir mekaar, die teenwoordigheid van ander, sy eie smaaklose lees van die verse en Malherbe se moegheid en prikkelbaarheid. Malherbe maak tydens die ontmoeting ’n aantal opmerkings wat Louw as onvanpas en sonder werklike insig beskou en hy besluit daarna om eerder self die gedigte te publiseer as om deur ’n uitgewer te werk. So verskyn “Die ryke dwaas” dan, wat ook met die Hertzogprys bekroon word en amptelik die Dertiger-beweging in die poësie inlui. Malherbe kry ’n afskrif van die bundel en skryf uit die bloute ’n waarderingsbrief aan Louw, waarin hy die genot wat hy aan die bundel het, duidelik stel. Hy lewer dan ook ’n waarderende resensie daaroor in Die Huisgenoot, maar in latere jare is daar ’n breuk tussen Louw en Malherbe, wanneer dit uit getuienis soos vervat in “Dokumente van Dertig” van J.C. Kannemeyer duidelik begin word dat Malherbe se optredes nie altyd vry te spreek is van onegtheid, ’n gebrek aan insig en ’n jag na eie voordeel nie. Gerrit Dekker, vername meningvormer in die letterkunde van daardie tyd, skryf ook ’n positiewe resensie, waarna die sukses van die bundel feitlik verseker is.

Tydens sy studentejare is Louw aktief betrokke by die Afrikaanse Nasionale Studentebond. Hy het in sy vroeë studentejare ’n verhouding met Hettie Smit (wat weerklank vind in haar boek “Sy kom met die sekelmaan”) en leer ook vir F.J. le Roux goed ken. Hy het ook ’n belangrike aandeel aan die stigting van die Vereniging vir die Vrye Boek in 1936 wat hom ten doel stel om die aandag op die nuwe poësie te vestig en om N.P. van Wyk Louw se “Alleenspraak” gepubliseer te kry. As student blink hy uit deur die J.H. Hidding-beurs aan Kaapstad Universiteit en die Queen Victoria Memorial Scholarship vir oorsese studie in die Verenigde Koninkryk te ontvang. Gedurende 1935 is hy vir ’n tyd waarnemende lektor in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad. Teen die einde van 1935 vertrek hy na Nederland, waar hy aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam studeer en in 1939 die doktorale eksamen (Drs.Litt.) voltooi onder leiding van N.A. Donkersloot en A.A. Verdenius. Hy neem Kunsgeskiedenis hier as ’n byvak. Deur kritiese beskouinge en toesprake stel hy die jonger Afrikaanse poësie aan die Nederlanders bekend en publiseer onder meer in 1939 ’n bestekopname van die jongste Afrikaanse digkuns in “De nieuwere Afrikaanse poëzie”, terwyl hy ook die bydrae “Vernuwing in die Afrikaanse poësie” lewer tot J. Haantjes se “Kroniek van Zuid-Afrika”, wat in 1938 verskyn. Tydens sy tyd in Nederland maak hy van die geleentheid gebruik om gereeld konserte, toneelopvoerings en museums te besoek en tydens vakansies reis hy na ander dele van Wes-Europa. In München in Duitsland maak hy ’n intensiewe studie van Rembrandt se skilderye in opdrag van Frederik Hendrik oor die lyding en dood van Christus, wat later sou lei tot sy reeks sonnette “Die passie van ons Heer” wat in “Adam en ander gedigte” opgeneem word. Net na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog keer hy in November 1939 terug na Kaapstad, waar hy in 1942 aan die plaaslike universiteit promoveer (Ph.D.-graad) met ’n proefskrif oor “Die invloed van Gorter op Leopold: ’n Bydrae tot die studie van die sensitivisme”, wat later gepubliseer word.

Saam met D.B. Bosman, N.P. van Wyk Louw en Jan Greshoff stel hy die bloemlesing “Tussen die engtes” (1940) saam met die doel om Nederlandse skrywers tydens die Duitse besetting te steun. Geld so ingesamel stel hulle in staat om later vir A. Roland Holst en J.C. Bloem op besoeke na Suid-Afrika te bring. Daarna werk hy vanaf September 1941 ’n tyd lank by die Reddingsdaadbond in Johannesburg, ’n organisasie wat gestig is om op ekonomiese en kulturele gebied hulp te verleen aan Afrikaners wat weens die droogte en depressiejare verarm is. Hier vertolk hy veral ’n groot rol as toneelorganiseerder. Hy probeer ’n betrekking by Die Burger kry, maar die bevinding is dat hy met ’n doktorsgraad te goed gekwalifiseer is vir die joernalistiek. In 1942 doen hy aansoek om die pos as hoogleraar in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, ’n posisie wat vakant word met die aftrede van D.F. Malherbe. Hoewel hy die enigste kandidaat is wat deur die Senaat aanbeveel word, stel die Raad ’n ander kandidaat aan. Hulle neem klaarblyklik eksepsie teen “politieke” verse in sy bundel “Terugtog” (veral die “Renegaat-sonnette”, wat as ’n toespeling op generaal J.B.M. Hertzog beskou is).

Vanaf die begin van 1944 word hy aangestel as hoogleraar in Afrikaans-Nederlands aan die Rhodes Universiteitskollege in Grahamstad. In dieselfde jaar tree hy in Melville in Johannesburg in die huwelik met die komponis Rosa Sophia Cornelia Nepgen van Barkly-Oos, ’n huwelik waaruit twee seuns gebore word, Johannes en Paul. Saam met N.P. van Wyk Louw en H.A. Mulder rig hy in 1945 die onafhanklike blad Standpunte op en hy tree ook geruime tyd op as redaksie-sekretaris van hierdie blad. Aan die einde van 1948 vertrek hy op ’n ses maande lange oorsese reis. Op Grahamstad speel hy ’n belangrike rol in die klein Afrikaanse gemeenskap en is die dryfkrag agter die stigting in 1956 van ’n plaaslike Afrikaanse skool, Hoërskool P.J. Olivier. Wanneer die koshuis van hierdie skool later gebou word, kry dit die naam van Huis W.E.G. Louw. Deur sy bemiddeling kom die Vlaamse letterkundige Rob Antonissen in 1951 na Suid-Afrika en word hy aangestel as dosent aan Rhodes Universiteit en volg Louw as hoogleraar op wanneer hy besluit om die professoraat in 1957 te laat vaar.

Hy verhuis in 1957 na Oranjezicht in Kaapstad, waar hy kunsredakteur word van Die Burger, ’n betrekking wat hy tot einde Desember 1966 beklee. In hierdie kapasiteit skryf hy gereeld self artikels oor musiek en die skilderkuns en lewer toneel, rolprent en letterkundige kritiek, terwyl hy elke week ’n kort essay skryf wat Saterdae as die hoofartikel in die blad verskyn. Hy redigeer en skryf verskeie artikels en reekse waarin hy die belangstelling van die lesers in die letterkunde prikkel, soos byvoorbeeld “Omgang met poësie” van 19 Mei 1959 en die “Euwel van die voorgeskrewe boek”. Hy redigeer ook bylaes van kulturele aard, soos die “Wonder van Afrikaans” bylae wat op 16 April 1959 in Die Burger, Die Volksblad en Die Oosterlig verskyn het, met bydraes van onder andere M.E.R., N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman en Boerneef.

Vanaf Januarie 1967 tot einde 1978 is hy professor in die Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy vir W.J. du P. Erlank (Eitemal) in hierdie kapasiteit opvolg en in 1979 is hy besoekende professor in Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad. Steeds gaan hy voort om gereelde toneelresensies vir Die Burger te skryf. Hy vestig hom in hierdie tyd eers in ’n huis op Stellenbosch en later op ’n plasie tussen wingerde en olyfbome langs die Strand-pad naby Stellenbosch, wat hy Sondraai noem.

Tussen 1948 en 1973 lê hy ses oorsese besoeke af en besoek feitlik elke Wes-Europese land vir studie, of as afgevaardigde van genootskappe, of om lesings ingevolge kultuurverdrae te gee. In 1954 bring hy onder andere besoek aan sy broer N.P. van Wyk Louw in Amsterdam, waar hy vier maande vertoef in sy navorsing oor Martinus Nijhoff se literatuuropvattings en enkele lesings aan die Universiteit van Amsterdam gee oor “Prosodie: die wetenskap van die ritmiek”. Hy leef hom ook uit op kultuurgebied en is sedert 1944 lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, van 1960 lid van die Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde, sedert 1954 erelid van die Friese Akademie en lid van die Afrikaanse Skrywerskring. Hy dien vanaf 1955 tot 1968 op die uitvoerende komitee van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings en dien ook op die beheerrade van die S.A. Kultuurhistoriese Museum en van die Nasionale Kunsmuseum. Hy is tussen 1958 en 1966 raadslid van die Universiteit van Kaapstad. Tot met sy dood is hy letterkundige adviseur van die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling, toneelkritikus van Die Burger en direkteur van Historiese Huise van Suid-Afrika Beperk. Hy is ’n oortuigde Calvinis en dien by herhaling as ouderling in sy kerk. Hy is op 24 April 1980 op sy kleinhoewe Sondraai naby Stellenbosch aan ’n hartaanval oorlede. Sy as word later herbegrawe by die Louw-huis museum in Sutherland, waar hy groot geword het.

Skryfwerk

Poësie

Reeds op skool in 1929 verskyn eers Engelse en later ook Afrikaanse gedigte van hom in die skoolblad, The South African College School Magazine, en hy is ook vir ’n ruk op die redaksie van hierdie blad. Op universiteit publiseer hy gereeld in Kwartaalblad van die Universiteit van Kaapstad en later ook in ander tydskrifte soos Die Huisgenoot. Met sy digbundel “Die ryke dwaas” (gedigte geskryf tussen sy sestiende en twintigste jaar en self uitgegee) lei hy die belangrike Dertiger-beweging in die Afrikaanse poësie in en lewer verse wat verrassend nuut is in Afrikaans. In hierdie poësie word weggebreek van die nasionalistiese verse van sy voorgangers en word die belydenisvers, die persoonlike ervaring en die “geding-met-God” in bewoë toon en gevleuelde taalgebruik vooropgestel. Die natuur word ook meer persoonlik ervaar, eerder as in diens van ’n nasionalistiese of godsdiensbelewing. Hierin vind hy aansluiting by die Nederlandse Tagtigers en die Engelse en Duitse romantiese poësie. Die titel weerspieël die paradoks van die jong man wat eers met kinderlike helderheid die lewe en selfs die goddelike wonder in sy lewenspassie ervaar, maar met groter insig van die volwassenheid voel hoedat alles minder eksak word en hy vind dat die erkenning en rus in God al verder wyk. So verloor die dwaas sy gewaande helderheid, maar word tog ryker aan menslikheid. Waar die bundel by bekendstelling vars aandoen in veral sy tematiek en openhartige belydenis, deurstaan die talle sierwoorde en soms oordrewe romantiek van baie verse nie die toets van die tyd nie. Enkele eenvoudiger verse in hierdie bundel word baie bekend, waaronder die treffende sonnet “Ek sal opstaan”, na aanleiding van die gelykenis van die verlore seun, en “Vaalvalk”, ’n stemmingsbeeld waarin die valk in sy beweging geassosieer word met die weemoedige wals. “Ou Flenterkatiera” sluit aan by die volksvers in sy uitbeelding van ’n skaapwagter wat snags sy eensaamheid slegs met sy musiek en dop kan trotseer. “Stil aand” is ’n mooi liefdesgedig, terwyl “Naglied” die teleurgestelde minnaar uitbeeld wat in die koue voor sy slapende geliefde se venster staan net om naby aan haar te kan wees. “Die ryke dwaas” word in 1934 met die Hertzogprys vir poësie bekroon. Die Letterkundige Kommissie het hom in hierdie jaar vir alleenbekroning aanbeveel, maar hy deel die prys met Totius en C. Louis Leipoldt. In ’n tweede druk in 1935 laat Louw sommige van die jeugverse weg, verander die chronologie van die bundel en voeg ander verse by.

Hy volg hierdie bundel op met die soortgelyke[2]Terugtog”, waar die titel veral die terugkeer na God suggereer. Die sentrale tema van hierdie bundel is die stryd “met God om God”, soos Louw dit self formuleer in sy boekie “De nieuwere Afrikaanse poëzie”. Hierin swerf die digter deur die verslaenheid en wanhoop wat die lewe en die liggaamlike passie kenmerk, maar kom deur sy krisis tog eindelik uit by ’n groter geestelikheid. Hierdie geestelike krisis bring mee ’n strakker segging, ’n vermindering van die sierwoorde en groter vormbeheersing, maar terselfdertyd verloor die gedigte baie van die spontaneïteit wat in sy eerste bundel bekoor het. Hierdie geestelike stryd word ten beste verwoord in die lang aanvangsgedig, “Die dood van die dwaas”, die sonnet “Die liefde van God” en die “Vier gebede”. Die bundel bevat ook natuurstemminge, liefdesgedigte en vaderlandse gedigte. Gedigte soos “Oktober” en “Teen die helling” en die Bybelse wedergeboorte-sonnette (veral “Maria”, wat handel oor die engel Gabriël se aankondiging van die geboorte van Jesus) tel onder sy beste werk, terwyl “Verlange” die beste onder die liefdesgedigte is. “Hiëronimus in die woestyn” is geskryf na aanleiding van ’n skildery van Jeroen Bosch en Louw sal daarna nog etlike gedigte skryf na aanleiding van kunswerke. Op nie-literêre gronde is daar skerp kritiek teen die drie sonnette “Aan die renegaat”, gedigte oor die ontrou en geknoei van leiers en die afvalligheid van volksgenote, waarin kritici ’n aanval sien op generaal Hertzog se persoon en ook sy samesmeltingspolitiek. Objektief beskou en verlos van sy tyd se politiek is dit egter ’n verdoeming van alle renegaatskap, geskryf in ’n toon van opregte verontwaardiging oor onregte. In 1943 is daar beide ’n meerderheidsverslag en ’n minderheidsverslag van die keurkommissie vir die Hertzogprys. Die meerderheidsverslag beveel aan dat “Terugtog” bekroon word saam met “Kwatryne” van I.D. du Plessis en “Rooidag” van Uys Krige, terwyl die minderheidsverslag aanbeveel dat “Terugtog” alleen bekroon word. Uiteindelik word as kompromis Elisabeth Eybers se “Belydenis in die skemering” en “Die stil avontuur” bekroon.

In “Adam en ander gedigte[3]beslaan die titelgedig die eerste afdeling. Dit is ’n grootse gedig oor die lewensaanvang waarin Adam sy posisie teenoor God, die wêreld en die vrou ontdek. Treffend word die droom van ’n ongerepte wêreld met sy suiwere skoonheid in liriese poësie verheerlik, terwyl die gedeelte waar Adam alleen die wêreld verken treffend gekontrasteer word met sy ontdekkingstog saam met die vrou. Die geluk wat hulle saam ondervind word ook effektief gekontrasteer met die latere ongeluk en uitwerping uit die Paradys, veral omdat die gedig met die woord “voleindiging” eindig, maar voor die sondeval en uitwerping, waarvan die leser terdeë bewus is. Hierdie gedig het reeds in 1940 in Die Huisgenoot verskyn en beslaan byna die helfte van die bundel. Die tweede afdeling is die voortreflike sonnette oor “Die Passie van ons Heer”, wat handel oor die lyding en opstanding van Christus. Dit is onder andere geïnspireer deur die kuns van Rembrandt. Veral “Avondmaal” is ’n hoogtepunt met sy treffende gebruik en teenstelling van die woorde “brood” en “wyn”. “Golgota” beskryf Christus se lydensweg en die smaad wat hy moes verduur, wat uitloop op die skeur van die tempelvoorhang en die simboliese vernietiging van die skans tussen God en mens. “Opstanding” is treffend in sy siening van die afsterf van die liggaam in die eerste kwatryn en die opstyging van die gees in die tweede kwatryn wat met die beeld van “saad” verbind word. Die derde afdeling is “Gedigte”. Hoogtepunte hier is “Kain” (wat Kain se vernedering met die afwysing van sy offer en sy aggressie daarna laat oploop tot ’n hoogtepunt), “Hieronymus in die woestyn” (na aanleiding van ’n skildery van Jeroen Bosch) en “Heimwee” (oor die gebondenheid aan die aarde wat selfs in die hemel tot heimwee lei). Hierdie bundel is ’n hoogtepunt in sy oeuvre tot op daardie tydstip, veral deur die vormbeheer, suiwerheid van taal en beeld en harmonie tussen die sintuiglikheid en geestelikheid wat uit die beste verse spreek. Opvallend is die impressies van skilderkuns wat hy tot treffende gedigte omskep, wat ’n kenmerk van sy digkuns word.

Die verse in[4]Bybels en Babels[5] toon ten spyte van die lang tydverloop tussen publikasies weinig vooruitgang op sy vroeëre werk, hoewel dit in ’n meer leesbare styl is, ontdaan van onnodige geswollenheid in die taal. Die gedigte word in die twee afdelings “Bybels” en “Babels” opgedeel, waar die eerste afdeling godsdienstige gedigte bevat. Hier is die drie sonnette in die “Drieluik” (“Johannes die Doper”, “Maria met die kind” en “Johannes die Apostel”) hoogtepunte met hulle fyn afwerking en atmosfeerskepping, wat treffend iets van ’n ewige waarheid illustreer. Die lang gedig “Simson” bevat mooi fragmente, maar ook etlike vaal kolle. Die begin en einde skets Simson in sy laaste ure, terwyl hy in die middel sy verlede onthou en dit vir die leser sing. Hierdie herinneringe wat in groot detail weergegee word, vertraag egter die verhaalgang en die klein besonderhede neem die aandag af van die geheel, sodat dit as epiese vers nie heeltemal geslaagd is nie. “Die brandende doringbos” is ’n siklus van ses gedigte wat Moses se lewe as tema het, waar die interafhanklikheid van die gedigte veroorsaak dat die geheel eerder as ’n enkele gedig gelees moet word. Die “Babels” afdeling bevat verse oor “wêreldse” onderwerpe, onder meer die skilderkuns. Vernuwend in Louw se digkuns is hier ’n aantal praatverse, wat wegdoen met die streng struktuur wat sy vroeëre poësie kenmerk. “Assisi” het hierdie heilige as tema en beeld ’n besoek aan sy graf uit en daarna ’n beskrywing van sy wonderbaarlike lewe, wat bevredigend afgesluit word deur elemente wat terugverwys na die inset. “Voordag” werk mooi met teenstellings, waar die klokkie langs die bed (beeld van die hier en nou) gekontrasteer word met die kerkklokke (beeld van iets oneindig groter en ewig) en die aardse tyd (voordag) wat afgespeel word teen die ewigheid. ’n Hoogtepunt in die bundel is die bekende “Villa Scacciapensieri”, wat die vroeë oggend aktiwiteite uitbeeld, soos die boer in sy tuin en die jagter wat die hasie in die slaai skiet, waarna die einde al hierdie elemente kreatief saamtrek. “Ballade van die wêreld se beloop” is ook noemenswaardig, waarin die tafereel van mense en dinge mooi geskilder word, terwyl “Portret van ’n moeilike man” beïndruk met saaklike maar helder beskrywing.

Naggesprek en ander gedigte” is in twee genommerde afdelings verdeel, waar die eerste afdeling drie lang gedigte oor kunstenaars, ’n digter (Van Wyk Louw), ’n skilder (Rembrandt) en ’n beeldhouer (Michelangelo), bevat. Die baie lang titelgedig is interessant veral daarin dat dit intieme inligting gee van die digter se verhouding met sy ouer broer N.P. van Wyk Louw, asook van hulle persoonlike geskiedenis en ervarings en hulle letterkundige opvattings. Die toon hiervan is elegies, maar ook berustend, terwyl dit ongelyk is daarin dat dit ontroerende poëtiese beelding afwissel met ’n prosaïese spreekwyse op ’n gemeensame praattoon, wat eerder die dokumentering as die digkuns ten doel het. “Rembrandt – selfportret” het hierdie skilder se lewe as tema, met die begin en einde wat mooi sluit en die gedig siklies maak. Die belangrikste onder die drie kunstenaarsgedigte is “Gevangenes”, wat handel oor die slawe en onvoltooide beelde van Michelangelo in Florence en Parys. Hierdie beelde was oorspronklik bedoel vir die graftombe van pous Julius II, met die gevangenes wat as slawe geketting is of deur hulle onvoltooidheid in die marmer gevange sit. Die onvoltooidheid lei tot die mooi teenstelling tussen verlossing en gevangenskap en die spanning wat heers tussen orde en chaos. Die korter gedigte in die tweede afdeling bevat sensitiewe waarneming, maar baie stel teleur in onderdele weens ’n tekort aan hegtheid en volkome integrasie met die res van die gedig. “Somerreis” beïndruk met sy fyn waarneming en gebruik van volksidioom, waar ten spyte van talle verskille die mense een is in hulle eindbestemming. “Transvaal” beeld hierdie streek op sobere wyse uit en “Verdeelde hart” is die weergawe van die spreker se gevoelens wanneer hy sy geboortedorp uit die lug sien. “Geloftedag, 1967” is wesentlik ’n waarnemingsgedig met ’n kritiese blik op die Afrikaner en sy leefwyse, waar die gelui van die kerkklok geen aandag trek in die soeke na geld en plesier nie. In “Nagrit” word die motor-tema effektief verdiep soos die gesprek voortduur. By geleentheid van sy sestigste verjaardag in 1973 word ’n faksimilee-uitgawe van die handgeskrewe teks van die titelgedig, onderteken deur die skrywer, in ’n beperkte genommerde uitgawe uitgegee.

Vensters op die vrees[6] bevat gedigte wat ’n ondergangsvisioen verwoord, met die angs oor die toekoms in[7] Suid-Afrika wat weerklank vind in gebeure uit die wêreldgeskiedenis en in[8] simboliese kunswerke. “Vierde Kruistog” verwerk die apokaliptiese einde van die antieke Christelike stad Bisantium wat in 1204 deur die magte van mede-Christene uit die Vierde Kruistog verniel is, ter wille van die selfsugtige handelsbelange van Venesië. Gesien teen die agtergrond van die eietydse opstande in Soweto en die oorlog in Angola, is hierdie ondergang egter ook van belang vir Suid-Afrika, waar die Afrikaners se historiese skuld van meer as driehonderd jaar teenoor die gekleurdes vereffen moet word. Die lang slotgedig, “Drieluik. Die tuin van aardse luste” is ’n beskrywing van die skilder Jeroen Bosch se Wellusttuin-triptiek met die hel wat reeds in die aardse lewe sigbaar word. “Drie vensters op die vrees”, waarvandaan die bundel sy titel verkry, beeld uit hoe die mens hom uiterlik verskans teen bedreiging maar innerlik weerloos voortleef. Die angsmotief handel hier agtereenvolgens oor die lewe van die grensboer in die verlede wat deur wilde dier en San bedreig word, daarna oor die mens van die hede met die gevare wat daar uit Angola op die landsgrense heers, en ten slotte oor ’n toekomsvisioen waar die mens deur stralers, tenks, kanonne, mortiere, atoombom en uiteindelik selfs ’n totale uitwissing bedreig word. Hierdie bedreiging kom egter nie net van buite af nie, maar ook uit die gemaksugtigheid van die mens in sy selfsugtige leefwyse. Baie meer prominent in hierdie bundel is ook gedigte oor die hede en herinneringe aan ’n jeugwêreld. “Sondraai” skets ’n plaas in verskillende seisoene, terwyl “Matjiesfontein” ’n kind se angs knap weergee. “Verslag van ’n winterreis” is ’n negedelige siklus van veertienreëlige verse en gee indrukke na ’n besoek aan die jeugwêreld, waarin die angsmotief die bindende element is in die weergawe van die tydverloop en lewe en dood. Die verskil tussen die persoonlike van die jeugtyd met sy inleef in die natuur en die afsydigheid van die moderne wêreld met sy gejaag word mooi uitgebeeld. “Die dassie wat doodgetrap is vanmôre” is die tweede gedig in hierdie siklus en gee met sy weergawe van die kraai wat die doodgetrapte dassie se oë en tongetjie uitpik ’n mooi kontras tussen die jeug- en moderne wêreld, teen die agtergrond van die tydlose Groot Karoo.

Opvlugte en opdragte[9] verskyn postuum. Dit is ’n bundel van nagelate gedigte wat hy nie self kon persklaar maak nie, wat tot gevolg het dat sekere van die gedigte nie op dieselfde vlak as ander is nie.[10]Hierin word veral ’n beskrywende eerder as passievolle vers gebundel,[11] met die religieuse en die bewustheid van ’n ander wêreld wat in kontras staan teen die tydelike, problematiese aardse belewenis. Die “Opvlugte” deel bevat doemprofesieë oor die politieke bestel in Afrika, die geknoei tydens die Koue Oorlog en die geestelike vervlakking van Wes-Europa, wat aansluit by die verse oor die ondergangsmotief in “Vensters op die vrees”. Die “Opdragverse” bevat gedigte vir mense soos onder andere Uys Krige, Gerrit Bakker en Ernst van Heerden. In die treffende gedig “Jasmyn” is die onderwerp Saladin, die Moslemleier wat in die twaalfde eeu Islam-eenheid bewerkstellig en die Kruisvaarders verslaan het om Jerusalem en Palestina vir Islam te verower. Die gedig beeld Saladin se bepeinsinge uit oor die dood en sy kommer oor sy geliefde dogtertjie en haar teenwoordigheid in die jasmyn. In “Amsterdam, September 1939” kyk die digter nostalgies terug na die onvergeetlike somer kort voor die begin van die Tweede Wêreldoorlog, waarna alles verander het. Die derde afdeling in die bundel is ’n afdruk van sy laaste versplan (“Veertien variasies op ’n tema”), wat aanduidend is van ’n reeks gedigte wat hy oor die tema van dood en wederopstanding wou geskryf het.

Sy “Versamelde gedigte” word vir die eerste keer in 1973 uitgegee, waarna dit in 1988 grondig verwerk word om latere bundels en gedigte wat na hierdie tyd verskyn, ook in te sluit. Hy publiseer van sy gedigte in verskeie tydskrifte, insluitende die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring, Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde. Van sy gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende “Groot verseboek”, “Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte”, “Afrikaanse versameling”, “Afrikaanse verse”, “Digterstemme”, “Woordpaljas”, “Uit ons digkuns”, “Digters en digkuns”, “Junior verseboek”, “Nuwe klein verseboek”, “Faune”, “Miskien sal ek die wingerd prys”, “Liggaamlose taal”, “Verse vir Opperman”, “Voorspraak”, “My Afrikaanse verseboek”, “Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte”, “Die goue vreugde” en “Tussen die engtes”. As samesteller is hy saam met D.B. Bosman, N.P. van Wyk Louw en Jan Greshoff verantwoordelik vir die bloemlesing “Tussen die engtes” (1940) wat die doel het om Nederlandse skrywers tydens die Duitse besetting te steun. Verder is hy verantwoordelik vir die redaksie van die bundels “Vyftig gedigte van C Louis Leipoldt” en[12]Driesprong”,[13]laasgenoemde ’n keuse uit die gedigte van Jan F.E. Celliers, Totius en Leipoldt. Baie van sy gedigte word deur sy vrou, Rosa Nepgen, getoonset en deur ander komponiste soos Blanche Gerstman, Arnold van Wyk, Johannes Röntgen, Wolfgang Wijdeveld, Flor Peeters en Rudolf Mengelberg.

Prosa

Op prosagebied stel hy in 1939 die jonger Afrikaanse poësie aan die Nederlandse publiek bekend in die boekie[14]De nieuwere Afrikaanse poëzie”, waarin hy vir hierdie mark ’n voëlvlug gee oor die ontwikkeling van die Afrikaanse poësie in die algemeen en dan groter aandag gee aan die belangrikste figure in die aanloop tot die Dertigers en die Dertigers self. Die vernaamste leemte van hierdie deeglike opsomming van sy onderwerp is die algehele afwesigheid van ’n beskouing oor sy eie werk. Sy proefskrif, “Die invloed van Gorter op Leopold”, word ook gepubliseer. Tussen 1938 en 1952 skryf hy ook kritiese opstelle wat eers in verspreide tydskrifte gepubliseer word en dan in die versamelbundels “[15]Ou wyn van vreugde” (oor ons ouer digters, hoofsaaklik Totius, Leipoldt en Marais waarin hy belangrike herwaarderings en waardebepalings verwoord) en “Vaandels en voetangels[16] gebundel word. In laasgenoemde bundel verskyn werke van uiteenlopende aard, onder andere sy nadoodse waarderings van die Nederlandse digters H. Marsman, E. du Perron en Menno ter Braak en beskouings oor die Afrikaanse poësie, prosa en literêre kritiek. Veral van belang is sy opstel oor “Vernuwing van die Afrikaanse poësie”, wat reeds in 1938 geskryf is en waarin hy die ou Afrikaanse “motiewe”-kuns as ’n beperkte soort literatuur verwerp en daarop wys dat die nuwe Afrikaanse letterkunde groter aandag vir die Afrikaanse mens vra en met die kardinale probleme van die lewe worstel. Sy kritiese geskrifte word in 1970 met die Gustav Preller-prys vir Literêre Kritiek bekroon.

Sy rubrieke wat hy in Die Burger skryf oor godsdiens, kultuur, kuns, literatuur en dies meer word gekeur en opgeneem in die bundels[17]Onvoltooide kalender” en “Kolom”. Hierdie stukke munt uit in hulle kritiese kommentaar op eietydse gebeure en besinning oor kultuursake en standaarde. In teenstelling met veral die meer persoonlike rubriek wat later meer algemeen word, is hierdie stukke berekend en kan selfs beskryf word as meer opvoedkundig van aard. In Oktober en November 1976 word ’n gesprek tussen Roy Pheiffer en hom deur die SAUK uitgesaai, waarin hy praat oor sy digterskap, lewe en werk. Hierdie gesprekke word in 1977 in boekvorm uitgegee onder die titel “Persoonlike perspektiewe”.[18] Vir die “Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner[19] se derde deel onder redaksie van C.M. van den Heever en P. de V. Pienaar skryf hy[20] die hoofstuk “Die Afrikaanse poësie na 1900”. Sy essay “Soeteweide-kaas?” word deur Hennie Aucamp in die versamelbundel “Borde borde boordevol” opgeneem. Elize Botha neem die ongepubliseerde stukke “’n Praatjie op straat” en “Van stokperdjies tot diens” op in haar versamelbundel oor “Afrikaanse essayiste”.

Oor sy en sy vrou se reis deur Italië, Griekeland en die Midde-Ooste in 1966 skryf hy in die reisverhaal “So ver as ’n engel te perd kan ry”, waarin sy sensitiewe waarneming die erfgoed van die Westerse kultuur aan die leser bekendstel. Na sy dood skenk sy weduwee sy dokumenteversameling aan die Universiteit van Stellenbosch en hieruit stel J.C. Kannemeyer en medewerkers in 2005 die bundel[21]Ek ken jou goed genoeg” saam, waarin die briefwisseling tussen N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw tussen 1936 en 1939 gepubliseer word, vergesel van ’n inleiding deur Kannemeyer. Hierdie publikasie lei daartoe dat familie van die broers ’n onsuksesvolle aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad indien om verspreiding van die boek te stop. Die rede vir die polemiek is die simpatie wat daar veral uit N.P. van Wyk Louw se briewe blyk vir die nasionaal-sosialistiese beleidsrigtings van die Duitse regering onder Hitler, asook die argwaan wat beide broers toon teenoor die rol van Jode in Suid-Afrika. Gelees teenoor die algemene agtergrond van sy tyd, die feit dat die briewe geskryf is voor Hitler se ergste vergrype en die ouderdom van die broers (albei is steeds in hulle twintigs), is hulle sentimente egter nie werklik radikaal nie en het beide se latere geskrifte afdoende bewys gelewer van hulle sobere oordeel oor sake van die dag. Veral Van Wyk Louw word beskou as filosoof in sy uitsprake oor rasseverhoudinge in Suid-Afrika, veral tussen wit en bruin. Die briewe bevat verder besonder insiggewende verslae oor die literatuur van die tyd, Nederlands en Afrikaans, en die kunsbeskouing en filosofiese dryfvere wat die broers se werk inspireer. Hierdie eerste bundel word opgevolg deur[22]Briewe van W.E.G. en N.P. van Wyk Louw 1941–1970”, eweneens geredigeer en van ’n inleiding voorsien deur J.C. Kannemeyer. Hierdie korrespondensie gee ’n besonder insiggewende blik op die kultuurlewe van die Afrikaners van die tyd, veral soos dit uiting vind in toneelopvoerings. Waar die eerste bundel verskeie verwysings na die Nazi-filosofie bevat, is hierdie bundel se behandeling van die Tweede Wêreldoorlog veel meer ingestel op die plaaslike politiek en veral die stryd tussen die Nasionale en Verenigde Party en die oorlogsgesindes en teenstanders van die oorlog. Die broers se lojaliteit teenoor die Nasionale Party en die nasionale gedagte blyk duidelik, hoewel verskeie politieke leiers sterk onder kritiek deurloop.

Deur die jare lewer hy verskeie belangwekkende referate, onder andere die eerste N.P. van Wyk Louw-gedenklesing in 1971 onder die titel “Twee bronne van vernuwing in die poësie van N.P. van Wyk Louw”, wat in ’n universiteitspublikasie van die R.A.U. uitgegee word. Hy lewer die bydrae “Die Afrikaanse poësie na 1900” in C.M. van den Heever en P. de V. Pienaar se “Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner”, die artikel “Letterkundige aspekte van die Kerklied” in “Die Gereformeerde Kerklied deur die eeue” en “Leipoldt – the universal man” in “300 Years of Cape wine”. Sy kennis van en belangstelling in wyn blyk uit sy artikels in “Die Wynboer” en sy bydrae tot “Gees van die Wingerd”. Verskeie hoofsaaklik ongebundelde artikels oor die skilderkuns verskyn van hom in Die Burger en hy lewer ook waardevolle bydraes hieroor vir “Die Afrikaanse Kinderensiklopedie”.

Sy vertaling van Gustave Flaubert se “Die legende van die heilige Julianus die herbergsame” word in 1940 deur die Vereniging vir die Vrye Boek gepubliseer. Koos Human neem “Die vervloekte jagter”, ’n fragment uit hierdie vertaling, op in die bloemlesing “Willekeur”. Die vertaling van George Bernard Shaw se “Johanna die soldaat van God” verskyn in 1962. Ander vertalings van hom sluit in Reinhard Herrmann se Duitse werke “Jona en die groot vis” en “Die verlore seun”, asook Marlene Reidel se versies “Kasper se wêreldreis”. Vir opvoering in 1942 deur die Volksteater onder leiding van Anna Neethling-Pohl verwerk hy Maurice Maeterlinck se “Monna Vanna” in Afrikaans en sy vertaling van Jan Fabricius se drama “Gods meule maal” word in 1943 opgevoer deur die Hanekom-geselskap.  In 1935 reeds het hy “Fritsie” van Hermann Südermann in Afrikaans vertaal vir ’n opvoering deur die Kaapstadse Amateur Toneelvereniging in die Kleinteater in Kaapstad, terwyl hy “Die Indringer” (“L'intruse” van Maurice Maeterlinck) saam met sy broer N.P. van Wyk Louw vir hierdie vereniging vertaal. [23]

Eerbewyse

Die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging oorhandig in 1965 aan hom die medalje van verdienste. Op 22 September 1970 word hy op Stellenbosch gehuldig vir sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde op ’n huldigingsaand wat deur die plaaslike skakelkomitee van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK), die Afrikaanse Skrywerskring en die Afrikaanse Taal- en Kultuurbond (ATKB) gereël is. Die program vir die geleentheid sluit in voordragte van sy gedigte en sang van sommige van sy getoonsette gedigte, met ’n huldigingsrede deur R.H. Pheiffer. In 1970 ken die Akademie ook die Gustav Preller-prys aan hom toe vir sy literêre kritiek. By geleentheid van sy vyf en sestigste verjaardag verskyn die huldigingsbundel “Skanse teen die tyd” in 1978 (saamgestel deur E.C. Britz, J.C. Kannemeyer en R.H. Pheiffer) en in dieselfde jaar word die Junie uitgawe van Standpunte aan sy werk gewy. Ten tye van sy eeufees in 2013 word die produksie “W.E.G. Louw 1913” by die KKNK opgevoer, bestaande uit woordmusiek en beeldmateriaal uit sy lewe.

Publikasies

Jaar Publikasies 1934 Die ryke dwaas 1939 De nieuwere Afrikaanse poëzie 1940 Terugtog 1942 Die invloed van Gorter op Leopold 1944 Adam en ander gedigte 1956 Bybels en Babels 1958 Ou wyn van vreugde Vaandels en voetangels 1962 Onvoltooide kalender 1964 Kolom 1969 So ver as ’n engel te perd kan ry 1971 Twee bronne van vernuwing in die poësie van N.P. van Wyk Louw 1972 Naggesprek en ander gedigte 1973 Versamelde gedigte 1976 Vensters op die vrees 1977 Persoonlike perspektiewe 1980 Opvlugte en opdragte 1988 Versamelde gedigte 2006 Ek ken jou goed genoeg (briefwisseling tussen N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw, 1936–1939 –

saamgestel deur J.C. Kannemeyer)

2011 Briewe van W.E.G. en N.P. van Wyk Louw 1941–1970 (saamgestel deur J.C.  Kannemeyer Vertalings 1940 Die legende van die heilige Julianus die herbergsame – Gustave Flaubert 1960 Kasper se wêreldreis – Marlene Reidel (saam met Rosa Nepgen) 1961 Jona en die groot vis – Reinhard Herrmann Die verlore seun – Reinhard Herrmann 1962 Johanna, die soldaat van God – George Bernard Shaw Samesteller 1940 Tussen die engtes (saam met D.B. Bosman en N.P. van Wyk Louw) 1946 Vyftig gedigte van C. Louis Leipoldt 1978 Driesprong: ’n bloemlesing uit die gedigte van Celliers, Totius en Leipoldt

Om Boer Te Wees - W.E.G. Louw.mp3