Vurige Kole

"Pappie," het Donovan uitgeroep toe hy van die skool gehardloop gekom het, "daardie seun Lionel is die gemeenste vent in die skool."

"Wat skeel nou weer?" het Pappie gevra. 

"O, hy is so gemeen. Hy skel my altyd uit, en alles wat ek kon doen, sê hy is sleg of lomp, en hy steek altyd die ander seuns teen my op."

"Ag, nee wat," het Pappie gesê. "Dis seker nie so erg nie."

"Dit is so," het Donovan gesê. "En nou moet daar 'n end aan kom, en kan dit nie langer uithou nie."

More gaan ek hom uitdaag, al is hy baie groter as ek."

"Wel, dis baie interessant," het Pappie gesê met 'n glimlag. "En ek hoop jy sal my sê wanneer julle gaan aanmekaarspring, sodat ek die stukkies kan kom optel."

"Daar sal nie stukkie van hom oorbly nie," het Donovan baie kwaad gesê.

"Wat, jy gaan hom tog nie lewendig insluk nie?"

Donovan moes toe maar lag. 

"Weet jy, het Pappie gesê, "ek kan jou sê hoe om daardie seun terug te betaal."

"Kan Pappie?" het Donovan vol belangstelling gevra. "Hoe?"

"Sou jy graag vurige kole op sy hoof wil plaas?" 

"Ek is gereed vir enige ding," het Donovan gesê. "Wel, ek sal jou sê hoe, en dan kan jy dit probeer."

Pappie is toe na sy studeerkamer. Daar het hy 'n boek geneem, en daarin geblaai. 

"O, hier is dit," het hy gesê, "luister, Donovan: As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop." Romeine 12:20

"Ag, dit sal nie help nie," het Donovan gesê; "ek sal hom liewer met die vuis bydam."

"Maar," het Pappie gese, "hierdie plan is baie beter. As jy met hom baklei sal jy nie baie seermaak nie; maar volgens hierdie plan sal jy vurige kole op sy hoof kan sit, en jy sal hom heetlemal verbrand."

"Maar ek hou glad nie van daardie plan nie," het Donovan gesê.

"Maar probeer dit," het Pappie gesê. "Ek dink dit sal die moeite werd wees."

"Wel, ek sal daaroor dink. het Donovan gesê

"Donovan het oor die plan gedink, en dit was ook nie lank nie of dinge het begin gebeur. 

Die volgende oggend, op weg na die skool, wie sou hy teëkom? Dit was die gehate Lionel.

"Ek voel sommer omgekrap," het Lionel gesê toe hy by Donovan kom. "Ek het te laat geslaap en het dus geen ontbyt gehad nie. Jy het jou seker weer ooreet."

"Wat, het hy nie ontbyt gehad nie!" het Donovan vriendelik gesê. "Maar jy moet honger wees. Neem maar my toebroodjies. Ek het goed geëet, en jy kan maar gerus myne neem."

Dit het Lionel regtig verras; dit was asof iemand hom met die vuis tussen sy oë geslaan het. Hy het eers an Donovan gekyk, en toe weer na die pakkie. 

"Meen jy dit regtig?" het hy gevra. 

"Ja, ek meen dit regtig," het Donovan gesê

"Neem dit."

"Dis baie gaaf van jou, dankie." het Lionel gesê toe hy die pakkie neem en dadelik begin eet. "Neem jy ook een," het hy aan Donovan gesê.

Donovan het ook 'n toebroodjie geneem, en eet-eet het die twee skool toe gestap.

"Sjoe! maar dis warm vanmore," het Lionel gesê na hulle so 'n end gestap het. "Ek is nou sommer baie dors; wens ek kan iets te drinke kry."

"Ek voel ook dors," het Donovan gesê. "Wag, laat ek sien waar sal ons iets kry."

"Dis jammer dat ons nie by daardie winkel limonade kan koop nie," het Lionel gesê.

"Ek het 'n plan," het Donovan gesê. "Ek het 'n sikspens. Kom laat ons twee bottels gaan koop."

"Maar ek kan nie al jou geld neem nie?" het Lionel gese. "Ek sal maar wag tot ons by die skool is."

"Ag, nee wat, kom" het Donovan gesê. "Ons sal elkeen 'n bottel koop. Dit sal baie lekker wees." Hulle het toe elkeen 'n bottel limonade gekoop. 

Daardie aand het Donovan se Pappie hom by die hekkie ingewag. 

"En toe," het hy gevra, "hoe het dit met die geveg afgeloop? Ek hoop jy het gewen."

"Ek het," het Donovan met 'n glimlag gesê. "Ek het hom heeltemal verbrand."

"Wat se jy daar?" het Pappie gevra.

"Wel, ek het gedoen wat Pappie gesê het. Ek het hom my toebroodjie gegee, en ek het ook vir hom 'n drankie ek gekoop, en hy het heeltemal teenoor my verander. Hy was die hele dag anders, en ons wat soos ou vriende."

"Mooi so Donovan!" het Pappie gesê. "Ek hoop jy sal al jou gevegte op daardie manier wen."

Slaaptyd stories
Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell