# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Voog

My voog is 'n professionele pornografiese fotograaf. Hy is vyf-en-veertig jaar oud en 'n vrygesel. Ons staan in sy ateljee en gesels. Die mure is van hoek tot kant beplak met kaal mans en dames. My voog bedryf sy besigheid in die aand as die ander huurders van die gebou nie daar is nie. Op die ateljee se deur staan daar: "Photo-Pix. Troues en Paspoorte." My voog lyk eerder soos 'n suksesvolle besigheidsman as soos 'n pornograaf. Hy het staalblou oë, silwergrys hare en 'n aantreklike, bruingebrande gesig. Hy dra 'n rolnektrui en denims. Hy kon in 'n sigaretadvertensie gewees het. Hy kon 'n sportmotor gery het.

"Ek is bly jy het kom kuier," sê hy. "Ek het jou baie lank laas gesien." "Ja", antwoord ek, en kyk na die foto's op sy mure. "Besigheid is besigheid," vervolg hy, verwysende na die naakte figure. "Hm," sê ek en wend my na sy aantreklike gevreet.  "Hoekom doen jy dit nog?" My voog kyk na die mure. "Ek gee die massas wat hulle wil hê. Ek neem hulle drome af en maak hulle werklik. Ek vervul 'n noodsaaklike funksie." "O" sê ek.

Hy stap na die oorkantste muur. "Kyk byvoorbeeld hierdie twee meisies met die vodkabottel..." Maar hy sien dat ek besig is om te kyk na my suster se foto op sy lessenaar. In geïdaliseerde swart en wit tree haar gelaatstrekke uit 'n wasige agtergrond te vore: haar oë en haar mond - ek is terug in my spreekkamer met die grasperke en bome en voorstedelike huise in die goue waas van die middagson buite. In 'n flits is daardie bitter somer weer by my; ek kyk na die rye en rye uitgestalde geslagsdade op die mure: organe met liggame as 'n nagedagte bygevoeg. Op sy lessenaar staan my suster se foto. Hy is besig om dit op te tel. Sy hand bewe liggies. "Sedert haar dood is dinge nie dieselfde nie," sê hy. "Ek kan nie meer met myself oor die weg kom nie."

Ek kyk na hom en sê niks nie. "Die dae is lank en leeg. Ek probeer hulle maar vol maak met my werk." Hy sit die foto neer en vryf oor sy oë. "Waar is sy nou? Waar is sy nou?" wonder hy retories. Ek kom agter dat my hande in vuiste geklem is. Ek laat hulle ontspan. "Hoe hanteer 'n mens die verlies aan iemand soos sy?" vra hy. "Toe - jy behoort mos te weet." Hy staar na die foto. Ek ook.

"Ek weet nie," sê ek. "Die begrafnis was so mooi," sê hy. Onthou jy die mooi dinge wat Oom Dominee gesê het?" "Ja", sê ek. "Ek onthou." "En hoe stil die familie was, by die graf?" "Ja," sê ek. ek onthou ook hoe die son geflits het op die punte van die sipresse, asof dit meslemme was. Ek onthou hoe my tannie geheimsinnig agter haar sluier gesnik het, hoe my oom se kanonloop-oë verdwynende kis gevolg het, hoe my voog met 'n vertrekte gesig gehuil het. Ek onthou alles baie goed. Ek dink hoe my dooie familie rondlê, orals oor die aarde verstrooi; sommiges se as waai selfs in die wind. 

Ek wil huil oor my suster, maar ek sal nie, want my voog is by. En voor hom sal ek nie huil nie, want ek het nie respek vir hom nie. Omdat hy nie geweet het wat sy was en hoe sy dinge sien nie. Daarom het hy gedoen wat hy gedoen het om haar uiteindelik te raam in swart en wit, daarom staan sy hier op 'n lessenaar in 'n ateljee, slegs verwant aan die statiese liggame met gesigte vol vals ekstase en ledemate wat gryp na niks. 

"Jy maak hulle drome werklik?" vra ek nadenkend aan my voog. Hy kyk steeds na die foto. "Ja," sê hy, en draai sy aantreklike gesig na my. "Ek moet nou gaan," sê ek en draai om. 

"Wag, wag," keer hy: Ek moet vanaand net gou 'n fotosessie doen. Die model gaan nou opdaag. Wag hier -", hy maak 'n deur in die muur van die foto's oop - "en dan gaan drink ons iets. Jy kan gerus kyk as jy wil." Hy stoot my in 'n ander kamer in met donker matte en 'n rusbank. Die deur gaan agter my toe. Ek sien wat hy bedoel wanneer ek omdraai - die kamer is, afgesien van die deur, met 'n eenrigtingruit aan die ateljee verbind. Ek loer tussen die foto's deur wat aan die anderkant van die glas geplak is. My voog is besig om ligte rond te skuif, hulle aan te skakel en om kameras na te gaan. Ek gaan sit op die rusbank, en wag.

Na 'n rukkie hoor ek dowwe stemme. Ek staan op en stap na die glas. My voog is blykbaar besig om aan die model te verduidelik wat sy moet doen; hy beduie uitdrukkingsvol; sy knik dat sy verstaan. Sy trek haar los trui en haar stywe langbroek uit en gooi hulle in die hoek van die vertrek. Dan gaan staan sy wydsbeen tussen die helder ligte. Dit is blykbaar 'n gimnastiekvertoning. Sy rek agteroor, staan op haar hande en vou haarself in knope terwyl my voog se kameralens om haar geslagsdele huiwer. Sy is baie atleties en vou en rek, vou en rek onder die kruisvuur van die ligte. ek merk op dat een lig begin rook. Sy strek ver ageroor, plaas haar hande op die grond. sy vorm 'n pragtige, estetiese mensboog: gespanne, delikaat. Die helder wit van haar vel verhef die ligroos van haar tepels, my voog beweeg tussen haar knieë in, die kamera voor sy gesig. Die lig ontplof en van die warm glasstukkies val op 'n hoop verfrommelde afdrukke op die vloer. Hulle begin dadelik brand. My voog kom stadig orent uit sy hurkposisie. Sy model ontvou haarself; staan regop en vou haar arms verskrik oor haar borste, asof iemand die ateljee binnegekom het. 

My voog begin hardloop na die brandende papiere. Ek en hy sien gelyk dat die vlamme die pastiek van die bottel spiritus waarmee hy sy lense skoonmaak, gesmelt het. Sy aantreklike gesig vertrek in vrees. Hy stuit sy hardloop en gooi sy arms voor sy gesig op. Die spiritus ontplof geluidloos in vlamme wat my voog ekstaties omhels. Hy val op die mat waaruit wit rook opstyg. Die model leun terug teen die muur, haar hande steeds voor haar borste, haar pragtige mond is wyd oop soos sy skree; dan verdwyn sy in die vlamme en rook. Ek draai om en stap na die deur wat lei na die brandtrappe. Deur die eenrightingglas is nou net rook sigbaar: rook en die foto's  wat teen die glas geplak is. Ek maak die deur agter my toe en hardloop met die metaaltrappe af tot in die steeg langs die gebou; met die steeg af hardloop ek uit tot in die straat. 

Die naglug is koel op my gesig. Ek dink aan my suster; aan haar oë, aan haar mond. Op die eerste verdieping van die gebou waarin my voog se ateljee is, is 'n judo-klub. Deur die groot vensters kan ek sien hoe mense besig is om mekaar oor en oor, oor en oor in grepe toe te vou en op die vloer neer te slinger.

Alex Retief

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7