# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

 Volkspele

 Volkspele is 'n Afrikaner volksdanstradisie. Die danse is oorspronklik op pieknieks en ander byeenkomste van jongmense uitgevoer, maar in die vroeë 20ste eeu het S.H. Pellissier 'n volkspelebeweging gestig met die doel om die reputasie en gewildheid van die spele te bevorder.

Die Afrikanerseuns en -dogters het vroeër piekniek-spele op 'n informele wyse by byeenkomste gespeel. Voorbeelde is Jolly MillerHere we come gathering nuts in May en Early Rose. Soos die volk op die kulturele terrein ontwikkel het, was daar sametrekke van jongmense gereël waar spele soos SiembambaJapie my Skapie en dies meer gespeel is. Daar was egter geen georganiseerde poging om hierdie volkspeletjies, toe nog slegs as "piekniekspeletjies" bekend, uit te bou of te organiseer nie.

In 1912 het 'n jong onderwyser, dr. Samuel Henri Pellissier, by Naäs, in Swede met die Sweedse volksang en -danse kennis gemaak. Daar het hy opgemerk dat, waar die Afrikaanse spele op die agtergrond gehou word en slegs by boerebyeenkomste op die platteland gedans word, het die Sweedse volk hulle spele as 'n trotse kultuurbesitting van hul volkslewe beskou. Pellissier het homself "voorgeneem om wanneer [hy] terug in [sy] eie land kom [hom] te beywer om ons eie nasionale drag, ons eie lied en ons eie volkspele in ere te herstel" .

Volkspelers by die borsbeeld van dr. S.H. Pellissier op Boshof, Suid-Afrika

In 1914 was Dr. Pellisier die adjunkskoolhoof aan die Afrikaanse Hoërskool in Boshof en het hy besluit om daar met 'n volkspelebeweging te begin. Hy het groepe jongmense bymekaargebring, waar hy vier vertaalde Sweedse danse aan hul voorgedra het. Die danse BoemfaderallaNikko-dikkom-dei en Ses wakker meisies in 'n kring en Die Vaste band is op 22 Februarie 1914 op die plaas Vuisfontein, 'n paar kilometer noord van Boshof, vertoon en het in gewildheid gegroei. Die beoefening van hierdie spele het daartoe bygedra dat die reeds bekende eie Afrikaanse spele op 'n meer grasieuse en gedissiplineerde wyse voorgedra is. Pellissier het ook daarop aangedring dat volkspele en volksang in die gepaardgaande volksdrag beoefen moet word. In 1915 het hy sowat 25 mans en 50 vroue oorreed om die Geloftefees 'n paar kilometer buite Boshof in Voortrekkerdrag by te woon.

Alhoewel Pellissier se leerlinge van Boshof en later van Ficksburg op ordelike wyse beoefen is, was die landswye belangstelling van die jeug nie genoeg om die spele op nasionale vlak te bevorder nie. Aan die einde van 1926 word dr. Pellissier aangestel as Direkteur van Onderwys in die Vrystaat en toe kon volkspele die nodige hupstootjie kry wat dit onder die aandag van die breër onderwyskorps gebring het. Mej A.M. Köhler, verbonde aan die Normaalopleidingskolledge op Bloemfontein, het in die jare 1936/1937 'n beperkte aantal volkspele as deel van die liggaamsoefeningkursus beoefen. Hierdie danse is ook in daardie jare vir die eerste keer in die program van die Lenteskole van Smithfield ingesluit, so ook later by Dewetsdorp en Harrismith in die Vrystaat. 

'n Tablo van die kakebeenwa, gevorm deur 2000 volkspelers by geleentheid van die Inwydingsfees van die Voortrekkermonument,Pretoria, Desember 1949.
Massavertoning deur 3000 volkspelers tydens die Van Riebeeck-feesKaapstad, April 1952.

Die viering van die Eeufeesjaar in 1938 het 'n nasionale belangstelling in die nasionale volksdrag, volksange en volkspele aangewakker. Köhler het in 1939 saam met mej. M.E.J. Coetzee nog drie Sweedse danse vertaal: Meisies en seuns wat kom van die plaasOns is musikante enKom Saartjie laat ons gaan. Die uitgebreide belangstelling in volkspele het daartoe gelei dat die eerste groot volkspelekursus in 1940 in Bloemfontein aangebied is. Kort daarna het die eerste handleiding in 1941 die lig gesien, wat die belangstelling oor die hele land nog verder uitgebrei het. "Laers" (groep volkspelers) is in die lewe geroep. Die Reddingsdaadbond het die organisasie van volkspele en die uitbreiding daarvan as een van sy bepaalde take aanvaar. Meer mense het begin belangstel in volkspele en groepe, oftewel "laers", is regdeur Suid-Afrika gestig en demonstrasies is by verskillende geleenthede gegee. Talle kursusse van volkspele en volksang is dwarsdeur die land gehou om die aspek van die kultuurlewe uit te brei. Sodoende het volkspele het meer bekend en gewild geraak.

In die komende jare het die gewildheid van volkspele sodanig gegroei dat 2000 volkspelers in 1949 'n massavertoning by die Voortrekkermonument gelewer het. Daar was 'n tablo van 'n voortrekkerwa waarvan die wiele gedraai het. Hierdie massavertoning het bygedra tot 'n lewendige belangstelling in die Volkspelebeweging en uitbreiding daarvan. Die volgende massavertoning was in 1952 tydens die Van Riebeeckfees in Kaapstad, waartydens die koms van Jan van Riebeck in 1652 herdenk is. Drieduisend volkspelers het op die feesterrein in Kaapstad opgetree; hulle het op die maat van "Die Lied van Jong Suid-Afrika" begin.

Terselfdertyd het die Uniale Raad vir Volksang en Volkspele aandag begin skenk aan die moontlikheid van 'n sending van Afrikaanse Volkspelers op besoek aan oorsese stamlande. Ook Pellissier het reeds voordat die Volkspelebeweging bestaan het dit as een van sy ideale gestel om Volkspele in Europa te speel. Op 17 April 1953 het 'n honderdtal volkspelers met dieCarnarvon Castle na Europa vertrek. 'n Uitgebreide en baie geslaagde reis is deur Nederland, België, Wes-Duitsland, Denemarke, Swede en Engeland afgelê. By Naäs het Pellissier 'n boom geplant as sinnebeeld van die groeikrag van Volkspele. 'n Bronsplaat wat langs die boom opgerig is, berig aan besoekers in Afrikaans en Sweeds dat die idee van Volkspele daar ontstaan het.

Die ontwerp van die rok van die niggie is gebaseer op Voortrekkerdrag van om en by 1836, alhoewel nie identies daarmee nie. Volgens die voorgeskrewe reëls van die Uniale Raad, voldoen hierdie ontwerp die beste aan die vereistes van die volkspele. Dit stel nie die alledaagse drag van die Voortrekkervrou voor nie, maar wel haar "kis"-drag - die swierige drag wat sy net by spesiale en feestelike geleenthede gebruik het.

Bo-rok

Die bo-rok was tradisioneel van tafsy gemaak, maar deur die jare het makliker wasbare en koeler materiaal (soos stywe moeslien of organdie) meer gewild geword. Enige effekleurige materiaal of materiaal met 'n klein onopsigtelike patroontjie kan gebruik word. Die romp is omtrent 450 cm wyd en reguit gesny. Dit word met klein plooitjies eweredig regoor die hele lyf dus ook voor die puntjie verdeel. Die lengte is tot op die knop van die enkel. Die soom is omtrent 10 cm breed.

Die lyfie is nousluitend met 'n puntjie van 6cm laer as die middel voor. Voor bestaan die lyfie uit 'n middelpant en twee sypante war met 'n koord aanmekaar gestik is. Die middelpantjie is 10-12cm breed. Die lyfie agter het tweesypantjies en die middelpantjie het 'n versteekte ritssluiter reg in die middel. Die middel agterpantjie is 5-6cm aan weerskante van die ritssluiter. Die lyfie strek tot in die niggie se middel and word met 'n koord aan die romp vasgestik. Die halslyn is rond en sowat 1cm onder die kuiltjie van die hals, afgewerk met 'n belegsel.

Die mou se wydte is nie meer as 46cm nie - dus nie 'n pofmou nie en strek tot die buig van die arm by die elmboog waar dit met 'n rekkie ingeryg word. Die eerste val van die mou is van dieselfde materiaal as die rok, dit is 11cm breed. 'n Tweede wit kantval van dieselfde kant as die nekdoek word onder die materiaalval gedra. Die kantval is 13cm breed en onder afgewerk met 'n 1.5cm kant en bo met 'n rekkie.

Die halsdoek bestaan uit drie aparte dele en word met 'n fyn kantjie afgewerk. By 'n moeslien- of organdierok is dit van wit voile of wasbare kant (gekleurde of swart kant word nooit vir die halsdoek gebruik nie). By 'n donkerkleurige tafsy-rok mag roomkleurige kant gebruik word.

Die wye onderrok word onder 'n tafsy bo-rok gedra en het 'n breë val van dieselfde kleur as die bo-rok. By 'n deurskynende bo-rok word 'n vollengte onderrok gedra. 'n Tweede gestyfde onderrok van drie wydtes het 'n breë val en word met kantjies afgesit.

Die Afrikaners Is Plesierig.mp3