# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

 
SA Topsites ::

Vlerke oop en vlerke toe

Dis die sprinkaantrekke uit die Kalahari wat vir Maans van sy verstand gebring het - kleintyd al. Van al die kinders in die skooltjie is Maans die eerste wat opkyk as die voorvlieërs doef-doef soos donderdruppels op die hete sinkdak val, om na 'n kort geworstel daar te vergaan. Sy gesig vertrek; die juffrou sien dit. Hulle kyk na mekaar, en dan is hy by haar. "Miss, die sprinkaan kom."

Hy sê dit sag. Dis net vir hulle ore. Sy sit daar in haar wit moeselienrok, 'n vrou uit ander, koeler streke, met twee stroompies sweet wat koel paadjies onder haar arms reguit af grond toe loop. Van almal hier is dit net hulle wat die sprinkaan vrees; sy omdat sy dit nie ken nie, hy omdat hy dit te goed ken. Die ander begin rinkink sodra die sonlig vertroebel in die swerm se aankomende verduistering. Sulke dae sluit die skool, want die kinders moet help wegkeer. Party van hulle word gehaal, ander sit self af in die rigting van die verskuiwende donkerte. Van alle kante kom mans te perd en mense in muilkarre. Hulle wiele wiebel in die lig. As die werkspanne met grawe afspring, skiet die speke lig uit, soos 'n windmeul wat baie vinnig draai. Slote word gemaak, vure word gemaak, met nat sakke word die rookskerm in die lug gestuur. Die son kry 'n grysrooi glans, hy brand deur die rook. Mense hoes en hardloop. Kinders gooi strome stof in die lug op; dit val op hulle terug. Wanneer die son sak, sak die stroom. Eers dam hy op, dan sak hy, derduisende vliegtuigies op soek na sitplek. Hulle val in die slote in, hulle kriewel en krioel, by derduisende brand hulle dood. En die mense slaan met die sakke, slaan en skreeu en eenkant dans die swartmense want dis kos wat kom. Net Maans is aan die vlug. Sy pa se lande kan maar deurloop, hy's die een wat vlug. Hy kan nie 'n gekrioel kyk nie. Dan slaan sy oë oormekaar, sy tong begin te lala-maak. Hy begin na sy kop te gryp, asof die goeters binne-in sy kopbeen is, en hy skreeu van vlerke! vlerke! 

Eenmaal het daar 'n kolonie rysmiere in die ou-huis ingetrek. Dit was Maans se werk om hierdie mierstad uit die grondmuur op te kap en op die hardewerfie oop te gooi, waar al die hoenders staan en wag het. Hy laai  die kruiwa vol met koeke miergrond, waaruit hulle in hul duisende krioel. En terwyl hy agter die kruiwa hardloop, hou hy oë toe. Hoenders raas en flap; hy moet sy oë oopmaak of hy ry die hoenders raak. Swart uit elke oopgeskeurde gangetjie peul miere in hul angs...In die middel van die werf laat hy die kruiwa wegloop. Hy gryp na sy kop en skreeu: "Hiaai, hiaau!" 

"Kêrel,: skree die werksmanne, "dis nie balktyd nie, wat skrou jy?" Maans begin malkop in die rondte tol. Hulle pak hom beet. Hy druk sy oë toe. "Vlerke oop! skreeu Maans, "vlerke toe! Help tog, help!" en daar was niks met hom aan te vang nie, tot die ou vrou uit die lang huis aangesukkel kom en hom bed toe neem met allerhande rate. Hy't drie dae daar gelê, met kopseer in 'n donker kamer. Ma, dis vreeslik, bewe hy. Maar niks wat hy kan verduidelik nie. En van toe af is hy vlerke oop en vlerke toe. As Maans weer anders is, dan klap die mense met die arms oop en toe, soos hoenders. Daarna moet jy nie eens vir Maans vra om in 'n gewone vlam te kyk nie. Sonsteek, sê die oues. Die kind ruik na kaiing, hy's klaar kondêm van bo. Die sprinkaanstorie het hom heeltemal die kring in. Van toe af begin ook die gesien.  Hy't 'n wese van die buitenste tye gesien, sê hy. Heeltemal reg, gee hulle toe, jy't met die sprinkaankoning gesels, vlerke oop en vlerke toe. 

So gee hulle hom aan, van die een na die ander. toe hy grootword, gee hulle hom 'n werkie, en 'n staning. Hy't selfs 'n vrou gekry, en op sy eie, 'n klein ronde rosyntjie van 'n meisiemens, uit die rosyntjieboswêreld. 'n Ou soet dingetjie, ook effens olik. Met haar handjies in haar skoot gevou, met haar onderlip ingevou oor die kaal rand van die onderbyt, sit sy en lag. Ja, Maans is simpel, sê sy. Maar hy's goed vir haar, en wat is vlerke nou, dis mos nie sonde nie. As hy so op die werf staan en kyk of die vlerke kom, dan vat sy hom aan die hand en bring hom in. Die ou mense sterf al - hulle was al stokoud toe hulle hom gehad het - en hy en Meisie erf die plek. Teen daardie tyd is sprinkaan in dié streke reeds getem. Hy bid driftig by die wyksbiduur, 'n man van vrese en verlangens. Hy jy en jou die Here, en bid 'n openbaring af. Jy sal sweer hy praat met sy buurman op Vlakpan. Dominee moet later aanspreek: "Broer, laat ons God nie so versoek nie." Die bidgroep wag met ingehoue asem. Half skreefoog loer hulle wat hy gaan doen, noudat Dominee gepraat het. Dit lyk hy gooi ankers uit - hy staan met sy arms oop en weg van hom. Sy mond bly lewe. Dan laat hy die arms sak, hy gooi sy stryd af, hy laat sy kop sak en knik ja dis reg en goed so; hy gaan van bo tot onder op die bank sit soos dit moet. Sy openbaring; hy moet vir hom sy eie bidplek maak. "Gedenk," hervat Dominee, "die groot gevare waarin land en volk verkeer. Moenie die stryd in eie hart ontketen nie. Laat vrede heers!" Vlakpan is nie geseën met grondwater nie. Daar staan maar 'n enkele sementdam op die groot vlak, 'n halfuur van die huis af, met die woerende windpomp langsaan. Maans lê vir hom sy bid- en ontmoetplek langs die dam aan, in die middel van die veld, waar niemand hom kan sien of hinder nie. Daarheen loop hy en Meisie soms - net hulle.

Sy weet, maar praat ook nie te veel rond nie, die mense is maar rof van doen. en die tye is nie goed vir manewales soos dié van haar Maans nie. Maans het baie trapvloer gemaak. Hy gooi 'n ronde bed van goed gebreide klei, en trap hom vas. Hy laat hom deeglik uitdroog. Dit moet in die oopte wees, om behoorlik van bo gesien te kan word. Maar ook nie te ver van water en skade nie: dus net 'n klipgooi van die dam af. Twee paadjies loop na hierdie bidplek toe: een van die dam-en-water af, 'n kort paadjie, en die ander 'n lang, reguit streep oor die dor veld, na die huiswerf by die rantjie. Duidelike boodskappe, 'n witter wit as die witvaal veld, en Maans hou hulle oopgetrap. 

By die damwal drup daar water. 'n Aankomeling sal nie eens hoef te draai nie. In dié nattigheid plant Maans 'n wilger, wat waaragtig vat. Dis 'n stok wat hy aangehelp het tot dit grasgroen op die haai vlak staan, 'n baken wat niemand kan miskyk nie. die derde jaar al staan dit so hoog soos Meisie. En toe soos Maans met sy hoed op - en dis baie hoog. Daarna groei die wilger stadiger, met rukkings van groen in die lente, wat Maans tot geduld maan. Groei en groei tot 'n vaderlandswilg, 'n ding wat groenighede reën soos water uit 'n gieterkop. As dan 'n boom so stadig kan groei tot sy voleindiging, kan hy, Maans, ook bekostig om te wag. Elke dag loop Maans die paadjie uit. Hy drink die water en hy bid, in die middel van daardie dorsvloertjie waarop nog nooit gedors is nie. Wat is die betekenisse tog, bid hy, dat U my nooit wil sien nie! Ek maak vir u die wysters hy die water, Heer. Ek is 'n tempeldienaar, net soos Simeon. Maar dis net die windpomp wat grond-in antwoord gee, met diep en versadigde waterklanke. Hy waag nie om te kyk in die wiel van daardie windpomp nie. Dit vang die lig te veel, en hy begin onthou van die krioelery. 

'n Baie groot wilgerboom. 'n ou man, sy oë grondwaarts gedruk. 'n Ou en heeltemal tandelose vroutjie. Nagmaal, wat nooit oud word nie, is al wat hulle van die plaas af kry. En nou ook die biddag vir vrede. Iets wat nooit tevore was nie: 'n biddag nie vir reën nie, maar vir vrede. Maans se bakkie loop die pad af dorp toe. Steeds bid hy, steeds stuur hy sy woorde een-een op boontoe, moeilik aan die Jakobsleer. Waar ander by is, bid hy nie. Maar hy luister, want dit mag dalk wees dat die tyding vir hom in antwoord op 'n ander se gebed kom. Maans het baie nederig geword, van al dié leë tyd. En so kom dit dat hulle nié daar is toe die mank helikopter met die stukkende seuns ver uit sy pad na sitplek soek nie, toe hy stippelklein uit die son se glans begin afgly op die boodskap van die oop kol en die groen boom, toe hy met 'n oneweredige vlerkslag soos 'n mens wat sterf met 'n gebroke asem, hotvlerk-haarvlerk tot stilstand kom in sy eie stofdwarrel nie. Die lang en soepel takke van die wilger swaai vervaard op, weg van die windveegsel, en kom weer tot rus. 

- nie gesien toe daar mense uit die helikopter klim, en steierend onder die damwal gaan staan en drink, en ook water aandra na die ander in die helikopter nie. Ook nie toe die dooie een voor die stuurstang weggehaal en plat neergelê word nie. Ook nie gesien toe die nuwe vlieënier 'n oomblik rondkyk na die menslose plek met sy harde, ronde blad, sy water en sy koelte nie - voordat hy die wankel helikopter steierend laat styg en terugneem, daar waar hy vandaan gekom het. Daar was weinig tekens oor dié Maandagoggend, maar hy kon hulle duidelik sien: die omgewoelde staanplek, die stofsirkel, die waterdruppels wat elk in sy eie stofdruppel gekrul en verdroog het, die voetspore, 'n plek waar iets gesleep is...

Die meeste het hy gewonder oor die verskrompelde blaartjies wat van 'n wilgerrits gestroop was, net soos hy dit doen, as hy onwillig is om die groenigheid van die boom te verlaat. En by party van die stofkorrels moes hy lank buk, wat dit was bloed, en die miertjies was daar besig. Toe het hy opgestaan, 'n man nie net lank nie maar ook hoog, en nog met die hoed op sy kop en die skadu oor sy oë dankie gesê dat hy die tekens kon sien maar die veldslag gespaar bly. Want God in sy genade weet wat die oë van 'n man soos Maans kan sien om te verduur, en dis nie baie nie. Kleindag, tog,het hy dit reeds leer ken: armaggedon. 

Petra Müller