# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Vir Sipho

Nomsa se voete ken die voetpad en sy hoef nie te kyk nie. Haar oë is gretig hoog by die visarend. Die voël trek sy een vlerk effens in, stoot die punt van die ander uit en kantel af. Die vis in sy kloue flits soos 'n lem.

"Kinders toe, kinders toe, hul' is honger!", jubel Nomsa, en toe die arend roep, roep sy terug. Die voël draai sy kop om te sien wie sy stem ken. Oor die rivier val hy vinnig, maar die wind wat oor die moeras kom en soet van die son teen die hang opstoot, druk in sy borsvere en hy maak sy vlerke oop. Hy lig sag op oor die suikerrietwang van die rant. Onder hom roer die saad wit en donserig soos sy kuikens in die wind en hy klap sy sterk vlerke 'n paar maal vinnig voor hy oor die kruin van die rant begin afgly na die lang streep duinwoud waar sy nes is. 

Nomsa se hart skop soos 'n kind onder haar bors. Dit is gisteraand wat haar so laat voel, dink sy; die vuur en die trom en Sipho se lyf, swart en blink soos die beeste wat hy vir haar betaal. Sy wil dans en haal die rooi pot van haar kop af. Die kafferboom spat vars bloed tussen die skildvelblare van die wilde piesang. Sy ruik die son op die water van die Umlalazi soet en loom. Sy weet dat onder die blink vel van die rivier die water koud is soos 'n boom se wortels. Die kleipot sal ook koud wees as sy terugloop en Sipho sal baie kere drink. Hy sal drink soos 'n kalf met sy keel wat ruk en die water sal deur sy baard afloop op sy nek. Nomsa wil sing, maar haar keel word vol van die groot gevoel.

Die pad breek nounek deur die gramadoela en spring tussen die klippe af water toe, maar Nomsa hoef nie te kyk nie. Haar voete ken elke klip se voel, weet waar die doringboom sy droë takkies afskud in die wind, ken die breekkolle in die skaduwee waar die son sy warm vingers deurgedruk het op die sand en die ander plekke waar sy moet koeltetrap-koeltetrap loop. Sy is trots op die kennis van lankal se waterhaalloop. In die rietboskasie langs die water het die rietrot sy neus fyntjies getrek toe hy Nomsa hoor aankom. Die wind het die water in klein riffelrige brandertjies gestreel en die riet 'n slag vinnig gekarnuffel. Die son het deur die rietsplete nuwe gange gebreek en voor die rot op twee klein stil oë geblink. Insinktief het die rietrot gevlug en die voetpad, 'n nou warm kloof in die riet, met een sprong oorgesteek. Sonder om die wasige beweging van die bruin diertjie iin sy sprong oor die voetpad sien, voel Nomsa die trillinge van die klein angs op-eggo en sy steek vas. Die mamba het deur die riet gekom asof dit sy spesiale pad is. Sy lyf het die gladde stele en die blare vasgegryp en verbygeruk sodat hy sy kop vinnig heen en weer moes swaai om te verhoed dat hy nie in volle vaart teen die rietstamme stamp nie. Die voetpad was egter nie meer net 'n warm oopte nie, 'n rooi vlam het sy pad versper. Sy lyf het nog vorentoe gebeur, maar die harde, stil oë het gesien. Soos 'n veer wat losbreek, het sy kop boontoe gesweep sodat hy van bo kan kyk na die groot rooi blom van die kafferboom. 

Nomsa wil skree, maar haal keel is dikvol soos die halwe wolke wat met die seewind oor die duine kom. Sy hoor 'n groot reën en die hartkind onder haar bors  skop of hy wil uitkom. die pot waarop sy trots is, val en breek. Nomsa se hande spring vinniger as die geelpootreier se bek vorentoe en sluit om die dun swart nek. Nomsa pleit met die stem van 'n kind in 'n swaarweernag: "Help tog, help tog ek gaan dood". Die slang hoor en beur sy oopbekkop heen en weer . Sy lyf ruk so en trek dat Nomsa al hoe harder pleit, maar net die krappe in die bek van hul moddergate gee daarop ag en skuifel agteruit dieper in die donkertes. Nomsa kyk verlangend na die voetpad terug en na die witblink water. Die slag soek eers vatplek om haar been en toe buig sy lyf soos 'n jongboontjieplant op en kronkel swaar om haar arm. Nomsa begin terughardloop. Haar voete  vergeet die warm sandkolle en haar oë die mistigheid van die rivierkloof, voor haar is die ligroos vleis binne-in die mamba se bek en die klein blink splinterties waar die tande in hul opgeswelde skedes skuil. Die boosaardige oë vermy sy. 

Toe sy tussen die suikerriet kom, weet sy: langer kan sy nie meer vashou nie. Die mamba se houvas om haar arm is verlammend stewig, die stert swaai om haar lyf en sy kan voel het trek die spiere saam om die kop deur haar hande te laat gly. Sy kom die sweet in haar hande agter. Nomse sê: "Sipho," en toe al harder: "Siphosiphosipho. Si-pho!" Haar oë soek op na die visarend en af na die stil groen koelte van die rivier. Die slag trek stil soos 'n tak al stywer. Nomsa dink aan haar hut en eensklaps is die slang in haar hande die stamphout; glad van baie gebruik. Sy lig haar hande op en laat sak, lig hoër op en laat sak, lig nog hoër op en die slag se lyf kring blink en swart om haar arm soos 'n swart koperring. Die kop gly effens. 

Toe byt Nomsa. Haar tande skeur deur die swart vel. Soos 'n hond ruk sy haar kop. Die stert agter haar rug swaai op, om haar nek. sy byt dieper en die seningrige, koue vleis gee mee. Nomsa kyk nie meer nie, haar oë is toe. Sy proe die soet smaak van die vleis en onder haar tande kraak diep been. Nomsa trek terug met haar nek teen haar hande wat die swart lyf van haar af wegruk. Die stert om haar nek swaai los en krul teen haar borste. Nomsa byt tot sy skielik voel hoe die konkels om haar bo-arm loswoel. een vreeslike oomblik dink sy die slag het sy kop losgetrek en haar oë skrik oop. Die lyf val grond toe en krul in die gras. Die ligroos bek is nog 'n oop blom in die kring van haar duim en voorvinger, maar oor die oë is 'n vaal stowwerige vliesie. Sy gooi die kort stuk lyf en kop weg van haar en hardloop. 

Die visarend lig weer oor die ruie duin en gly af teen die wind na die rivier. Hy sien die mens hardloop tussen die riet, 'n rooi warreling in die see van groen. Hy draai sy kop skuins en roep, maar sy bly hardloop. "Sipho, Sipho!", hoor hy; 'n lang uitgerekte huilklank soos 'n donkermaanwind deur die bome.

P.J. Haasbroek

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7