# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Viermaal Soveel

Jan se Moeder het hom van kleins af geleer om aan God een-tiende te gee van al die geld wat hy verdien. Dit is 'n goeie ding om te doen, en die Bybel sê dat mense wat dit doen daarop kan reken dat hulle 'n spesiale seën  van die hemel sal ontvang.

Van die eerste keer af dat Jan dus iets verdien het, het hy baie sorgvuldig een-tiende vir die Here afgesonder, en die geld het hy in die kollektebordjie by die kerk geplaas. Wanneer hy tien sente verdien het, het hy een sent vir God afgetrek. Wanneer hy soms vyftig sente verdien het omdat hy die motor gewas het, het hy vyf sente vir die Here weggesit.

Toe hy begin ouer word, het hy nog altyd die tiende afgetrek, maar daar was tye dat hy, net soos ander seuns, sekere dinge vir hom wou koop, en daarom het hy God se deel soms vergeet. Hy het natuurlik gesorg dat sy Moeder niks van sy versuim hoor nie, want hy het geweet dat sy baie teleurgesteld sou gewees het.

Om sy gewete 'n bietjie te sus, het hy boekgehou van al die geld wat hy moes inbetaal het, maar nie gedoen het nie. Hy het sy gewete gesus deur te sê dat hy eendag wanneer hy baie geld gemaak het, al die agterstallige tiendes sou terugbetaal.

Natuurlik het daardie dag nooit aangebreek nie. Jan het al meer en meer geld in sy boekie aangeteken, en die moontlikheid dat hy die geld ooit sal terugbetaal het al skraler geword. 

En toe, eendag, het hy baie opgewonde van die skool af gekom met die nuus dat daar 'n spesiale uitstappie vir die kinders sou wees. Hulle onderwyser sou vir hulle 'n toertjie na die platteland neem waar hulle allerhande dinge sou doen lekker sou eet, en baie pret sou hê. Daar was egter een moeilikheid, naamlik die onkoste. Dit sou elkeen drie dollars kos.

"Wel," het sy Moeder gesê, "wat jou betref, kan jy maar alles vergeet, ek het nie die geld nie; dis al. As jy so graag wil gaan, moet jy maar van jou eie geld neem."

Jan se moed het sommer gesak. Hy wou vreeslik graag gaan, maar hoe kon hy van sy geld gebruik, aangesien hy God al so veel geskuld het?

Hy het na sy laatjie gegaan en sy geldjies begin tel - sy aantekeninge boekie was ook daar.

Hy het getel: Vyf-en-twintig sente, vyftig sente, een dollar, een dollar en vyftig sente, twee dollars. So het hy getel totdat die bedrag eindelik drie dollars beloop het.

Hy het net die regte bedrag gehad, en nie 'n sent meer nie. Hy kon dus gaan as hy wou.

Maar toe het hy daardie aantekeningboekie raakgesien. Hy het sy skuld begin optel, en hoe langer hy getel het, hoe mismoediger het hy geword.

Het hy God werklik soveel geskuld?

Die bedrag was drie dollars!

Dit was 'n vreeslike gedagte. As hy alles sou inbetaal wat hy God skuld, sou hy nie 'n sent oorhou nie. Wat moes hy nou doen? Hy sal die hele idee maar moet opgee.

Hy was heeltemal verward toe sy kamerdeur skielik oopgaan, en daar was Moeder. Jan het vinnig die geld en sy boekie in die laatjie teruggegooi en dit toegestoot.

Maar Moeder het geraai wat geskort het. Moeders het maar 'n manier om reg te raai, nie waar nie?

Moeder het langs hom op die bed gesit, sy Bybel opgeneem en die derde hoofstuk van Maleagi nageslaan; sy het gelees: "Kan 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Hoe het ons U dan beroof? In die tiendes en die offergawe...Bring al die tiendes na die skathuis, sodat daar spyse in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en of julle 'n oorvoeldige seën  sal uitstort nie."

Jan het daardie verse al baiemaal tevore gehoor, maar dit was asof hulle hom hierdie keer baie dieper getref het.

"Moeder," het hy gesê, "Ek het besluit om nie op daardie toer te gaan nie."

"O, het jy?" het Moeder gesê. "Hoekom?"

"Wel, ek sal Moeder maar sê. "Ek het net drie dollars opgespaar, en ek skuld dit alles aan God. Ek het my tiendes lank laas betaal, en ek gaan al die agterstallige geld nou inbetaal liewer as op daardie uitstappie te gaan. Hou Moeder asseblief hierdie geld sodat ek nie in versoeking kom om dit uit te gee nie."

Jan het toe die drie dollars aan sy Moeder oorhandig wat vir 'n oomblik skoon uit die veld geslaan was.

Na 'n rukkie het sy gesê: "Ek dink hy het heeltemal reg besluit, Jan, en ek is seker dat alles nog sal regkom. Die Here kan sulke wonderlike dinge doen wanneer ons Hom graag wil gehoorsaam. 'En wanneer Hy die vensters van die hemel oopmaak, maak Hy hulle gewoonlik wyd oop."

Die volgende paar dae was moelike dae vir Jan. Kort kort een van die seuns of meisies hom gevra of hy op die uitstappie sou gaan, en dan moes hy maar antwoord: "Nee, ek sal nie hierdie keer kan gaan nie, dankie." En dat het die gevreesde vrae gekom, "Hoekom nie? Wat makeer? Is jy siek? Is jou Moeder siek? Hou jy nie van sulke uitstappies nie?" Jan moes dan maar ontwykende antwoorde gee, sonder om die ware rede te verraai.

Eindelik het die dag dat hulle sou vertrek, aangebreek. Jan het gevoel dat dit vir hom die swaarste dag sal wees - om almal te sien vertrek terwyl hy alleen agterbly.

Maar iets het tog gebeur. Vroeg daardie oggend het die briewebesteller aangeklop. Hy het 'n brief vir Jan gehad. Dit was van 'n oom in die Wes-Indiese Eilande. In daardie brief was twaalf dollars - presies viermaal soveel as die bedrag wat Jan as tiende gegee het. En nou kon Jan tog op die toer gaan saam met die ander. Hy was die gelukkiste seun onder die hele groep, want die vensters van die hemel het vir hom oopgegaan.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell