# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Victor Singh

Hy was lank weg.  Victor Singh. Die mense wat hom geken het voor hy Pretoria toe gestuur is, het hom byna nie herken toe hy weer hier opgeneem is nie. Singh sit met sy bord in die een hand, lepel in die ander. Hy praat nie. Sê net nee of ja as een met hom gesels. Dis al hoe lank dat hy terug is en nie 'n woord sê as dit nie nodig is nie. 

"Wie's daai ou wat nooit sy mond oopmaak nie?" het ek al baie nuwelinge hoor vra. Dié keer Daniël Tutu. "Dis Victor Singh," antwoord Mbatha. Mbatha het vir Singh geken voor hy weg is. Hy het gesien hoe grys hy geword het. Hoe daar skielike lyne op sy gesig verskyn het. "Is dit die man wat Pretoria toe is?"

"Dis die man."

Almal weet van Singh. 'n Man was maar 'n paar dae hier, dan het hy al gehoor van Singh, Victor Singh wat Pretoria toe is. Ek het al gehoor dat selfs die nuwe bewaarders vroeg-vroeg al deur die ander van Singh vertel is. Party van hulle het glo gaan kyk na foto's van Singh wat geneem is voor hy weg is. "Merkwaardig," het hulle dan gesê. 'n Mens hoor Singh se stem maar min, maar selfs die paar woorde wat hy sê, oortuig jou dat hy 'n ou man is. Sy vrou het glo aan die huil gegaan toe sy hom die eerste maal sien na hy teruggekom het. Sy kon dit mos nie bekostig om hom te gaan besoek die ses maande wat hy in Pretoria was nie.

"Oh God, God, what did they do to you?" het sy geskreeu. Ek self het dit nie gesien nie, maar almal praat daaroor. Wat ek wel weet, is dat Singh lyk soos iemand wat die dood enige oomblik verwag. Hier is baie van ons wat moord gepleeg het. Maar dis net Singh wat galg toe gestuur is. Dis net hy wat Pretoria toe is om te wag vir die tou. Toe stuur hulle hom terug; en nou kan hy die wag nie afgeleer kry nie. 

Jan van Tonder 

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7