Verwelkte Blomme

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell


Ben was omtrent tien jaar oud en vir Monica wat in die volgende straat gewoon het, was hy alles wat 'n seun behoort te wees. Sy was maar net ses, maar Ben was haar held, sterk en dapper en edel. Sy het daarvan gehou om hom by haar venster te sien verbyloop om te gaan speel. Hy was die langste en die breedste en - natuurlik - ook die mooiste. As hy na haar gekyk en geglimlag het, was die hele dag vir haar mooi en gelukkig.

Een middag, toe sy gedink het dat dit omtrent tydwas vir hom om verby te kom,  het sy besluit om hom 'n bossie blomme te gee. Daar was nie baie blomme in haar tuintjie nie, maar - het sy vir haarself gesê - sy gaan ten minste die bestes vir hom pluk.

Sy het hulle toe baie sorgvuldig uitgesoek en net die mooistes gepluk: 'n paar wittetjies, 'n paar rooetjies, een helder oranjekleurige, 'n paar groen blaartjies en 'n paar gesiggies. Baie versigtig het sy 'n stukkie lint van haar pop se rokkie om  hulle gebind en toe gaan wag by die tuinhekkie vir Ben om verby te kom.

Maar Ben het nie gekom nie. Die middag het verbygegaan en vanweë die warm son en Monica se klewerige klein handjies, het die blomme begin verwell. Maar Monica het ditnie gemerk nie.

Einde ten laaste hoor sy tog die bekende geluid van Ben se hartlike lag. Eindelik kom hy! Hoe bly was sy nie dat sy maar gewag het nie!

Ben het met die straat aangestap gekom, sy hart vol van die rugbywedstryd wat hulle pas gespeel en gewen het. Monica was maar 'n klein stippeltjie op sy horison.

Maar Ben was soos die son vir haar. Toe hy verbyloop, het sy geroep: "Ben, ek het vir jou 'n paar blommetjies gepluk."

Hy het omgedraai en na die arme, verwelkte, klewerige bossie blommetjies gekyk. Hy wou hulle nie hê nie. Wat kon 'n seun dan tog ook met blomme maak? Toe, sonder om verder te dink, slaan hy die bossie blommie uit Monica se handjie.

Vir 'n oomblik was Monica te verbaas om te besef wat gebeur het. Toe sy skielik onthou dat dit Ben - haar Ben - is wat so ru haar klein blykie van gehetheid verwerp het, het sy haar hande voor haar oë gesit en in trane uitgebars.

Ben het verder gestap, maar hy het glad nie meer so lekker oor die oorwinning wat hulle behaal het, gevoel nie. Hy het tot by die hoek van die straat geloop en toe omgekyk.

Ver weg het hy 'n klein dogtertjie by hulle tuinhekkie sien staan en sy het jammerlik gehuil. Versprei voor haar voete het die blommetjies geê wat sy vir hom wou gee.

Moes hy omdraai? Hy moes. Hy het geweet hy moes, maar hy kon nie. Iets binnekant hom het gesê "Nee, jy is te groot om vir 'n klein dogtertjie te sê jy het spyt en is jammer." Dus het hy om die hoek verdwyn, aangestap en die voorval probeer vergeet.

Maar dit was iets wat hy nie kon doen nie. Dag en nag het daardie prentjie hom gehinder. Hoe het hy nie gewens hy het maar omgedraai en alles gaan regmaak nie! Maar dit was te laat. As mens nie dadelik om vergifnis vra nie, word dit mos al moeiliker om te vra.

Jare het verbygegaan. Ben het groot geword en hy het weggegaan om 'n verdienste te gaan soek. Tog het hy onthou en wanneer hy geneig was om iets onvriendeliks te doen of te sê, het daar in sy gedagte die beeld geflits van wat daardie agtermiddag - lank gelede - gebeur het toe 'n dogtertjie gestaan en huil het met 'n klompie verwelkte blommetjies voor haar op die grond.