# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Veerpoot se Babas

Veerpoot was 'n klein kapokhennetjie. Toe hierdie ding gebeur het - en dit het gebeur - was sy besig om op haar klein eiertjies te broei, en sy het geduldig gehoop dat daar klein kuikentjies sal uitkom. Tot haar groot verbasing het daar 'n baie snaakse ding gebeur. Pleks van klein donsige kapokkuikentjies, het sy ontdek dat sy op twee kleinhondtjies sit. Hulle was baie klein, en dit het so gebeur. 

Tommie, aan wie Veerpootjie behoort het, was baie lief vir diere; toe hy hoor dat hulle buurman se hondjies kleintjies het, het hy gaan kyk. Daar aangekom het hy verneem dat hulle buurman die kleinhondjies glad nie wou hê nie, en dat hy van plan was om almal te verdrink. Tommie het twee van die hondjies huis toe gebring. Die hondjies was maar 'n paar uur oud, en Tommie moes hulle uit 'n bottel voer. Maar hoe om hulle warm te hou - dit was die groot vraag, want dit was in die winter en baie koud. Tommie het skielik 'n ingewing gekry. Wat van Veerpoot, sy eie kapokhennetjie? As sy die eiers kan warm hou, sal sy ook die hondjies kan warm hou. Die vraag was of sy op hulle sou sit? Tommie het vir die hennetjie 'n nes langs die stoof gemaak, haar daarop gesit, en die hondjies onder haar geplaas. Die hennetjie het sommer hard begin kloek, en sy was vreeslik in haar skik met haar twee snaakse babas. Vir twee weke lank het die hennetjie die hondjies warm gehou, en toe het eers die een en toe later ook die ander hondjie doodgegaan. Dit was nie die hennetjie skuld nie; glad nie. Sy het haar bes vir die hondjies gedoen en het hulle baie liefgehad. Waarom hulle doodgegaan het, het Tommie nie geweet nie.

Nadat die hondjies dood was, het hy vir Veerpoot weer op die werf gelos, maar sy wou nie daar bly nie. Wanneer die kombuisdeur oopgaan, het sy dadelik ingestap na haar plekkie daar langs die stoof waar sy so gelukkig was met die hondjies. Eendag het daar 'n baie snaakse ding gebeur. Veerpoot was weer in die huis, en sy het van kamer tot kamer geloop asof sy na iets soek. Skielik het sy 'n klein porseleinhondjie op die klavier gesien. Sy het dadelik op die klavier gevlieg, hard begin kloek, en op die hondjie gaan sit asof sy eindelik gevind het waarna sy so lank gesoek het. Die arme Veerpootjie, sy moes daardie kleinhondjies seker baie liefgehad het! 

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell