# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Van Duiwel Pontius na Dominee Pilatus

Uit ons kerklike lewe het daar al baie staaltjies te voorskyn gekom. En dié wat vir die oorvertel nie so lekker was nie, is omgebroei tot hulle soos 'n goeie grap die loop deur baie monde kon neem. En so het ons kerkgesigte nog altyd twee kante gehad: die een is ernstig, en die  ander is dié van 'n plaatjie.

Op 'n dorpie wat ek Kalkfontein noem, om ek nie weet hoe waar die storie is nie, het die gemeente vir jare lank in die skoolsaal diens gehou. En almal het pragtig saamgewerk en geld ingesamel vir die bou van hulle droomkerk ééndag.

Maar kerkbou is nie sommerse ding nie. Jy moet vir hom rus-rus pak, soos dié  gemeentetjie - miskien toevallig - ook gedoen het. Eers het hulle vir 'n behoorlike nes-eier gesorg en daarmee 'n stuk grond gekoop. En toe moes hulle van voor af wegspring en elke jaar die boufonds met 'n stewige stoot laat klim, want dit 'n lang leer voor jy by die balansstaat se weerhaan kom.

Maar hulle werk, en uiteindelik is die boufonds so sterk dat hulle die gebou kan oprig sonder om 'n enkele sent te leen. En dit sê veel, want kontant by die troffel vind 'n mens in ons tyd nie meer so dikwels nie.

En vandat die lidmate hoor dat dit nou sulke tyd is, begin daar 'n gees van onverduurlikheid onder hulle vaardig word - daar moet aan die gang gekom word, en gou ook. En die kerkraad voel insgelyks daar durf nie meer getalm word nie. 

En dit was toe dat daar vir die eerste keer onsmaaklikheid kom tussen van die lede van die kerkraad en ook onder die gemeentemense. 'n Sekere ou oom Piet, 'n ou strydros op die kerkraad, het 'n paar erwe in die nuwe deel van die dorp gehad. En elke keer as die kerkbouery ter sprake kom, dan praat hy in die rigting van dié erwe.

Sy argument is dat die kerk in die nuwe deel gebou moet word, omdat die dorp soontoe aan die uitbrei is; dis as't ware  waar die toekoms van die dorp lê. En hy voel nou dat die gemeentegrond in die ou deel verkoop behoort te word en die kerk gebou moet word waar die meeste mense eendag sal woon. 

En verder is dit ook so dat die kerkraad nie grond sal hoef te soek nie, want hy wat oom Piet is, sal twee van sy erwe wat aan mekaar grens, beskikbaar stel - een vir die kerk en een vir die nuwe pastorie. En daarby is dié twee erwe sommer langs sy huis sodat hy namens die kerkraad 'n ogie sal kan hou oor alles waaroor die kerkraad 'n oog gehou sou wou hê.

Na oom Piet gepraat het, word daar dan so 'n rukkie oor die moontlikheid bespiegel, en dan is dit eers weer stil. 

En so herhaal oom Piet elke keer sy aanbod. Maar, hy wil nie afstand doen van sy kaart en transport nie. Hy voel dat as hy die grond verniet beskikbaar stel, dit genoeg is. En dié houding van oom Piet maak die predikant versigtegerig. Daarom praat hy soveel as hy kan, die ding weg. 

Maar later is die kerkraad en die gemeente altwee in twee kampe verdeel, en toe word hulle bang vir mekaar, want niemand weet watter kant die sterkste is nie. Daarom laat die predikant die ding nooit tot stemming kom tussen die "oom Piet-kamp" en die "dominee-kamp" nie.

Vir 'n ruk wen die dominee tyd, maar uiteindelik is die dwarstrekkery so erg, en die druk om met die bouery te begin so sterk, dat hy 'n kerkraadsvergadering byeen moet roep vir die genadeslag na die een of die ander kant toe. 

En almal het gepraat en party het baie gepraat, behalwe een ouderling. Hy sê g'n woord nie, en hy sou die skaal kon swaai. Daarom sê die dominee toe dit lyk of niemand meer wil praat nie: "Broer, jy het nou nog nie 'n opinie gelug nie. Kan ons dan nie hoor wat jou standpunt oor die saak is nie?"

Toe staan die ouderling op. 

"Eerwaarde voorsitter," begin hy, en wag 'n lang ruk voor hy verder praat. "Ek het 'n droom gehad, maar ek weet nog nie hoe om hom uit te lê nie." 

"En wat het jy gedroom, Broer?" vra die dominee. 

"Dominee," sê die ouderling, " ek het gedroom ek kom in die warmplek, maar ek is nie dood nie; ek kry net kans om te sien hoe dit daar lyk. En ek het daar rondgestaan en alles betrag, en later hoor ek die ou groot duiwel roep al die klein duiweltjies bymekaar."

En ek beweeg ook nader, om te hoor wat hulle praat. 

"En dis wat toe daar gebeur:"

Die ou groot duiwel sê: "Kinners, ek het nou 'n slag ons boeke nagegaan, maar waragtag, ek kan nie 'n plek vind waar ons laas iemand uit Kalkfontein hier ingeskrywe het nie. Hoe doen julle julle werk?"

En die klein duiweltjies (party sê vir hom Oupa, en ander Pa), hulle sê hom: "Ons mors ons tyd met Kalkfontein se mense; daar is nie salf aan hulle te smeer nie."

Die ou groot duiwel sê: "Dis nie moontlik nie. Julle dink net nie."

Hy sê: "Het julle al aan die politiek gedink?"

Hulle sê dit help niks; die setel is onbetwis. Daarom spits hulle hulle maar op die ander setels toe. Die ou groot duiwel vra: "En die boere? Hoe staan dit met hulle?" Hulle sê nee, daar's geen jakkalsklubs nie, en buitendien vredige mense. Hy vra: "En die pers en die pornografie?"

Die klein duiweltjies sê aikonna. Die mense léés nie. Al wat hulle lees, is die Bybel.

Die ou groot duiwel vra: "Nou hoeveel kerke is daar?" Hulle sê: "Net een. Dis nou een gemeente van dieselfde kerk."

Die groot duiwel sê: "Maar dan verneuk julle my mos nog allietyd met julle halwe werkery. Die Kerk bied altyd 'n moontlikheid, veral as daar net een is, want dan is verdeeldheid 'n kleine kunsie."

Een van die klein duiweltjies sê vir die ou, hy wat die klein duiweltjie is weet darem nie so mooi nie. Want die gemeente by Kalkfontein staan vas. Hulle het dit glad reggekry om suffel geld bymekaar te maak lat hulle nou vir kontant 'n yslike kerk kan bou. 

Die ou groot duiwel sê: "My liewe hel, hoekom het julle my dit nie al lankal gesê lat daar 'n kerkbouery gaan plaasvind nie? Hierie kans kom nooit weer nie."

Een van die klein duiweltjies vra: "Hoe so, Pa?"

Die ou sê: "Nee, twee goed ken julle nog nie; julle moet nog baie leer van die moontlikhede van 'n gemeente wat kerk bou. Die een ding is die gemeente se swakheid, en die ander is Pa se krag - dis die twee goed wat julle moet ken. En natuurlik die manier waarop 'n man moet te werk gaan. 

"Daarom moet julle mooi kyk na die stappe wat Pa volg solat julle volgende keer weet. Wie is die leidende figure in Kalkfontein se kerkraad?" Die klein duiweltjies sê vir hom dit was oom Tewie en oom Hans, maar hulle-twee het nie in die warmplek uitgekom nie. 

Die ou groot duiwel sê: "Nou ja, sien julle? Met die siele wat verby is, sal ons meule nooit weer maal nie. Wie is nou die manne na wie die anner sal luister? Dis waar die begin van ons sukses lê."

Die klein duiweltjies sê vir hom: "Pa, die staatmakers is die dominee en oom Piet." Die ou sê: "Reg, nou pak julle vir my genoeg kos en kooigoed in vir 'n paar maande. Ek wil die besigheid op Kalkfontein persoonlik hanteer. En dan kyk julle.

"As die dominee en oom Piet elkeen net eers 'n klompie volgelinge het, dan kies ek oom Piet se kant en dan moet julle sien wat Pa se gewig kan doen."

Tot sover vertel die ouderling en hy bly stil. 

Die dominee sê: "Broer, en wat het jy toe verder gedroom?" Dit sal goed wees as ons die ding end-uit te wete kan kom."

Die ouderling sê: "Dominee, toe sien die groot duiwel my raak en hy vra: "Wie is dié vent? En toe sê hulle vir hom ek is die ouderling van Kalkfontein wat droom dat hy in die warmplek is, en toe sê die ou groot duiwel: "Maak hom dadelik wakker anders loop vertel hy al my planne op die kerkraadsvergadering oor."

Die dominee vra: "Broers, is hier nog iemand wat 'n gesig gesien het?" Daar is toe niemand nie, en almal - tot oom Piet - is doodstil. Daarom reël die dominee vir die soveelste keer dat hulle van die punt afstap. En hy sluit die vergadering af. 

Die volgende môre ontvang die dominee 'n briefie van oom Piet. En dit lui toe so:

Eerwaarde Dominee, ek kies met duiwel-en-al jou kant. Bou die kerk waar jy wil en sê wat se hulp jy nodig het.

Dit was vir die dominee die teken dat hy die swartspan onmiddellik bymekaar moes kry om die yster te slaan solank dit nog warm is. En met die nodige sin vir humor is die boosheid toe besweer. 

Hy het ook gedroom hy is in die warmplek, nes die stil ouderling, vertel die dominee. En toevallig het dit gebeur op daardie dag dat die groot duiwel onverrigter sake van Kalkfontein af teruggekom het. En die klein duiweltjies vra vir die ou grote: "Pa, en hoe't dit met Pa en oom Piet gegaan?"

"Moenie nog daaroor praat nie," bulder die ou. "Ek mors nie langer my tyd met hom nie. Laat hom na die duiwel gaan as hy liewers die dominee wil help as vir my."

Jan Spies

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7