# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

van Dik de Necker

Dik de Necker sit swaar op die bedrand en kyk na sy bruin broek met die ingewerkte stukke in die sitvlak voordat hy opstaan en klaar aantrek. Dik de Necker is wat hulle hom noem. Boonop is hy 'n kok was sy tyd ongemotiveerd in die weermag deurbring. Dik de Necker se probleem het aan hom 'n swak mediese klassifikasie besorg en hom in 'n inrigting ingedwing. 'n Army-kok  vir twee jaar. Hy is nog net negentien jaar oud en hy droom drome wat hom help om uit sy depressiewe toestand te ontvlug.

Dik de Necker stel homself weer teleur deur aan die advertensie van 'n spierbou apperaat in Huisgenoot te dink. Hy besluit om hom by sy dikheid te berus. Vir sy berusting skenk hy aan homself 'n bootreis op die Nyl. Hy besoek die tempel van Abydos in 'n drastoel wat vier swetende draers gedra word. Terug op die rivierboot, vaar hy verby die Tempels van Karnak. Hy staar rustig daarna terwyl hy die koel wind wat oor die rivier waai, geniet. Op die regteroewer wei drie Egiptiese waterbuffels in die biesies. 

Hulle kyk op toe hul wagter vir hulle fluit, blaas die water uit hul neuse en begin stadig uit die biesies uitstap. Een bulk hard. Met behulp van sy tolk kry Dik de Necker 'n papirus-pluim in die hande. Hy bestudeer dit tydsaam. Met sy terugkeer by die Hotel de Paris in die Nyl-delta, gesels De Necker, skemerkelkie in die hand, met 'n Ierse skoonheid wat op die res van haar navorsingsgeselskap wag. Hulle gesels oor Egiptiese wyshede wat onder meer onder die piramide van Gizeh gevind is. Toe sy fisieke belangstelling in hom begin toon, onttrek Dik de Necker hom met 'n verskoning na sy suite. Hy gaan sit op die bedrand. Hier word hy geroep deur 'n swart kombuishulp wat hom in Ovambo wil laat verstaan dat hy in die kombuis benodig word. Daar aangekom, gee Dik de Necker die drie sakke mieliemeel waarvan pap gemaak moet word. Hy kyk hoe die meel in die kookwater ingeroer word. Terwyl die pap prut, dink hy daaraan dat dit klink na die waterbuffels wat hy by die rivier gesien het. Die sirene kondig etenstyd aan en Dik de Necker skep die pap uit in opdienskottels. Hierna gaan stort hy, want kokke moet skoon wees. 

Dik de Necker beskou die dag se resepte, kolomvormig geskryf soos die hiërogliewe op die tempelmure. Die bestandele word vir hom ryk olies, speserye, medikamente vir die balsem van die Egiptiese koning Toetankamen, wat so tragies dood is. Dik de Necker deel die Egiptiese volk se leed met die afsterwe van hul jong koning. Hy ruik die brandoffers van die rouende Egiptenare. Dik de Necker maak sy oë stadig oop en haal die sago wat besig is om oor te kook, van die vuur af.

Hy draai om, stap na die kokke se kwartier toe en "crack" totaal oor sy dikheid, alleenheid, roepingloosheid en waardeloosheid, totdat die NDP-kapelaan na hom toe kom en met hom begin praat. Hy lees aan Dik de Necker die gedeelte voor oor die Israeliete wat uit hul ballingskap in Egipte verlos is, vertel hoe daar vir dié slawe verlossing gegee is. Dik de Necker dink aan die tien plae, die dood van die eersgeborenes. Hy ruk hom reg, kies kant, gee sy sakgroot Bybeltjie vir die kapelaan terug en sê vir hom om dit te hou.

Gawie Kellerman

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7