# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Twee Meisies en 'n Pop

Hierdie storie is oor 'n pop; dus hoef die seuns dit nie te lees as hulle nie wil nie. maar as niemand kyk nie, kan hulle dit ook maar lees.

Dit het in Peru in Suid-Amerika gebeur, en ook nie so lank gelede nie.

Op 'n sekere sendingstasie het daar 'n liewe dogtertjie gewoon met die naam van Jean. Sy was die sendeling se dogtertjie, en toe hulle terug gekom het van hulle rustyd in hulle vaderland, het sy 'n baie mooi pop saamgebring.

Dit was te liefies! Een van daardie nuwe poppe wat hulle oë oop en toe kan maak, en wat "Ma" of "Pa" kan sê. Verder kon dit nog baie ander snaakse dinge doen. Om die waarheid te sê, het dit so op 'n regte baba gelyk dat 'n mens nie sommer die verskil kon sien nie.

Al die ander dogtertjies in daardie omgewing wou ook baie graag so 'n pop hê. Die Peruwiaanse kinders het oopmond gestaan en kyk wanneer Jean vir hulle die pop laat praat. Die pop se naam was Barbara.

Een van die dogtertjies - haar naam was Anita - kon haar staan en verkyk na Barbara, en sy wou vreeslik graag ook so 'n pop hê. Sy het haar Pappie tot vervelens toe gesoebat om vir haar ook een te koop.

"Pappie," het sy gesê, "sal Pappie asseblief vir my ook so 'n pop koop soos die van die sendeling se dogtertjie? "

"Ek is jammer, maar ek sal dit nooit kan doen nie," het haar Pappie gesê. "Ek het nie die geld nie. Dit sal maande neem om genoeg geld op te spaar vir so 'n pop, en dan is daar ander dinge wat ons baie nodiger het."

Anita was natuurlik baie teleurgestel, maar sy wou nie glo dat sy nooit so 'n pop soos Barbara sou hê nie. Sy het aan Jesus gedink, en sy het die hele saak aan Hom vertel.

"Liewe Jesus", het sy gebid, "U weet hoe graag ek 'n pop wil hê soos die van die sendeling se dogtertjie. As U vir haar een kon gee, kan U nie asseblief vir my ook een gee nie? My eie pop is so lelik. Stuur asseblief vir my ook een."

So het sy gebid en gehoop, maar daar het geen pop gekom nie.

Haar Vader het gehoor hoe sy bid, en hy het haar gesê om nie teleurgestel te wees as haar gebed nie verhoor word nie. Dit is onmoontlik het hy gesê. Maar Anita het aangehou bid.

Eendag het sy aan haar Pappie gesê: "Ek weet ek sal my pop nou gou kry. Ek voel dit sommer aan my. Ek is seker dit kom. Ek glo dat dit vandag sal kom."

"Nee, ek glo nie jy sal dit kry nie," het haar Vader gesê. "Dit is te veel gevra."

Op daardie oomblik het hulle vir Jean, die sendeling se dogtertjie, na hulle huis toe sien aankom; sy het Barbara styf in haar armpies vasgehou.

"Daar is die pop, Pappie, sien Pappie nou, ek wil een hê wat net so lyk."

"Ek het gekom om Anita te sien," het Jean gesê, met die glimlag van 'n engeltjie op haar gesig.

Anita het na haar toe gehardloop. "Anita," het Jean gesê, "ek wou jou al die hele dag sien. Jy sien, Pappie is teruggeroep na Amerika. Ons moet dadelik vertrek. Ek het toe aan jou gedink, want ek weet hoe graag jy vir Barbara wil hê. Sal jy haar baie mooi oppas as ek haar vir jou gee?"

"Vir my gee!" het Anita verbaas uitgeroep. "Gaan jy haar heeltemal vir my gee?"

"Ja," het Jean gesê, "ek gaan haar vir jou gee as jou eie."

"O, dit is liefies van jou'" het Anita gesê, "maar wat van jou dan?"

"Ek wil haar baie graag vir jou gee, en my Pappie sê dat hy vir my 'n ander een sal koop."

"Baie dankie! 'n Duisend maal dankie!" Toe het sy na haar Pappie gekyk en gesê, "Ek het Pappie mos gesê, want ek het geweet Jesus sal my gebed verhoor. Hy doen dit altyd."

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell