# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Tommie se Trompet

Waarom mense vir seuntjies trompette moet gee as verjaarsdaggeskenke weet ek nie; maar hulle doen dit tog, en dit is daarom dat Tommie eendag die trotse besitter geword het van een van daardie lawaaierige 'musiekinstrumente.' 

En Tommie was vreeslik in sy skik daarmee.  Hy het daarop geblaas en geblaas en geblaas totdat almal in die huis net moeilik was. Eindelik is Pappie se stem daar uit die studeerkamer gehoor, en dit het glad nie te vriendelik geklink nie: "Tommie, ek kan daardie geraas nie langer uithou nie! Hou asseblief op om daardie trompet te blaas!"

"Maar Pappie, dis dan my verjaarsdag."

"Ek weet dit," het Pappie gesê, "en dit is die rede waarom ek nie eerder gepraat het nie; maar wat te erg is, is darem te erg."

"Wel, kan ek dit net 'n bietjie langer blaas?"

"Goed, maar net vir 'n klein rukkie langer, hoor!"

Tommie het toe weer begin blaas, maar hierdie keer het hy dit buite in die tuin gaan doen. Hy het egter vergeet dat hy die trompet net vir 'n rukkie langer kon blaas. Weer het hy tot vervelens toe geblaas, en Pappie was verplig om die venster op te skuif, uit te leuen en te sê: "Tommie, hou dadelik op met daardie lawaai!"

"Maar dis mos my verjaarsdag," het Tommie gesê.

"Ek weet dis jou verjaarsdag," het Pappie gesê, "maar dit gee jou nie die reg om almal vir myle in die omtrek te irriteer nie."

"Wel, mag ek dit dan aan die anderkant van die huis gaan blaas?"

"Ja, maar sorg dat jy dit nie te hard blaas nie."

"Goed, Pappie."

Maar dit het tog nie gehelp nie, want die geblêr van daardie trompet was so deurdringend dat dit dwarsdeur die huis gegaan het, en boonop was daar nog die eggo's van die ander huise in die omtrek. 

Eindelik was Pappie weer verplig om die venster op te skuif, en hierdie keer het hy baie hard gepraat: "Dis nou heeltemal genoeg, hoor jy! Dis heeltemal genoeg vir een dag."

"Ja, maar dis my verjaarsdag," het Tommie baie teleurgesteld gesê.

"Dis jou verjaarsdag," het Pappie gesê, "en dit is een van die redes waarom jy aan ander mense ook moet dink. Gaan bêre dadelik daardie trompet!"

Baie ontevrede het Tommie sy trompet gaan bêre. Hy kon glad nie verstaan waarom hy nie sy trompet kon blaas solank as hy wou nie. Waarom moet sy Pappie dan so onredelik wees?

Moeder het 'n groot, heerlike verjaarsdagkoek vir Tommie gebak, en ook 'n lekker ete berei. Omdat dit Tommie se verjaarsdag was, het hy gedink dat hy net soveel kon eet as hy wil, en hy het ook.

Maar in die nag het hy wakkergeskrik, en sommer baie siek gevoel; die volgende oggend het hy kwaai hoofpyn gehad. Hy het so sleg gevoel dat Moeder gesê het dat hy in die bed moes bly. Juis toe die hoofpyn op sy ergste was, het hy 'n geluid gehoor wat hy baie goed geken het. Sy sussie het sy trompet geblaas! O, hoe het die geluid deur murg en been gegaan! Dit het gevoel of sy kop wou bars. "Mammie! Pappie!" het hy geroep. "Sê vir sussie dat sy moet ophou om die trompet te blaas. Ek kan dit glad nie hou nie."

Toe het hy 'n stem gehoor wat soos sy Pappie s'n geklink het. "Ek het gedink dat jy van trompette hou," het hy gesê. "Onthou jy gisteroggend?"

Toe het Tommie besef, en van daardie dag af was hy baie versigtiger om ander nie met sy trompet te steur nie. 

Toe Tommie weer op was, het sy Pappie aan hom gesê dat dit altyd 'n baie goeie plan is om aan ander mense te doen soos jy wil hê dat hulle aan jou moet doen. 

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell