# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Toe die Wag gesalueer het

Ek het eentyd iets vreemds in Rome gesien. Dit het gebeur by die graf van die Onbekende soldaat.

Julle het seker al van julle Pappies gehoor dat elke nasie na die eerste wêreldoorlog een van die dooies van die slagveld - iemand wat onherkenbaar vermink was, en sonder nommer of naam - geneem en met groot eerbetoning begrawe het - groter as dié van prinse en generaals. Dit is gedoen as blyke van dankbaarheid vir die lyding en opoffering van miljoene arme, gewone, onbekende soldate wat moes veg en sterf.

Julle het al seker die Graf van die Onbekende Soldaat gesien te Arlington, of Westminster Abdy, of dié onder die Arc de Triomphe in Parys, waar 'n vlam gedurig brandend gehou word tot sy gedagtenis.

Maar dit is omtrent die een in Rome waarvan ek julle veral wil vertel. Dit is in die middel van die stad, en vorm deel van 'n pragtige monument. Groot blomkranse versier die plek, en daar staan twee soldate in volle mondering op wag.

Terwyl ek daarna gestaan en kyk het, het ek iets ongewoons opgemerk. Die twee soldate het almal gesalueer - mans, vroue, en kinders - wat daar verby gegaan het en die dode geëer het wie se graf hulle bewaak het.

Vorentoe en dan weer terug het hulle gewere gegaan onderwyl die mense die trappies bestyg, gesalueer, en verbygeloop het. Ek was bevrees dat hulle soms sou deurmekaar raak en nie gelyk sou salueer nie; en hulle het ook, maar dadelik weer het hulle herstel en voortgegaan met hulle vreemde, dog mooi werk.

Natuurlik het ek veral belang gestel in die kinders wat die helde kom vereer het. Sou daardie stroewe wagte hulle ook erken en salueer?

Ja, hulle het. En die kinders, wat nie mooi verstaan het waaroor dit alles gaan nie, het dit skynbaar geniet, want hulle kon ware, lewendige soldate, met geweer en gevelde bajonet, dwing om hulle te salueer! Die kinders het volle gebruik gemaak van die voorreg. Waar hulle so by die wagte verbygeloop en gesalueer het, het die wagte hulle teruggesalueer, en hulle het baie tevrede met hulleself gelyk.

Neen een is teleurgestel. Dit was 'n klein dogtertjie van omtrent twee en 'n halwe jaar. Sy het keer op keer gesalueer, maar tevergeefs. Miskien was sy so klein dat die wagte haar nie raak gesien het nie.

Hoe dit ookal sy, hulle het nie haar saluut beantwoord nie, en toe is sy maar weer die trappies af saam met haar Pappie. Sy het baie teleurgesteld gelyk . Ek het ook vir haar jammer gekry.

Ek het gewonder wat sou gebeur as 'n uitlander daar verbyloop, en daarom het ek ook daar verbygeloop en gesalueer. (Alhoewel ek oorlog haat, is ek gewillig om diegene te eer wat vir 'n groot ideaal gesterf het.) Dadelik het die wagte my saluut beantwoord, en toe ook kon ek beter verstaan waarom die kinders so graag daar verbygeloop het.

Toe ek later daaroor nadink, het dit my voorgekom of daardie twee soldate werklik gedoen het wat daardie arme dooie man graag sou gedoen het as hy kon sien hoe mense hom eer. Hulle het names hom die saluut beantwoord; en omdat hy 'n arme onbekende man onder die gewone mense was, het hulle ook almal gesalueer.

Dit is soos ons almal behoort te handel, dink julle nie so nie? Ons behoort te doen wat iemand anders sou gedoen het as Hy hier was. Die Apostel Paulus het gesê: 'Ons tree dan op as gesante om Christus ontwil'.

Net soos Jesus teenoor almal vriendelik was en hulle liefgehad het, moet ons ook dieselfde gees openbaar. Ons moet nie net met seuns en dogters praat wat baie geld, of ryk familie het, of wat vir ons iets kan doen nie, maar ons moet vriendelik en hoflik wees teenoor alle mense, wie hulle ookal is, of hulle ryk of arm is.

En ons moet nie sommige mense oor die hoof sien soos daardie twee wagte nie, maar ons moet notisie neem van selfs die kleinste kinders deur hulle te help en hulle vriendelik te groet. Die Hemel het die kleintjies baie lief, en ons moet ook vriendelik teenoor hulle wees en hulle liefhê.

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell