# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Toe Barbara nie wou bid nie

"Ek gaan nie vanaand bid nie," het Barbara kwaad gesê. 

"O, so," het Moeder gesê. "Freddie sê altyd sy gebedjie eerste, en dan is dit jou beurt."

"Hoekom moet hy altyd eerste bid?," het Barbara huilend gevra. "Omdat Freddie jou oudste boetie is, en hy bid altyd eerste," het Moeder gesê. "Maar ek wil eerste bid," het Barbara gesê. "Gebed is nie 'n speletjie nie, Barbara," het Moeder gesê. "Wanneer ons bid, praat ons met Jesus, en dis nie 'n tyd om rusie te maak nie."

"Ek wil eerste bid," het Barbara gesê, "en as ek nie eerste kan bid nie, sal ek nie bid nie."

"Maar kyk, Freddie het mos al klaar gebid, en dit beteken dat jy nie eerste kan bid nie; sê maar nou jou gebedjie."

"Ek wil nie," het Barbara gesê.

"Ag nee wat, wees nou 'n soet dogtertjie," het Moeder gesoebat. "Kom laat ons begin: Liewe Jesus."

"Liewe Jesus." Boe-hoe-hoe-hoe!

"Moenie so huil nie."

"Maar ek wil eerste bid."

"Ek dog ons is al daar verby," het Moeder gesê.

"Kom nou, laat ons verder gaan. Maak my hartjie rein."

"Liewe Jesus, maak my hartjie rein." Boe-hoe-hoe!

"Dis beter."

"hou vannag oor my die wag." Boe-hoe!

So het die biddery gegaan tot die einde. En toe, nog huilende, het Barbara in die bed geklim en met haar nat gesiggie op die kussings gaan lê.

"Weet jy wat ek van daardie gebed dink," het Moeder gesê terwyl sy vir Barbara toemaak. 

"Nee," het Barbara gesê.

"Wel, ek glo nie dat Jesus daarvan gehou het nie, glad nie."

"Hoekom nie?" het Barbara gevra. "Omdat daar te veel lawaai was; niemand kon hoor wat jy sê nie."

Barbara het niks gesê nie. Dit het gelyk of sy diep dink. Moeder het haar nag gesê en toe die kamer verlaat.

"Moeder," het Barbara geroep, "kom terug."

"Waarvoor?" het Moeder stroef gevra.

"As Moeder dink dat Jesus daardie gebed nie kon hoor nie, sou dit miskien beter wees as ek dit weer bid."

"Dis 'n baie goeie plan," het Moeder gesê. "Nou toe, bid laat ek hoor."

Barbara het uit die bed geklim en langsaan gekniel. Hierdie keer het sy haar gebedjie baie mooi gebid tot die einde. 

"So, dit is beter," het Moeder gesê onderwyl sy Barbara vir die tweede keer nagsê. 

"Ek is jammer dat jy nie sommer die eerste keer behoorlik gebid het sonder al die lawaai nie."

"Ek is jammer," het Barbara gesê, terwyl sy vir die tweede maal in die bed klim om te slaap.

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell