# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Taalles

Sy beweeg deur die klas en haar rok ruis agter haar aan: 'n wolk duifgrys sy. En dit is hierdie ruising waaruit daar  'n geheimsinnige lyfreuk opstyg wat dit vir Alfred Ngwenya onmoontlik maak om op sy werk te konsentreer. Sy oë volg haar waar sy buk by Mhkize om iets te verduidelik, en verder soos sy met die ry af beweeg, verby Bongani en Fanifani. By Maria Hlatshwayo bly sy 'n ruk lank staan en sy knik goedkeurend. Musekwa moet 'n stommiteit begaan het, want nou is sy op pad na die swartbord. Op haar geduldige, byna onwesenlike manier begin sy opnuut uiteensit dat oorganklike werkwoorde met direkte voorwerpe in sinne verbind. Om te toets of daar 'n direkte voorwerp in 'n sin voorkom, kan 'n mens die wat-vraag stel:

Sarel koop WAT?  Antwoord: 'n nuwe baadjie.

Ons hoor WAT?    Antwoord: die klok.

Anna lees WAT?   Antwoord: 'n boek.

"Let wel," sê sy nadruklik, dié toets kan slegs toegepas word nadat daar vasgestel is dat die betrokke hoofwerkwoord nie 'n koppelwerkwoord is nie. Die eerste toets vir oorganklikheid is dus om te bepaal of daar 'n direkte voorwerp in die sin optree. Indien die direkte voorwerp as onderwerp gebruik kan word wanneer die sin in die lydende vorm geskryf word, kan ons aanvaar dat ons te doen het met 'n oorgangklike werkwoord."

Sy sit die kryt neer en klap haar hande om van die wit stof ontslae te raak. "Meneer Musekwa, verstaan u nou waarom u sin grammatikaal nie korrek is nie." Musekwa se kop hang en beskaamd skud hy van nee. Sy gaan maak vir haar plek langs hom en begin van voor af verduidelik, geduldig en sag, maar asof sy self ver weg, op 'n ander plek is. 

Miskien is haar grootste fout nie dat sy sommer aanneem dat ons almal haar taal verstaan nie, dink Alfred. Miskien lê die knoop by haar haar aanbieding: dit is asof sy besig is met 'n spooktaal; 'n taal wat net in die doderyk gepraat word. As sy maar kwaad kon word of ten minste 'n bietjie entoesiasties!

Hy is lankal verby sy aanvanklike woede oor die taal. Die taal wat 'n vereiste is vir sy graad in die Regte en wat soos 'n onbeweeglike rots in sy pad lê. Die taal wat hom reduseer tot 'n onbeholpe kind. Sou sy ooit kon glo dat hy nooit minder as 75% kry vir sy ander vakke nie? Sou sy hoegenaamd belangstel? Vir haar is hy 'n registrasienommer; een van die massa onnosele swart studente wat nie die eenvoudigste sin foutloos kan neerskryf nie. Weet sy van die gedigte wat Simelane skryf? Het sy al ooit 'n Zoeloe-pryslied gehoor? Die musiek daarin? 

Hy kyk af op die vel papier waarop daar 'n verlate opsksirf staan: My Vakansie. 

Sy het vanogggend gekom met die gedagte dat hulle skryf oor die pas afgelope April vakansie. Vir oefening, het sy gesê. Soos 'n troppie skoolkinders. En sodat sy geduldig, sonder ergenis, hulle foute kan korrigeer. 

Aan die soet-soel geur weet hy dat sy langs hom staan.

"Julle hoef nie 'n feitelike weergawe van die vakansie gee nie, sê sy in die algemeen, maar hy weet dat sy met hom praat. 

"As die vakansie nie lekker was nie, of miskien bloot vervelig, kan julle uit julle verbeelding 'n eie droomvakansie skep: 'n maanreis, as julle wil."

Mits ons die woordeskat gehad het, dink hy. Dan was enigiets moontlik. Dan het ek haar eie vakansiewêreld betree deur te vertel van my tien leeglê-dae by een van die luukse hotelle aan die Noordkus. Bedags in die song langs die see met 'n blondekop Sweedse meisie. Een wat haar bikinitop in die slaapkamer vergeet het. Smiddae suig ons wodka met strooitjies uit halwe pynappels terwyl ons halflyf in die swembad hang, en saans speel ek snoeker met 'n wit baadjie aan en 'n broek van gladde, blink materiaal. 

Kom nou, meneer Ngwenya, die tyd stap aan, por sy.

Hy dink aan die afgelope vakansie op die suikerplaas waar sy oupa 'n arbeider is. As hy die woorde gehad het, sou hy haar kon vertel van die groot kliphuis tussen groen grasperke waar die wit kinders daglank tennnis speel, of swem, of te perd heuwels toe ry. Hy sou kon vertel van die ligvloed wat elke aand by die huis uitstroom, die pragtige motors wat in die oprit stilhou en die musiek wat oor die ganse verligte tuin pols...

Musiek wat gehoor kan word tot by die kampong en waarna hy elke aand in die donker staan en luister het. Want sy wil hoor van die werklikheid? Die klomp sweterige lywe in die bedompige hut, die vervelige dae van suikerkap, die gemis aan boeke, musiek, intellektuele geselskap, 'n die brandsiek skaap wat hulle kon kry nadat dit al 'n dag lank vrek gelê het in die bos...

Toe hy oor die papier afbuk, glimlag hy. Daar was darem plesiere  ook. Die lang wandelings teen skemer, agter die beeste aan, die vinnige swemmery in die rivier en die geskerts vroegaand by die vuur wanneer die hele wêreld sag en rokerig geword het. Met die weggaan het mnr. Mundell hom selfs R20 in die hand gestop vir die ongevraagde hulp met die boerdery. Van mev. Mundell was daar 'n hemp. Een wat haar seun, Gregory, seker nie wou gehad het nie, maar dis niks, soms het 'n mens netjiese klere ook nodig. In die paar minute voor die periode eindig, skryf hy haastig:

My vakansie.

Ek het na my oupa se plaas gegaan. Ek het by die trein gegaan. Want ek was daar ek het na die rivier toe gegaan. Ek het na die rivier geswem. Ek het met my oupa se kinders gesels. Sondag het ons baie vleis van skape geet omdat daar was 'n braai in die middag. My oupa het my 'n goed present gegee en dit was 'n nuwe hemp. Dit was 'n mooi vakansie. 

By die deur prop hy die stuk papier in haar hand waar sy nog op hom staan en wag. Nou moet ek 'n pryslied gaan lees, dink hy, of 'n psalm van Dawid. Dit sal die sonde van die taal van my afwas. 

J.M. Gilfillan

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7