# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Sylvia se Stryd

As daar een ding was waarvan Sylvia glad niks van gehou het nie, dan was dit om op die klavier te oefen.

Om die waarheid te sê, sy het dit gehaat.

Sy was op die oomblik daar in die sitkamer voor die klavier waar sy geprobeer het om die note te speel in die musiekboek voor haar.

Tum-tum-tum, het Sylvia die klawers gedruk. tum-a-tum-tum-tum.

"Ag!" het sy moedeloos uitgeroep. "Ek kan nie die ding regkry nie."

"Ek sal nooit, nooit weer oefen nie," het sy uitgeroep terwyl sy van die stoeltjie af opstaan en na die deur stap. Maar, ongelukkig vir haar, toe sy die deur oopmaak het Moeder daar gestaan.

"Hallo, Sylvia. Jy het nog nie daardie stukkie leer speel nie, het jy?" het Moeder gevra.

"Nee, en ek gaan dit ook nie leer nie," het Sylvia gesê. "Ek haat hierdie oefenry; ek haat hierdie stuk; en ek haat die klavier."

"Nee, nee, Sylvia, dit sal nooit gaan nie!" het Moeder gesê. "Jy moet nie so maklik opgee nie. Jy sal nie ver in die lewe kom sonder 'n stryd nie. As jy dit nie sommer dadelik regkry nie, moet jy aanhou probeer."

"Ek wil nie weer probeer nie," het Sylvia ewe vies gesê. "Wel, laat Moeder sien wat sy met hierdie stukkie musiek kan doen. "

Moeder het toe voor die klavier gaan sit en die stuk oorgespeel. Dit het so maklik en so mooi geklink dat die frons op Sylvia se gesig begin verdwyn het. "Dit is maklik vir Moeder," het sy gesê, "maar ek sal nooit so kan speel nie."

"Natuurlik sal jy kan," het Moeder gesê. "Sommer baie gou sal jy hierdie stuk beter as ek kan speel. En jy weet dat die skool wil hê dat jy op die Kerskonsert moet speel."

"Ek!" het Sylvia uitgeroep. "Moet ek op die skoolkonsert speel? Dit sal 'n mooi grap wees, hulle sal my almal uitlag!"

"Maar ek sien nie waarom jy nie sal kan speel nie," het Moeder gesê. "Daar sal ook ander dogttertjies wees wat speel, en jy wil tog seker nie hê dat hulle jou moet uitstof nie. Al wat jy moet doen, is om baie te oefen."

"Oefen! oefen! o, ek haat daardie woord."

"Maar jy moet nie," het Moeder gesê. "Dit beteken maar net dat 'n mens iets leer deur dit oor en oor te doen."

"Oor en oor," het Sylvia die woorde herhaal, "Dit is die ergste daarvan, en 'n mens doen dit nooit elke keer presies eners nie."

"Kom probeer dit maar weer."

Onwillig het Sylvia voor die klavier gaan sit, en Moeder is terug na haar werk.

Tum-tum-tum. Tum-a-tum-tum-tum-

"Ag! dit help tog  nie! Ek sal dit nooit regkry nie," en sy het in trane uitgebars.

Sy het op die rusbank gaan lê en huil.

Miskien was sy baie moeg, ek weet nie, maar sy was gou aan die slaap. Die volgende ding wat sy gehoor het, was dat iemand haar naam noem van die konsertverhoog af. Die saal was vol meisies in hulle beste rokkies, en Sylvia het geraai dat dit die Kersfeeskonsert moet wees.

"Sylvia Silverton," het die onderwyseres gesê, "sal nou vir ons 'n mooi sonata in D mineur speel."

Sylvia het geskrik. Moet sy speel? Dit lyk so. sy het na haar rok gekyk. Ja, sy het 'n baie mooi rok aangehad wat al die meisies sal admireer. Dit sal ook heerlik weees om op die verhoog te gaan voor hulle almal. Wat die stuk musiek betref, wel, sy sal haar bes doen, en hoe heerlik sal dit wees om almal te hoor handeklap. Miskien sal hulle aanhou klap sodat sy nog 'n stukkie sal moet speel.

Nou het almal handegeklap. Sylvia het gebloos, en sy het vreeslik gelukkig gevoel toe sy by haar vriendinne verby na die verhoog stap. Met 'n glimlag en blosende gesig het sy voor die klavier gaan sit en gekyk na die stuk.

"O, lieweland! Dit was dieselfde stukkie musiek wat sy 'n rukkie tevore aan geoefen het. Hoe het sy nie nou gewens dat sy dit goed geleer het nie! Waarom het sy tog nie deeglik geoefen nie. Sy moes nou maar haar bes doen. Miskien sal die meisies nie die foute opmerk nie.

Tum-tum-tum. tum-a-tum-a-tum-tum-tum. "Ha-ha-ha" het hulle daar agter in die saal gelag. Toe het al die meisies begin giggel, want hulle kon glad nie meer hulle lag hou nie. Dit was te veel vir Sylvia. In haar droom het sy die klavier toegeklap, en van die verhoog af gehardloop.

Klaps!

"Wat makeer?" het Moeder gevra wat die kamer ingehardloop kom. "Jy het die blompot van die vensterbank afgestamp. Sylvia!"

Sylvia het verwilderd rondgekyk en gevra: "Waar is ek? Ek was dan by die skoolkonsert?"

Dit sou beter gewees het as jy geoefen het," het Moeder gesê terwyl sy die blompot optel.

"Ek dink ek sal maar weer probeer om te oefen, Moeder," het Sylvia met 'n sug gesê. "Ek het 'n vreeslike droom gehad. Ek het na die paltvorm gegaan, maar kon nie 'n noot speel nie. Ek sal nou regtig probeer."

Sy het geprobeer. Die konsert was 'n groot sukses.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell