# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Stuur Groete aan Mannetjies Roux

Die Karoo. Ian Roberts. Liefdesverraad. Laurika Rauch. Bestandele vir 'n treffer Afrikaanse drama wat hom in die Kambedoo afspeel. In 'n deel van ons land waar - as jy daar grootword - God jou persoonlik van geduld leer.  En al die stofpaadjies van die liefde word behoorlik uitgeskud. Om te wag. Want, elke ding het sy tyd! Die ding van geduld is, jy moet bereid wees om te luister! En nog te wag.   Stil te word en te luister. Want jy hoor die duidelikste - as God vir jou fluister. 

Eilers se fliek, 'Stuur groete aan Mannetjies Roux', het landswyd op 13 Desember 2013 by Ster-Kinekor teaters begin speel. 

Tant Koba (Anna-Mart van der Merwe) en Oom Frans (Ian Roberts) hanteer die gebreke in hul huwelik op die maklikste manier moontlik: deur nie daaroor te praat nie. Maar, met Engela - 'n jong meisie wat in 'n skoolvakansie daar kom kuier - word dit op 'n spits gedryf. En uiteindelik - soos in die lewe - word hulle gedwing om dit te konfronteer. Maar 'Toemaar', 'n swerwer wat eendag net op die plaas opdaag en 'n muur begin bou, waarsku reeds vroeg in sy eenvoudige lewenswysheid dat, 'n geheim net soos melk is; as dit te lank staan, dit eventueel suur word. 

Die muur word die gom wat al die inwoners én besoekers op die plaas bymekaar hou. Hul keer terug na die muur vir raad. Kom praat by die muur. Kom skel by die muur. Leer belangrike lesse by die muur. En 'Toemaar', die argitek van die muur - bou die muur. Onvoorbereid. Sonder plan. Sonder verskoning. En soos een muur opkom, word baie ander afgebreek. 

Engela (Lizelle de Klerk) moet self op 'n ontdekkingsreis gaan. Sy moet ontdek wie sy werklik is en waar sy vandaan kom. En so, met tyd, ontvou die storie. Agter elke wit leuen, skuil die waarheid. 

Paul Eilers het vir ons 'n juweel gebring. En in die proses word ons meegesleur tussen die heen-en-weer-golwe van die liefde. Laurika Rauch se musiek in die agtergrond - met asemrowende tonele uit die hart van die Karoo, vang een van die mooiste dele van ons land vir ewig vas. En bring jou nostalgies terug na 'n lewe van eenvoud. Plaaslewe. 'n Hiëna wat laatnag saam lag, wanneer die mens voor 'n kampvuurtjie verpoos. In stilte. Dan, in daardie oomblik, vind jy jou God. En vind die waarheid jou.

Christopher Torr en Sallas de Jager, draaiboekskrywers bring ook hulde aan een van ons grootste seuns, Mannetjies Roux. Dis 25 Augustus 1962. Bloemfontein. 60,000 rugby liefhebbers. En Mannetjies Roux Met nommer 11 op sy trui. Dit het alles begin met 'n losskrum in die Sprinbokke se halfgebied. Dis die laaste toets tussen die Springbokke en die Britse Leeus.  Awie Labuscagne van die SAUK het destyds die prentjie oor die radio ingekleur: "Mannetjies Roux is op die middellyn, hy swenk buitentoe en klop vir Cowan, dan sny hy weer binneveld toe by Budge Rogers verby. Dis nog net Willcox voor hom. Roux maak reguit, hy mik kantlyn toe en skiet weer veld in soos 'n blits by Willcox verby. Mannetjies Roux...M-a-n-n-e-t-j-i-e-s R-o-u-x!! Hy is op die kwartlyn. Hy trap vas en duik soos 'n spuitvliegtuig oor die doellyn! Dis 'n drie. Dis mooi. Dis voetbal!"

Oom Frans, wat met heimweë terugdink aan die heuglike dag, versteek ook sy verraad agter die storie. En hy leer ons ook 'n baie kosbare les. "Daar is baie dinge wat ek in my lewe gedoen, waarop ek nie trots is nie. Waaroor ek spyt is. Maar as ek dit nie gedoen het nie, sou baie ander dinge nie hieruit gespruit het nie." En oor hierdie dinge, is ek baie bly." En dit is die boodskap wat jy saam met jou neem, as jy neurie-neurie uit die bioskoop uitstap. "Falling down is part of life; getting up is living."

Treffers van Laurika Rauch word ook op film vasgevang, soos 'Stuur groete aan Mannetjies Roux', 'Stille Waters', 'Die Kinders sing saam' en 'Daar is baie klippe in die Karoo'.

In nabetragting van die film, moet ek erken. Afrikaans het groot geword. Weg is die verkramptheid waarmee die Afrikaner normaalweg op film vasgelê word. Secondhand Citizen. Arm. Uitgeteer. Sukkelbestaan. Dit het plek gemaak vir 'n kultuur wat ryk is aan musiek, mense en ideologie. En was dit nie absoluut lekker om 'n uitstekende produksie in Afrikaans op die groot skerm te kon geniet nie. 

Willem van der Walt, maak sy rolprent debuut, en verdien 'n pluimpie vir sy toneelspel. Stuur Groete aan Mannetjies Roux. Dis Afrikaans. Dis Mooi. Dis Volksbesit! 

Paul Joubert

Regiseur:                       Paul Eilers

Draaiboek:                    Christopher Torr

                                        Sallas de Jager

Rolverdeling:                  Ian Roberts

                                        Anna-Mart van der Merwe

                                        Elton Landrew

                                        Lizelle De Klerk

                                        Steffie Le Roux

                                        Ilse Oppelt

                                        Wilhelm van der Walt

Tyd:                                 99 Minute

Genre:                            Afrikaanse Liefdesdrama

So onthou ek Suid-Afrika

Stuur Groete Aan Mannetjies Roux.mp3