# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Stukkende Brugge

"MOEDER!" het Horace ontsteld uitgeroep, "waarom laat Moeder toe dat daardie vlugteling-kinders in ons huis bly?"

"Ek glo nie hulle sal ons te veel pla nie," het Moeder gesê. "Ek hou van hulle. Hulle is anders en interessant. Ons sal baie van hulle leer."

"Ek wil niks van hulle leer nie," het Horace uitgeroep. "Ek wil hulle ook nie in die huis hê nie. Hulle sal aan al my goed vat en my speelgoed breek, en hulle sal my elektreise trein beskadig! Ek weet hulle sal. Dit sal nooit gaan nie: Moeder moet hulle wegstuur."

"Maar waar kan ons hulle heen stuur?"

"Stuur hulle terug na hulle huise," het Horace baie kwaad gesê.

"Maar hulle het nie meer huise nie. Heel moontlik is hulle huise vernietig?"

Toe het Horace vir 'n oomblik gedink.

"Wel, hoekom het hulle dan nie moeders om na hulle te kyk nie?"

"Hulle moeders sou graag na hulle kyk, maar hulle kan nie," het Moeder gesê. "Hulle moeders is baie hartseer dat hulle nie hulle kinders by hulle kan hê nie. Jy sien Horace, waar hulle woon is dit baie gevaarlik, en dis daarom dat ons gevra is om vir 'n tydjie na die kinders te kyk."

"Maar, Moeder, sal Moeder toelaat dat hierdie kinders die hele huis vol hardloop en alles beskadig?"

"Ek sou eers nie, maar nou gee ek nie meer om nie. Dit is so min wat ons doen terwyl ander, honderde en duisende ander alles verloor het wat hulle het. En weet jy, Horace, iets wat ek nou die dag gelees het, het my baie gehelp."

"Wat was dit?" wou Horace weet.

"Dit was sommer 'n storie; 'n baie, baie treurige storie. Dit was genoeg om 'n mens te laat huil."

"Vertel my daarvan." Horace wou nou baie graag daardie storie hoor.

"Dit het gebeur tydens die inval in België. Die mense daar het van hulle huise gevlug, suidwaarts, na Frankryk. In een dorpie was daar 'n arme moeder met haar twee kinders - een was vyf en die ander een agt jaar. Hulle het hulle huis so haastig verlaat as wat hulle kon, en hulle het oor die brug na die oorkant van die rivier gegaan. Net toe hulle anderkant kom, het die moeder skielik onthou dat sy haar persoonlike dokumente vergeet het - die dokumente wat alle besonderhede omtrent 'n mens gee, en inligting wat die polisie nodig het in sommige lande. Bang dat hulle haar en haar kinders toegang tot Frankryk mag weier, het die moeder die kinders daar gelaat en teruggehardloop huis toe om die dokumente te gaan haal. Sy het hulle gou gevind, en sy is dadelik weer terug. Net toe sy by die brug kom, het sy 'n luide ontploffing gehoor en die brug is in die lug geblaas. Dit is deur die soldate gedoen.

"Terwyl die arme moeder daar staan, kon sy haar twee kinders oorkant alleen sien staan, en sy kon nie na hulle toe gaan nie. Sy het haar so bekommer oor die kinders dat sy van haar verstand af geraak het."

Toe Moeder klaar was het sy gesien dat daar trane in Horace se oë is.

"Vandat ek daardie storie gelees het," het sy gesê, "het ek nog altyd aan daardie twee kinders gedink wat nie kon teruggaan na hulle moeder nie omdat die brug agter hulle stukkend was. Hulle het by ander vlugtelinge aangesluit en tevergeefs gesoek na hulle moeder en hulle huis wat hulle nooit weer gevind het nie. Ek weet dat as ek hulle eendag kry, sal ek hulle in my huis inneem en hulle liefhê. Sal jy nie ook nie, Horace?"

"Ek sal," het Horace gesê. "En ek is seker dat ons baie mooi vir hulle sou sorg. Maar aangesien ons hulle nou nie kan vind nie het ek gedink dat ons ons deel kan doen deur hierdie ander kinders te versorg wat hulp net so nodig het."

"Ja, ek sien," het Horace gesê. "Miskien is die brugge agter hulle ook opgeblaas."

"Hulle is," het Moeder gesê. "Hulle kan nooit weer teruggaan na die ou lewe wat hulle voorheen geken het nie. Alles sal nou vir hulle anders wees, en nou het ons vir 'n klein rukkie die geleentheid en voorreg om hulle gelukkig te maak. Sal ons nie probeer nie?"

"Ja, natuurlik," het Horace geantwoord.

"Ek het gweet dat dit jou antwoord sou wees," het Moeder gesê. "En dit sal 'n baie groot seën vir ons bring! Eendag het Jesus gepraat oor die arm mense met stukkende brugge agter hulle - die hongeriges, die dorstiges, die vreemdelinge, die siekes, en die gevangenes; aan diegene wat hulle versorg en in hulle huise geneem het, het Hy gesê: "Kom, julle geseëndes  van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle toeberei is van die grondlegging van die wêreld af."

"Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het jull edit aan My gedoen." Matt.25: 34,40.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell