# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Steve se Selfaansitter

Steve was nie 'n slegte seun nie, maar daar het een ding by hom ontbreek, hy het 'n selfaansitter kortgekom.

Miskien is dit nie heeltemal reg om te sê dat hy glad nie een gehad het nie, want wanneer daar gespeel moes word, het hy 'n selfaansitter gehad wat uitstekend gewerk het; of wanneer sy moeder hom na die winkel gestuur het om lekkers te gaan koop, dan moes julle gesien het waar trek Steve. Maar wanneer Moeder hom gevra het om briewe te gaan pos, wel dan wou Steve se selfaansitter nie werk nie.

Beide Vader en Moeder het lankal agtergekom dat as Steve iets wou doen vir homself, het hy geen moeilikheid ondervind nie, maar wanneer hy iets moes doen vir ander, het hy sommer baie ekskuse en besware gehad.

Miskien ken julle ook 'n seun of dogter wat soos Steve is. Ek wonder! Steve se Vader en Moeder het glad nie gehou van hierdie streek van hom nie, en hulle het gewonder wat hulle kon doen om sy selfaansitter behoorlik te laat werk. Wel, eendag so teen die einde van die somer, het Vader besluit dat dit tyd was om die amandels af te pluk van die groot amandelboom in die tuin, want die amandels het al begin afval, en dit was 'n teken dat die oes ingesamel moes word.

Dit was net die werk vir Steve, het hulle gedink. Al wat hy moes doen was om die amandels met 'n lang stok af te slaan, en hulle dan in 'n emmer op te tel. Vader was seker dat Steve van die werk sou hou, maar hy het hom misgis, want Steve se selfaansitter wou weer nie werk nie. As Vader hom gevra het om die boom te klim, wel dan sou dit heeltemal 'n ander saak gewees het, want Steve het daarvan gehou om boom te klim.

Steve het vir 'n rukkie amandels afgeslaan, en toe het hy met 'n ander seun gaan speel en skoon vergeet van die amandels wat hy moes afslaan. Toe Vader daardie aand by die huis kom van werk af, wou hy weet hoeveel emmersvol amandels die boom opgelewer het. Steve het nie geweet nie, want hy het hulle nog nie gepluk nie. Hy was die hele dag te besig, het hy gesê; en wat meer is, hou hy nie eintlik van daardie soort werk nie.

Toe het Vader Steve as volg aangespreek: "Kyk hier, Steve, ek is nou net moeg van jou streke. Wanneer ek jou vra om amandels te pluk, verwag ek dat jy dit sal doen en jou nie met ander dinge sal besig hou nie. As jy nie die amandels dadelik pluk nie, sal die eekhorinkies alles wegdra - hulle het seker al baie weggedra. Ek sou jou sterk aanraai om daardie selfaansitter van jou more te laat werk, of sake mag vir jou baie skeef loop. Daardie stok waarmee jy die amandels moet afslaan kan miskien vir 'n ander doel gebruik word."

Toe het Vader met Moeder gaan praat, en Steve het hom iets hoor sê oor spaar die roede en bederf die kind. Steve het toe begin dink of die tyd nie miskien aangebreek het om 'n bietjie meer gehoorsaam te wees as in die verlede nie. En ook het hy gedink dat hy nie die eekhorinkies sou toelaat om al die neute weg te dra nie.

Die anderoggend vroeg, terwyl Vader en Moeder nog in die bed was, is daar hard aan hulle kamerdeur geklop. Hulle het skielik regop gesit en gewonder, wat aan die gang was. Toe het die deur oopgegaan, en daar het Steve gestaan, met 'n breë glimlag op sy gesit. By hom het hy 'n groot emmervol amandels gehad.

"Ek het al die amandels afgepluk," het hy gesê. "Ek het vyfuur vanmore opgestaan en al die amandels afgepluk!" het Steve opgewonde gesê. Steve se selfaansitter het tog eindelik begin werk!

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell