# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Steve Hofmeyr 

Steve Hofmeyr (gebore 29 Augustus 1964 in Pretoria) is 'n Suid-Afrikaanse sanger, liedjieskrywer, akteur en kampvegter vir Afrikaans. Sedert 2006 is hy ook die gasheer van die KYKNET program Dis Hoe Dit Is met Steve.

Nadat hy in 1982 aan Grey Kollege in Bloemfontein gematrikuleer het, het hy twee jaar lank militêre diens in die weermag verrig, waarna hy by die Technikon Pretoria se dramaskool gestudeer het. Hier het hy in 1986 'n diploma in drama behaal. In 1998 het Hofmeyr met die aktrise Natasha Sutherland getrou; die egpaar het twee seuns, Sebastian (gebore op 13 Desember 2001) en Benjamin (gebore in 2003). Hulle is sedertdien geskei. Steve het weer geluk gevind en is in Januarie 2014 weer getroud met Janine.

Natasha (Steve se eks) het in 2009 ‘n boek geskryf getiteld Bittersweet. Dit handel oor haar lewe, haar struwelinge en sy gee advies vir vrouens oor hoe om dit te verwerk as jou man jou verneuk. 

Steve het die redaktrise van You/Huisgenoot, Esmaré Weideman, en artikels wat gepubliseer is in haar tydskrif, blameer vir sy egskeiding. Hy het selfs so ver gegaan om by die Mej. SA finale ontbyt nonchalant ‘n koue koppie tee oor haar uit te gooi. Esmaré het regstappe geneem teen Steve vir sy aksie.

Sy selfgeskrewe, tweetalige debuut album Desertbound verskyn in 1989, voordat hy die daaropvolgende jaar die rol van ongeluksvoël Bruce Beyers in Franz Marx se gewilde TV reeks Agter Elke Man los slaan. Hy vertolk ook later die rol van Doug Durand in Egoli: Plek van Goud.  

Hofmeyr se musiekloopbaan het reeds vroeg in sy lewe begin: hy het as jong seun in die kerkkoor gesing en reeds op 11-jarige ouderdom begin om musiek te skryf.

In 1997 sien die vrystelling van sy volgende album, Only Me, die lig en hy sing ook die temalied vir die rolprent weergawe van Agter Elke man. Soos wat die jare verloop, stel Hofmeyr vele albums vry en ontvang hy menigte nominasies en toekenings. 

In 1997 tree hy tot die internasionale musikarena toe met die duet You Don’t Bring Me Flowers wat hy saam met die Belgiese superster Dana Winner vir sy album True to You opgeneem het. Hierdie snit is ook in Nederlands (Vroeger Bracht Je Bloemen) opgeneem en het die nommertwee-posisie in die Belgiese "Top 100" behaal. Alle kaartjies vir Dana en Steve se gesamentlike optredes op die verhoog in België en Suid-Afrika was uitverkoop. Een van Steve se eie liedjies was ook 'n treffer vir Dana in Europa. 

Steve Hofmeyr het in 2001 deur Suid-Afrika getoer met Beautiful Noise wat die lewe en musiek van Neil Diamond uitbeeld. Hy het in dié jaar ook sy DVD met dieselfde titel uitgereik. Die toer was 'n groot sukses met 224 konserte waarvan alle kaartjies uitverkoop was. Van die liedjies wat Hofmeyr self geskryf het, is 150 reeds deur Suid-Afrikaanse en internasionale kunstenaars opgeneem.

Hofmeyr het reeds drie digbundels geskryf, maar slegs een, Valkuns, is in 1997 deur Human & Rousseau gepubliseer. Oor dié bundels sê hy: "Ek het min illusies: hulle's nog ver van reg af" en "Ek’s nie 'n grootse digter nie. Hulle is eintlik maar net ekonomiese liedjies of gekondenseerde lui gedagtetjies!"

Steve is ‘n afstammeling van Generaal Louis Botha, die eerste Eerste Minister van Die Unie van Suid-Afrika in 1907. Politiek is dus in sy bloed. 

Toekennnings:

2003: ATKV Beste Onderhoud in 'n Tydskrifprogram: as onderhoudvoerder in die KYKNET reeks Dis Hoe Dit Is, wat in 2002 uitgesaai is.

2004: SAMA-toekenning vir die bes verkopende kunstenaar vir die album Toeka (165 000 eenhede verkoop).

2004 Solidariteit se "Grootste Bydrae tot Bevordering van Afrikaans"-toekenning

2005 (GMT)Geraas-toekennings: Beste verkope in 2004 (vir die CD Toeka 2)

2005 (GMT)Geraas-toekennings: Liedjie van die jaar (Pampoen).


CD'S Op Die Rak

25. The Country Collection: If you could read

24. Toek III 2013

23. 25 Jaar se Bestes 2012

22. Haloda 2011

21. Duisend en Een 2010

20. Waarmaker 2007

19. Laaities en Ladies 2007

18. Grootste Platinum Treffers 2005

17. Toeka II 2004

16. Toeka 2003 

15. Engele om Ons 2002 

14. Grootste Treffers Vol. 2 2000

13. Beautiful Noise 2000

12. Southern Cross 1999

11. Close to You 1997

10. Die Bloubul Song 1997 

9.  True to You 1997

8.  Decade of Steve Hofmeyr 1996

7.  Tribute Vol.2 1994

6.  Die Treffers 1994

5.  Tribute 1993

4.  No Hero 1992

3.  Steve 1991

2.  Only Me 1990 

1.  Desertbound 1989