# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Sterwende Moeders

'n Tydjie gelede het ek 'n merkwaardige verhaal gelees van 'n arme Moeder wat amper van honger gesterf het.

Het sy in die woestyn verdwaal? O nee!

Was haar man werkloos met die gevolg dat hulle geen geld gehad het nie? Nee.

Hierdie Moeder het in 'n pragtige huis in een van die mooi voorstede van 'n groot stad gewoon. Haar man het genoeg geld verdien en sy het 'n klompie gesonde, sterk kinders gehad.

Nou sal julle seker vra, hoe het die Moeder dan amper van honger gesterf?

Maar dis waar; sy het amper.

Toe die oudste dogter eendag opmerk dat haar Moeder nie te gesond lyk nie, het sy haar dokter toe geneem. En wat dink julle het die dokter gesê?

Hy het gesê, "my dogter, jou Moeder ly honger. Gaan huis toe en kyk maar gerus."

Ly honger! Die dogter kon dit nie glo nie. Hulle het dan so baie kos. Dis onmoontlik!

Maar die dogter het besluit om haar Moeder fyn dop te hou. En wat dink julle het sy opgemerk? Kan julle raai?

Tydens die middagete het sy mooi opgelet. Moeder het die kos ingebring. Dadelik het stemme begin skreeu.

"Ek hou nie van kool nie," het een gesê. "Ek wil nie aartappels hê nie," het 'n ander geskreeu. "Ek wil daardie aartappel hê," het 'n derde geskreeu, terwyl 'n vierde gekla het omdat hy nie soveel as die anders gekry het nie.

Die lawaai was oorverdowend en arme Moeder, moeg van al die gepruttel, het die beste van alles wat sy voorberei het, vir die kinders uitgedeel. Sy moes tevrede wees met die wat al die ander nie wou hê nie. Sy het waarlik honger gely sodat die ander kon tevrede wees.

Wel, die oudste dogter het eers niks gesê nie; sy het maar net die spulletjie so sit en bekyk. Maar later het sy losgetrek en hulle vertel net wat sy van hul maniere gedink het. En weet julle wat? Hulle het almal gesê dat hulle dit nie opgemerk het nie!

Hulle was almal so besig om hulleself te help dat hulle nooit aan Moeder gedink het nie.

Maar toe hulle eers gesien het wat aangaan, het dinge verander. Hulle het almal gesê: "Natuurlik moet Moeder eerste gehelp word aan die tafel. Moeder werk die hardste en moet dus die beste kos kry."

En so het daardie arme Moeder wat honger gely het, eindelik gekry wat sy verdien het. Van toe af is sy eerste pleks van laaste bedien. Die kinders het haar bedien en nie sy vir hulle nie. Sy het op die sagte en nie op die hardste stoel gesit nie. Sy kon van die lekkerste kos kry in plaas van te eet wat oorgebly het.

En gevolglik het sy begin beter word; en ek is seker almal in daardie huis was gelukkig omdat hulle nie meer so selfsugtig was nie.

Maar ek wonder hoeveel ander Moeders is daar nie wat stadig van honger te midde van oorvloed sterf nie!



Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell