# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Skoonheid vergaan

Marietjie het baie goed geweet dat sy niks op die kas in Moeder se slaapkamer moes aanraak nie.  Herhaalde kere het Moeder haar gesê om dit nie te doen nie, veral sedert sy een van die pragtige blompotte gebreek het.

Maar Marietjie het gou verget en sy het baie daarvan gehou om al die mooi goed op moeder se kas voor die spieël te bewonder. Ten minste sy het gedink hulle maak haar mooier as haar eie goed en sy het daarvan gehou om mooi te wees. Ek dink die meeste klein dogterjies is maar so.

Hierdie besondere agtermiddag het sy 'n poppartytjie gereël en haar maatjie, Joy, sou by haar kom eet. Natuurlik het sy gedink sy moet haar so mooi maak as sy kon en moeder sal nie hierdie een maal omgee nie.

Toe sy dus merk dat Moeder in die kombuis besig is, hte Marietjie die kamerdeur saggies oopgemaak, ingegaan, die deur toegemaak en op haar toontjies spieëlkas toe gestap.

Watter mooi goed het Moeder nie gehad nie! Daar was die handspieëltjie met die silwerhandvastel. Die haarborsel het ook 'n silwerhandvastel. Dan was daar die bottel parfuum. marietjie het ook sommer die gomlastiekballetjie gedruk.

"A," sê sy en sy glimlag toe die parfuum uitspuit. "Hoe lekker! Sal Joy nie jaloers wees as ek so lekker ruik nie!"

Sy het maar aangehou druk totdat sy oral op haar gespuit het. Om die waarheid te sê, het sy dit bietjie oordryf.

Toe het sy haar hare begin opmaak. Hoe lekker het dit nie gevoel om jou hare met 'n borsel met 'n silwerhandvastel te kam nie! sy was oortuig dat sy nog nooit tevore haar hare so mooi gekam het nie en sy het amper haar neus teen die spieël gedruk om mooi te kan sien.

Nadat sy haar hare geborsel en gekam het, het sy rondgekyk of daar nie nog iets was wat sy kon gebruik nie. Een na die ander het sy al die klein botteltjies en potjies oopgemaak.  A! poeier! Hoe lekker ruik dit nie! Byna nt so lekker soos die parfuum.

marietjie was nie heeltemal seker hoe om dit te gebruik nie; en dit het baie gelyk soos die poeier wat Moeder vir die babatjie gebruik en sy het besluit om dit te probeer.

Maar sy het nog skaars die poeierkwassie opgetel of 'n sagte geluidjie agter haar het haar laat omkyk. Dit was die eur wat oopgegaan het. Sy het goed geweet wat dit beteken. Haastig het sy die poeierkwassie neergesit, die deksel weer op die potjie teruggesit en dood onskuldig weggestap.

"Is jy alweer in Moeder se slaapkamer, Marietjie?" het Moeder streng gevra. "Wat maak jy hier?"

"Niks nie Moederlief; ek het net my hare geborsel."

"Het ek jou nie gesê om niks hier aan te raak nie?"

"Ja Moeder."

"Jy was nie in babatjie se poeier nie, né?"

"E-nee, Moeder."

"Marietjie, kyk in die spieël."

Marietjie het stadig omgedraai en in die spieël gekyk.

"O, dis hoe Moeder weet!" het sy verbaas uitgeroep toe sy haar witgepoeierde gesiggie sien.

"Marietjie", het Moeder gesê, "daar is 'n spreekwoord wat sê, "skoonheid vergaan maar deug bly staan."

'n Ongehoorsame dogtertjie is nooit mooi nie; en 'n dogtertjie wat jok, is nooit mooi nie, al maak sy haar toe onder poeier en parfuum. Om eerlik te wees en die waarheid te praat, beteken baie meer as om jou gesig mooi te maak. Jy kan nou nou ou klere aantrek en my in die kombuis kom help."

"Maar wat van die partytjie? Joy sal netnou hier wees!" het uitgeroep.

"Klein dogertjies wat nog nie geleer het om gehoorsaam te wees en om die waarheid te vertel nie, kan nie partytjies hê nie," het Moeder gesê.

"Ag, Moeder! Ag, ek is so spyt!" het Marietjie huilend gesê.

"Miskien sal my klein dogtertjie leer om in die toekoms gehoorsaam te wees," het Moeder gesê.

En sy het.

Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell