# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Selfmoord 2

Was dit selfmoord? Wie sou weet? En as dit was, waarom was dit? Maar dis alles alles normaal as 'n mens 'n busbestuurder is. Ek is. In hierdie besondere geval moes ek my vrag toeriste gaan aflaai in 'n gesogte kusdorp. Dit was reeds aand 'n ruime blou aand toe ons die laaste nek in die rits berge oorsteek en afdaal die draaie af na die see. 'n Lang vrou het op die bank net agter my gesit en elke dan en wan leun sy vorentoe en lek aan die bel van my oor. In die agtertoe-kykspieëltjie kon ek sien hoe haar eggenoot se gesig opblaas en verrooi. Maar dis deel van 'n busbestuurder se roetine. Ek het my mense afgelaai voor die hotel waar ons almal die nag sou tuisgaan dit was 'n reuse-plek. Swartjas hotelbeamptes wag ons in ene pikkewyne en miskien omdat die hotelkamers identies is val dit toe so dat ons 3 (lang vroue eggenoot en ek) (maar hy wis dit nie) in dieselfde kamer te lande kom. Maar dis deel van 'n busbestuurder se roetine. En teen die tyd dat hy hulle swaar koffers die trappe opgesleep het was die lang vrou en ek reeds die venster uit oor die afdak af laer op 'n ander dak af met die brandtrap deur die hoteltuin en op die strand. Die nag was fantasties mooi en verlig deur 'n onaardse blou maan agter die berge op iedere bergtop hurk 'n wit geheimsinnige stad die koepels glim in die lig en oor ons kan plesierige dansmusiek hoor uitsypel uit die stede en af na ons toe. Eendag so sê die lang vrou sal ons net twee swart figuurtjies wees in die strate van een van die stede op 'n bergspits. Toe gaan lê ons op die warm sand en vat aan mekaar se lywe dis alles normaal as 'n mens 'n busbestuurder is. En as die nag laat is loop ons terug na die hotel. Swartjas hotelbeamptes ene pikkewyne wag ons in en vertel ons benoud dat 'n sekere eggenoot huilend navraag kom doen het na sy vrou en dat hy dan kwansuis 'n vreemde man se pet in sy kamer sou aangetref het en hy het 'n graaf kom leen want hy sou optrek en die donder se kop gaan afspit en hy het die venster uitgeklim die afdak af laer op 'n ander dak af met die brandtrap en deur die hoteltuin tot op die strand. Ek het die hotelbemaptes verseker  die man is 'n gek en die hoofkelner 'n fooi in die hand gestop en ons het almal daaroor gerunnik. Toe klim die lang vrou en ek op na ons kamer en gaan lê die bed warm en vat aan mekaar se lywe. Dit is alles deel van 'n busbestuurder se roetine. Die eggenoot het nie weer sy opwagting gemaak nie. Die graaf het ons die volgende môre aangetref langs 'n vars omgedolwe hopie sand. Blykbaar het hy daar 'n graf gegrawe met die bedoeling om my afgespitte kop daarin te plant en ons toe voorgelê. En 'n seeskilpad wat in die vroeë môre op die sand uitgekruip het het hom verwar met 'n eier en hom in die graf afgestoot en toegeskop. Daar was nog slegs 'n swak skopping onder die hopie. Maar ons moes verder en kon nie vertoef nie. Ek het 'n nuwe vrag mense opgelaai om hulle die nek in die rits berge oor te karwei na 'n gesogte rivierdorp. 'n Kort vrou op die sitplek agter my het elke nou en dan vorentoe geleun en my in die nek gebyt. In die agtertoe-kykspieëltjie kon ek bemerk hoe haar man se gesig opblaas en verblou. Maar dit alles normaal as mens busbestuurder is. 

Breyten Breytenbach