# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

 
SA Topsites ::

Rekspring

Hierdie springspeletjie word graag deur kinders van alle bevolkingsgroepe gespeel. Dit is veral ook in Frankryk baie gewild. Dit word so gespeel: twee spelers staan regoor mekaar, omtrent 'n meter en 'n half van mekaar af. Hulle gebruik 'n lang rek wat by die punte vasgeknoop is.
Eers sit hulle die rek om hulle enkels. Hulle staan met hulle voete effens van mekaar af sodat die rek styf span. Die eerste springer spring nou met voete bymekaar van buite af oor die kant van die rek na binne terwyl sy sê: "Engeland".
Dan spring sy met die voete uitmekaar sodat elke voet buite die rek land, en sê: "Skotland". Die derde sprong is weer met die voete bymekaar tot in die sirkel van die rek terwyl die springer sê: "Ierland".
Daarna volg "Wallis" met die voete buite die sirkel. Die springer spring verder terwyl sy sê: "Inside, outside, inside, on." Wanneer sy "inside" sê, spring sy na binne, en wanneer sy "outside" sê, spring sy buitentoe. By die woord "on" spring sy en trap die rek met albei voete op die grond vas. 
Die rek word nou na die kuite en daarna die knieë opgeskuif, en die spronge word herhaal. Algaande word die rek al hoër na die middellyf opgeskuif en die speler wat nie 'n sprong kan voltooi nie, val uit.