# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Geen Groter Liefde - Racheltjie de Beer

Die winter van 1843 was straf  - van die strafste wat hulle in die jare beleef het in die gebied van die opgestapelde rotse, die Quathlamba, of Drakensberg, soos die Boere die wêreld van die torende spitse genoem het.

Waar die sestienhonderd kilometer lange Drakensberg sy rug krom maak en 'n kom vorm alvorens hy skuinsweg-suidwes in die rigting van Kaapland loop, het die plaas van Hendrik de Beer en sy vrou, Martha, gelê. Die sneeu het aanhoudend geval en die bergpieke het vaagweg deur die dynserighed hul kruine opgehef en die omliggende velde oorheers waar Hendrik de Beer tam en yskoud aangery het na die opstal. Sy perd se maanhare was spierwit en op die breë skouers van Hendrik se molvelbaadjie het die sneeu dik gelê.

Vreemd dat hy nou juis aan Anton moet dink: sy neef Anton de Beer wat in die Vrystaat agtergebly het. Hy het hom nog gewaarsku dat daar nie voldoende weiding vir sy beeste is nie, maar elkeen moet maar sy eie kop volg en stamp indien hy nie wil luister nie. met 'n wrange glimlag kyk hy om hom heen: op die oomblik is hier ook nie veel weiding nie, maar sy skure is vol, want hier is die aarde vrugbaar en die deurwekende sneeu laat die gras hoog groei - soms tot hier aan sy perd se bors. 

Hendrik de Beer versorg eers sy vee, lei dan sy ryperd na die stal waar hy hom goed droog afvryf en voer gee en stap dan groot en bonkig met lang treë aan na die agterdeur waar Martha op hom wag. Sy spore lê diep in die vallende sneeu en hy blaas op sy hande om hulle warm te maak. Anton, hoe sou hy vaar?

'n Brief in hierdie deel van die wêreld en onder hierdie omstandighede is 'n gebeurtenis en tog is dit presies wat Martha hom toereik toe hy die huis binnegaan.

"Drink eers jou koffie voordat jy dit lees," sê sy vrou, maar haar oë glinster van nuuskierigheid. "Ek lees dit sommer terwyl ek drink," antwoord Hendrik. Hy is verwonderd dat sy vingers bewe terwyl hy die koevert oopskeur. Sy oë gly oor die woorde heen.

"Onthou jy nog, vrou, dat ek Anton destyds gewaarsku het toe hy daar in die Vrystaat wou agterbly? Dis nie 'n goeie deel daardie nie. Hierdie brief is van hom, lees maar self," en hy oorhandig die brief aan haar. Hulle kry glo swaar en nou wil hy 'n ruk lank hier by ons kom bly en na beter weiveld soek. Waar moet ons hulle huisves? Kyk, dis nie net hulle twee nie, maar hulle het ook 'n dogtertjie Rachel wat maar twaalf jaar oud is en klein Hendrik wat hy na my vernoem het. Die outjie is nou maar 'n jaar of sewe?" Hendrik se voorhoof frons en hy tuur peinsend voor hom uit: "En tog moet ons hulle help."

"Dit is mos nie 'n probleem nie, Hendrik, hulle kan in die leë rondawel intrek. Ek sal nogal bly wees om hulle hier te hê."

"Eensaam, vrou?", vra hy met 'n tikkie besorgheid.

"Saam met jou? Nee, nie dit nie, maar..."

Hendrik glimlag breed en begrypend; "Dan maak ons maar so," en hy drink sy tweede koppie warm koffie, en loer tergend na Martha. 'n Paar weke later het Anton de Beer, sy vrou en kinders aangekom. Die wa was swaar gelaai, want hulle het vir goed vertrek uit die onherbergsame deel waar hulle swaargekry het. Anton de Beer het maar dertig stuks vee gehad, 'n paar skape en 'n halfdosyn perde. Dit het nog gesneeu toe hulle by Hendrik-hulle aankom en Anton het sy bedenkinge gehad. Hy was bekommerd oor sy vee, maar Hendrik het gelag, sy neef se hand styf vasgevat en hom moed ingepraat. "Lyk maar sleg, ne? Man, binne 'n paar maande sal jy nooit weet dat dit gesneeu het nie, en dan gaan jou beeste moddervet word."

"Die eerste ruk sal jy versigtig moet wees, want jou beeste ken nog nie hierdie wêreld nie en hulle kan maklik verdwaal in die sneeu, maar daarna! Ou Anton, jy sal hulle moet aanrol kraal toe. Ek het in die begin ook maar noustrop getrek. Dis die koue wind wat deur die klowe waai wat die beeste laat verkluim. Kos maar net 'n bietjie waaksaamheid en harde werk, dis al, en jy is mos nie bang vir werk nie."

Hendrik se aanmoediging het Anton de Beer gou gerusgestel, en daardie aand in die rondawel toe Anton se vrou presies deiselfde bedenkinge opper, was dit weer sy beurt om haar te troos: "Ek sal die vee soos goud oppas. Daarbenewens ken Hendrik mos hierdie wêreld en sal hy ons gou touwys maak. Jy sal sien ons sal nie 'n enkele bees verloor nie. Oor kos hoef ons ook nie te bekommer nie, want wild is volop, en Hendrik sal ons aan 'n bietjie koring help, en wie is daar wat beter brood as jy kan bak?"

Sy voel nou meer gerus, want Anton se blymoedigheid en toekomsverwagtinge werk aansteeklik op haar in. "Ja," sê sy, "en hier is baie miershope."

Eers het Anton nie begryp nie, maar toe besef hy wat sy vrou bedoel: daar is geen beter oond as 'n uitgeholde miershoop nie, maar daardie sneeubedekte miershope daarbuite sou nog 'n tragiese rol in hul lewens speel.

Twee weke lank het het die sneeu opgeklaar asof dit Anton die geleentheid wou gee om gewoond te raak aan die omgewing. Moontlik wou die sneeu hom net gerusstel, want een middag net na ete het die groot vlokke weer begin val. Sedert dagbreek al het die wolke begin saampak en nou waai die wind ysig koud en 'n wit mantel sprei hom oor die velde uit. In 'n ommesientjie val die sneeu so dig dat hy skaars die kraal kon sien waar hy sy perde hou.

Anton is nou erg bekommerd, hy moes die vee al eerder laat aanjaag het na die kraal - nou is dit moontlik te laat. Byna verkluim het Anton die rondawel gehaal waar hulle woon. Nog nooit het 'n koppie warm boeretroos so lekker gesmaak nie. Hy voel hoe sy ledemate ontdooi by die knusse warmte van die stoof.  Skielik kom Boesman die veewagter ingestorm. Onder normale omstandighede sou hy dit nooit gewaag het nie, maar dit is duidelik dat hy erg bekommerd is: "Baas Anton, die kalfie hy's weg. Baas weet die kalfie met die bles wat die kleinnonnie grootgemaak het...?"

Racheltjie is sigbaar ontsteld: "Pappie, dit is Frikkie wat weg is! Ons moet hom vind, Pappie!" Anton sug diep. Dit is ellendig dat dit nou juis Frikkie moet wees, want Racheltjie het hom hans grootgemaak, en die kind is juis so geheg aan die diertjie. Dit is byna asof die ander vee nie vir haar bestaan nie. "Toemaar ou dogter, Pa sal hom vir jou vind. Hy kan nie ver wees nie, want hy sou by die ander beeste gebly het."

Racheltjie is alles behalwe gerusgestel, want indien hy saam met die ander beeste was, sou haar vader hom mos ook gesien en na die kraal toe aangejaag het en buitendien wei hy selde saam met die ander vee.

"Pappie, mag ek saamgaan?" huilvra Racheltjie, "Pappie weet mos hy ken my stem en as ek hom roep, sal hy kom." Anton aarsel, maar Racheltjie se moeder weier botweg. Dit is veels te koud en sy sal verkluim. Hy kyk na sy snikkende dogter en sy hart word week: "Ag, Vrou, laat haar maar kom. ek en sy en Boesman sal die kalfie gouer vind as net ek alleen. Racheltjie kan net tot by die spruit gaan waar Frikkie gewoonlik wei; dis nie ver nie en indien sy hom nie daar vind nie, moet sy dadelik terugkom huis toe. Ek en Boesman sal gaan soek waar ons die ander vee gevind het."

Teësinnig het Racheltjie se ma ingestem en toe klein Hendrikkie daarop aandring om saam met Racheltjie te gaan, kon sy hom dit nie weier nie. Daarbenewens het sy meer gerus gevoel as Hendrikkie by Rachel is, want sy weet hoe lief Racheltjie vir haar broertjie is, en indien hy begin koudkry, sal Racheltjie verplig wees om terug te draai. Buitendien het die sewejarige Hendrikkie die veld beter geken as sy ouer suster, want hy het dikwels saam met Boesman gegaan wanneer hy die beeste gaan aanjaag kraal toe. 

Hulle is toe die koue in en Racheltjie se moeder het besorg toegekyk hoe die sneeugordyn die kinders binne enkele sekondes van haar verberg. Sy voel hoe haar liggaam saggies begin beef: die koue natuurlik. Sy wil die tweetjies oppas soos Racheltjie vir Frikkie vertroetel en met 'n effense glimlag draai sy om na die vuur om met die voorbereiding van aandete te begin. Die tweetjies is mos gewoond aan swaarkry en buitendien sal hulle moet begin gewoond raak aan hierdie omgewing. Die spruit is ook nie meer as vierhonderd tree van die huis af nie. Gewoonweg sou sy nie eens 'n tweede keer daaraan gedink het nie, maar indien sy die kinders so gou uit sig verloor het, kan hulle mos ook nie ver sien nie en vrees wil haar opnuut bemeester. 

'n Lang halfuur rek uit tot 'n skynbaar nimmereindigende uur. Nog steeds is daar geen teken van Anton of die kinders nie. Waarskynlik het Anton hulle tog maar saamgeneem. Sy weet hoe Racheltjie oor Frikkie voel. In hierdie wêreld ontwaak die moederinstink op jeugdige leeftyd en Racheltjie se liefde vir die kalfie is vir die moeder begryplik. Hoe korstondig is die jeug tog nie in hierdie woeste, harde wêreld waar alles aan die keiharde natuur ontwring moet word nie. 

'n Kort oomblikkie verlang sy terug na die Kaap en sy betreklike veiligheid, maar gou skud sy die onwaardige gedagtes van haar af.

Sy kyk bly op toe sy voetstappe by die agterdeur hoor. Uiteindelik! Anton kom die kombuis binne en druk haastig die deur agter hom toe. Die ongure wind druk die vallende sneeu tot binne-in die vertrek. 'En het julle hom toe gekry?' is haar eerste vraag. Anton skud sy kop: 'Nee,' sê hy, 'ek weet nie wat van hom geword het nie. Die sneeu is ook so dig dat 'n mens niks kan sien nie. Ek het maar gehoop dat die kinders hom gevind het.'

'Is die kinders dan nie by jou nie?' vra sy met angs in haar stem. 'Ek dog jy het hulle saamgeneem; voor op die perd sou hulle veiliger wees,' en daar is meer as net 'n tikkie verwyt in haar stem. 'Hulle is nog nie terug nie, Anton, waar kan hulle tog wees?' Anton dink aan die koue buite, die aanjaende wind en die verblindende sneeu. Dit voel asof 'n yskoue hand sy hart vasvat. Selfs hy en Boesman het met moeite hul pad teruggevind en Boesman het 'n uitstekende tuiskominstink soos 'n wilde dier wat sy lêplek ken. 

'Nog nie terug nie,' herhaal hy stamelend onnodig, 'maar...' en sy stem veryl by die angs en ontsetting van sy gedagtes. Bleek en koud lê die vrees in hom: die vrees vir die veiligheid van sy kinders, bleek soos die sneeu daar buite en killer as die kilste wind.

Racheltjie en haar broertjie het voortgestrompel deur die sneeu. Hulle voete het swaar gevoel - soos lood, en nog kon hulle die rondawel nie sien nie:
"Ag, Here, wys ons waar's die huis,"

Het Racheltjie gebid;

Maar bo was net die wind wat suis,

En onder alles wit.

Die loeiende wind het haar gebedjie die ruimtes ingeslinger. Steeds dikker het die sneeu geval en eensaam en wanhopig het die twee moeë kindertjies aangestrompel na waar hulle gedink het die rondawel behoort te wees. 

Anton en Boesman is onmiddelik na Hendrik. Daar aangekom het Anton hom die onstellende nuus meegedeel: Rachel en Henrikkie het spoorloos in die sneeu verdwyn. Vir Hendrik de Beer was dit soos 'n doodsvonnis. Gisteraand nog het hy vir Martha gesê: "Ek hoop tog Anton-hulle besluit om hier aan te bly. Ek weet nie wat ek sonder die twee kinders sal maak nie."

"Veral nie sonder Racheltjie nie," het Martha laggend gesê: "Jy weet, Hendrik, sy lyk so baie na jou dat sy jou eie dogter kon gewees het en praat van 'n skaduwee, net waar jy is daar kan 'n mens Racheltjie ook maar soek."

"Daardie dogter het meer vestand as menige volwassene," het Hendrik nog gesê. "'n Mens kan met haar praat asof sy 'n grootmens is. Ek wonder of Anton hulle nie..."

"Racheltjie vir ons wil gee nie?" voltooi Martha sy vraag. "Ai, Hendrik, hoe kan jy dit selfs dink? 'n Mens gee mos nie jou kinders weg nie! Sou jy haar aan iemand anders afstaan as sy joune was?" 

"Nee, maar hulle het dit nie so breed nie. Hier is 'n tog 'n ekstra kamer en..."

"Hendrik, Hendrik," berispe sy hom: "Hulle het vir Racheltjie en indien ons eerlik wil wees, besit hulle juis daarom oneindig veel meer as ons."

En nou is Rachel en klein Hendrikkie iewers daarbuite in die koue, verblindende sneeustorm. Skaars het jy 'n paar tree geloop of die vallende vlokke wis jou spore uit. Haastig roep Hendrik sy werksvolk en die soegtog begin in erns. Elkeen dra 'n lantern en die rand van die een ligvlek raak aan die ander: so beweeg hulle die nagdonkerte in - kleiin, nietige mensies elkeen met sy beperkte lilgkringetjie om hom.

Eers is hulle na die spruit, maar dit was vergeefs. Skote is afgevuur om die kinders se aandag te probeer trek.

Daar is geroep totdat die stemme hees geword het, maar die tierende wind het hul flou stemme koggelend weggevoer die ruimtes in. Racheljtie se moeder het 'n yslike vuur in die agterplaas gemaak en by die ligbaken het 'n wenende moeder in stille hoop gewag op die terugkeer van haar kinders, soos so baie geslagte moeders voor haar ook vergeefs moes wag. 

Later die nag het die sneeu ophou val. Nou was daar hoop dat hulle miskien spoortjies in die sneeu kon vind, maar nêrends was daar enige teken van die twee kindertjies nie. Die dag het eindelik yl oor die bleekwit velde gebreek.

Boeman het eerste die enkele spore gevind. Onmiddelik was Anton en Hendrik by hom. "Hier het die nonnatjie die kleinbasie gedra," beduie hy en sy kennersoog volg die spoor. 

Dit was Boesman met Anton en Hendrik kort op sy hakke wat Racheltjie gevind het. Sy was nakend en het nog net haar skoentjies aangehad. Haar tenger liggaampie was bevrore. Hulle het haar sag en teer opgetel, en toe het hulle die gat in die miershoop gesien. Hendrikkie het daarbinne gelê met Racheljtie se kleertjies oor hom en die skaapvelkaros om sy bene. Hy het nog geleef.

Hendrikkie het later die droewige verhaal vertel. Hulle het in die sneeu verdwaal en naderhand kon hy van uitputting nie meer loop nie. Raceltjie het hom tot by 'n miershoop gedra: "Jy is nou 'n brood," het sy gesê, "nou gaan ek jou warm toedraai en dan gaan ek jou speel-speel in die oond bak soos mamma altyd die brood en die mosbolletjies bak."

Racheltjie het soos saans in die rondawel vir oulaas gekyk of Hendrikkie warm toegedek is en die vallende sneeu en die tierende wind het haar weggevoer na 'n verrre droomland vol wuiwende gras waar Frikkie verspot soos altyd na haar aangehardloop kom. Sy sien hulle eie-eie huisie waar hulle in knusheid die elemente kan trotseer, en waar die velde in immergroen deining uitstrek tot die oneindige toe. Sag soos 'n strelende hand het die sneeu op haar gaan lê.

Jeughelde

P.J. van der Watt

Shuter & Shooter

ISBN 0-86985-360-0

Japie Greyling